VOORBLADINHOUDSTAMBOOMMy Boek

Boek in Wording

Hierdie boek word nog geskryf.
Elke twee weke verskyn 'n deel van die storie van die webeienaar se wereldreise in KAMMANUUS.
Kort daarna, word daardie stukkie hierby ingelas.
So hoop ons aan die einde van die dag word die boek wat ek al so lank probeer skryf, werklikheid.
Dele van dit het reeds verskyn in Ilse Salzwedel se boek Seerowers, Kameelkoppe en Rissies vir Tee
Indien jy kommentaar het, stuur gerus vir my n epos na pos@onsdorp.com ek hoor graag van jou
Party dele gaan kronologies vir eers nie mooi pas nie, later sal ek wel order skep.
Hennie Greeff

HOOFSTUK 1  - Le Soentoe Lesotho 

  Deesdae kry mens hoofsaaklik drie soorte Suid-Afrikaners oorsee: Die wat vakansie hou, die uitgewekenes wat daar moet en wil wees, en die wat tydelik daar werk. Ek staan stewig in die derde kategorie. My uittog is net tydelik, die afgelope 25 jaar lank. In 1990 verlaat hierdie in die Kalahari gebore, in die Kaap getoe klipdokter die Wes-Transvaalse Goudvelde. Gee ek en Kamermaatjie ons eerste babatreetjies in die buiteland. Ek noem dit juis ‘buiteland' want ons het eers ses jaar later eintlik regtig oorsee gegaan, heeltemal uit Suidelike Afrika uit.ʼn Kaapse geotegniese firma met die heel gepaste naam van MJ Mountain, gee my werk in die berge, daar in die tonnels van die Lesotho Hoogland Waterprojek. Ons pak meeste van ons goedjies in Klerksdorp, stoor die res by familie en vriende en daar gaan ons, die vreemde in. Dit was nou darem nie die eerste keer wat ons die landsgrense oorsteek nie. Ek en Kamermaatjie het al ʼn paar keer gaan vakansie hou anderkant die groot water. Die eerste slag was toe ons in 1986 vir ses weke Kanada toe was vir ʼn konferensie oor mynbou en skagte. Hoewel dit ʼn onvergeetlike ondervinding was, het ons sommer al na die vierde week in Toronto begin verlang huis toe. Vir eie kos, eie mense, en eie bed. Hoe sou ons dit dan die keer vir langer uithou? Wat dit seker vir ons makliker gemaak het, is dat ek die eerste ruk maar net oorkant die SA grens gewerk het. Binne twee ure se ry was mens weer terug in die Vrystaat, terug op eie grond. Ons het vir oorle' skoonma ʼn woonstel in Ficksburg gehuur waar ons met ons lang afnaweke kon gaan kuier. Op daardie waterprojek het ons elke einde van  die maand drie of vier dae af gekry om te gaan proviand inskeep in Suid-Afrika. Dit klink mos nou nie eintlik na weg wees nie, maar moenie ʼn fout maak nie.
Sodra mens die dag jou identiteitsdokument wegbere en verruil vir ʼn paspoort, is jy weg van jou mense en weg van jou eie dinge. En dit kos aanpas. Jy is nou  ʼn ekspat en vir ekspats is daar ander reels en ander norme, soos ons vinnig sou leer. Omdat die pakkery in Klerksdorp nog nie klaar was nie en blyplek anderkant die grens min was, het ek vir die eerste maand alleen vooruit gegaan. Die eerste maand bly ek in ʼn hotelletjie in Butha Buthe net oor die grens naby Fouriesburg. Die plekkie was darem skoon maar ek het sommer gou gou die goedkoop plastiek toiletsitplek ʼn paar keer stukkend gesit tot groot ergernis van die eienaar.
Gelukkig was ek net saans daar en vroeg in die oggende weer weg. Elke dag het ons lang ente grondpad gery en as ek aand laat daar aankom, was die holrug enkelbedjie ʼn welkome gesig. Dis daar ook waar ek geleer bottelwater drink het. Vandag sit ek en Kamermaatjie nie meer ons mond aan kraanwater nie.
Die tweede maand sluit Annabelle by my aan en verskuif ons na ʼn woonwahuis in ʼn padkamp in Leribe. Onthou, daardie tyd was meeste blankes in Suid-Afrika nog nooit eintlik regtig tot diep binne in ʼn lokasie nie. Jy het mos net die ousie daar naby gaan op of aflaai as dit moet. In Leribe was ons kamp reg in die middel van so ʼn lokasie. Ons was omring van moddersteenhuisies en gehuggies van sinkplaat. Vandag se plakkerskampe in Suid-Afrika was toe reeds die dorpies van Lesotho. Steeds derdewerelds na meer as twintig jaar se onafhanklikheid. Die kamp het aan ʼn Ierse kontrakteur behoort wat besig was om die teerpad bo-oor die Mafika Lisiu-bergpas te bou. Dis dieselfde pad wat vandag na die Katsedam loop. Mafika bereik ʼn hoogte van 3500m bo seespieel en is gereeld toegesneeu in die winter. Dis ook hier waar ons gereeld die skaars lammervangers opgemerk het.
Langs die sekuriteitsheining om ons kamp is ʼn groot stuk oop grond: Die dorpie se sokkerveld. Die baie skole in die omgewing se kinders het elke middag daar bymekaar gekom en daar was dus gedurig mense en kinders naby die heiningdraad. As agterdogtige witmense uit die ‘beskawing' was ons aanvanklik maar baie senuweeagtig en het ons lig geslaap met die een oog altyd oop.
Leribe is sowat 60km anderkant die grens. Hier kry ons toe ons eerste smakie van hoe dit voel om saam met ander nasies van die wereld saam te leef en te werk. Komende van die myne, waar ʼn swartman net ʼn arbeider is, vind ek skielik hier in Lesotho dat die rolle omgedraai is. Hier is hy nie net my eweknie nie, hy is ook my baas. Dit kos drastiese en vinnige aanpassing. Al ken hulle ook die myntaal Fanagalo, sal niemand hier erken dat hy dit verstaan nie. Nie hier tussen sy eie mense nie. Dis die taal van die onderdrukker en die slawedrywer daar op die myne. Dit was ons eerste en belangrikste les van in die buiteland werk. In ʼn ander man se land is en bly jy die besoeker. Gedra jou soos een en jy word aanvaar. Om die mensemengsel net meer interessant te maak, is die plek ʼn internasionale gemeenskap in die kleine. Duitsers, Franse, Russe, Italianers, Filippyne, Sjinese, almal saam in ʼn klein konstruksiekampie. Gelukkig was daar ook ʼn klompie ander Suid-Afrikaners op soek na groener weivelde en beter soldy. So ons kon steeds op ʼn manier laer trek in tye van nood, hier in Dingaan se stat. Dit was egter net die regte mengsel van kulture om ons te speen van ons gemaklikheid en ou gewoontes en so word ons stelselmatig uit die loopgraaf gelig.
Terwyl hulle ons permanente kamp naby Ha Lejone bo op die berg bou, moes ek daagliks pendel met ʼn viertrek Toyota bakkie, die gevestigde en erkende werkesel van die projek.  Dit het egter langer geneem om werk toe en terug te ry as om regtig te werk. Ons kantore het bestaan uit twee skeepshouers wat langs die rivier afgelaai is. Die Malibamatso rivier en vallei was nog heel ongeskonde en mens kon jou skaars indink dat daar oor slegs ʼn paar jaar, ʼn reuse lang dam sou wees waar daar toe net ʼn rivier was met klein nedersettings hier en daar en ʼn paar mielielande teen die boomlose berghange. Daar is amper net so min bome in Lesotho as wat daar krokodille is. En daar is geen krokodille nie. Al het hulle ʼn krokodil op hulle vlag, is daar geen rekord dat daar al ooit een in Lesotho opgemerk was nie. Hulle hou egter vol daar lewe ʼn monster en ʼn bielie van ʼn tanneman in die Malibamatso rivier!
 Sommer gou kom die eerste beproewing. Daar breek xenofobiese onluste in Lesotho uit. Buitelanders en veral die Sjinese en Indiër winkeleienaars word geteiken deur die plaaslike bevolking. Daar word klip gegooi en plekke word afgebrand. Skote klap. Mens wil nie regop loop in die huis nie want die mure is maar van dun karavaan-aluminium gemaak. Ons beweeg gebukkend en net as ons moet.  Daar word lê plat op die vloer wanneer die skote te naby klink. Padblokkades word opgestel deur die weermag. ʼn Klokreël word afgekondig en almal moet lank voor donker weer terug wees in die kamp. Na die derde dag van onluste en plunder, klop daar teen skemeraand iemand dringend aan ons ‘parkhome' se deur. Ons eenheid staan juis sommer neffens die kampdraad. Met ʼn onstuimige hart besluit ek om maar oop te maak. Wat anders kan mens doen? As hulle wil inkom sal hulle ʼn manier vind.
Ek maak die deur op ʼn skrefie oop, die grootste kombuismes in die hand. Voor my op die trap staan ʼn beteuterde Filippynse familietjie van drie mensies. Die Pa is ʼn voorman wat saam met ons werk. Hy vra my met angs in sy oë of hulle maar kan inkom. Hulle dogtertjie is popklein. Ons bied koffie aan en bewerig vertel hulle hoe hulle moes vlug uit hulle huis in Leribe want hulle word as Sjinees aangesien. Dis juis die Sjinese wie aangeval en wie se winkels afgebrand word. Toe die kleintjie die woord Sjinees hoor, staan sy skielik regop en ruggie agteroor gebuig, verklaar sy trots-kwaad, "Me no China, me pilliepieno!" Van kleins af dus kan die Filippyne nie die letter ‘f' uitspreek nie, hy word as ʼn ‘p' uitgedruk in hulle spreektaal. Ek nooi hulle om oor te bly. Duidelik dankbaar vertel hy my van sy en sy familie se noue ontkoming, hoe die plaaslike bevolking hulle ook onder die klippe gesteek het en met messe gedreig het. Ons het gelukkig ʼn klein spaarkamertjie en so bly hulle ʼn hele week by ons tot dinge weer begin bedaar. Die Lesotho weermag het saam met die klokreël ook oral padblokkades opgestel. Saam met sukkel kom darem die lekker ook. Waar ek gewoonlik oggende reeds voor sonop pad gevat het berge se kant toe, moes ek nou noodgedwonge bly tot na ʼn heerlike brekfis wat kamermaatjie aanmekaar geslaan het.

Soos ek laas genoem het , pendel n paar van ons daagliks oor die Mafika pas wat ook self in aanbou is. Soggens vroeg is dit meestal skool kinders wat mens langs die pad kry. Omtrent almal het een of ander uniform aan. ʼn nalatenskap van die menigte sendingstasies en die Britse koloniale invloed. Lesotho is een van die lande in Afrika met die hoogste geletterheid op die kontinent maar die tragiese deel is dat daar nie werk is vir die meeste nie. Hoewel daar streng instruksie is dat ons nie mag mense langs die pad oplaai nie, kan ek soms dit net nie oor my hart kry om net verby te ry nie. Veral nie as dit een van daai snerpend koue Lesotho oggende is met die windjie reguit uit die Suidpool nie. Die probleem is almal wil opklim as jy stop, so mens moet maar n groepie kies wat nie die bakkie gaan oorlaai nie. Natuurlik wil daar ook so veel moontlik van hulle voor in klim en daar word nogal fluks gestoei voor die vier of vyf vinnigstes en wakkerstes, jou styf teen jou kant se deur vaspen soos hulle nog n laaste enetjie inpas. Dan maak ek darem ook seker hulle kant se deur mooi toe is en ek sien dat elkeen agterop sy sit gekry het. Almal styf teenmekaar soos opgepofte mossies op n draad.
In die laaglande was daar juis n ongeluk waar een van my kollegas sy bakkie omgegooi het op n draai met n klomp skoolkinders agter op. Gelukkig was daar net ligte beserings onder die kinders maar die nadraai was n lang en uitgerekte storie tussen die ouers van die beseerdes en ons maatskappy en my arme werksmaat.  My voorkeur was om liewer meisies op te laai. Hokaai, dis nie oor wat party sal dink nie, Met vier of vyf lyfies hier saam met jou in die kajuit wat in elk geval in die eerste plek na parafien ruik omdat die primus stoof en die parfien lamp nog steeds die voorkeur hitte en ligte bronne van Lesotho is, besef jy gou  in Lesotho se koue is die  seuntjies nie so lief vir seep en water soos die meisies nie. Glo my, op n nugter maag is dit nogal n belangrike oorweging. So n paar kilometer verder sal een dan aandui ek kan maar aftrek want hulle skooltjie is daar naby die pad. So kry ek dan my gereelde saamryers en leer ons mekaar ken

Ons permanente kamp anderkant die Makfika pas en neffens die Malibamatso rivier vorder fluks en ek maak gereeld daar n draai oppad werk toe. Ons klompie is hewing in bespreking oor watter huis die beste ligging gaan hê en elkeen het gou sy oog op n spesifke een. In Halejone self stop ek ook gereeld by wat mens kan klasifiseer as n winkelkafee. My een maat was betrokke by die aanvanklike geotegniese ondersoeke wat elke projek gewoonlik vooruitloop en het my die winkeltjie gaan uitwys wat volgens hom die beste maghoenjas maak in die geweste. Maghoenjas, die middelste deel uitgespreek soos Ghoen, is Lesotho se weergawe van n vetkoek. Net baie kleiner en ronder en met n soet smakie. Omtrent die grootte van n gholfbal. Hulle braai dit in diep olie en as hy nie in vars olie gemaak word nie, slaan daar  gewoonlik die smaak van lampolie deur. Vir n rand of twee kry jy dan so ses stuk maghoenjas in n bruinpapiersak wat dan veral lekker smaak saam met koppie koffie by die werk.  Eerste deel van die vele smaak ervarings wat ons nog  in baie ander lande sou oorkom.

Daar is so baie wat mens kan vertel oor ons ses jaar in Lesotho dat dit amper sy eie ‘n boek sal volmaak. Hierdie skrywe gaan egter oor ons ervaringe in die tienstuks lande waar ons al gewoon en werk het die afgelope twintig jaar.  Dus gaan ek maar net plek hê  vir so n paar insidente van ons tydjie in die ‘Koninkryk in die lug', soos wat Lesotho ook bekend staan in Engels.

Gedurende die aanbou van die hoofroete na Katse Dam toe, en veral by die gedeelte van die Mafika pas, was daar talle ongelukke, meeste met nooglottige gevolge en amper almal as gevolg van remme wat onklaar geraak het.  Mens leer baie gou dat knaend briek trap, net nie werk nie. Jy moet jou spoed beeer met jou ratte. Net so nou en dan die brieke so bietjie pomp as jy sien die spulletjie wil begin weghardloop.
So kom ek toe een oggend op n ongelukstoneel af pas nadat dit gebeur het. ‘n Oop bak lorry met n klomp werkers agterop is oor die rand en die beseerdes en hul besittings het die wereld gesaai gele teen die helling af. Van die wat nie te erg seer gekry het nie het die ander ophelp na die pad toe en gou was my bakkie voor en agter amper oorlaai van bloeiende en kermende manne. Terwyl ons so laai, besef ek skielik ek weet nie waarheen om hulle te neem nie. Gelukkig stop daar nog n voertuig en die man raai my aan om deur te druk na een van die meer gevestigde sendingstasies so tien kilometer verder aan en darem berg af. Ek was juis erg bekommerd dat ek sou moes omdraai en met die klomp mense en terug oor die pas ry, Leribe se kant toe.  By die sendingstasie aangekom moes ek toesien hoe karig ingerig die hospitaaltjie daar maar was. Gelukkig het hulle darem ontsmetmiddels en verbande gehad wat nogal baie gehelp het. Die goeie nuus is dat niemand darem omgekom het van daardie betrokke ongeluk nie.

‘n Ander keer weer kry ek een van ons Poolse inspekteurs bo-op die pas toe ek eendag oppad laaglande toe was na werk. Bogdan se bakkie het sonder petrol gaan staan. Sal ek hom nie asseblief op sleeptou neem tot by die naaste plaaslike vulstasie nie. Al die pad Leribe toe. Mens los mos nie n maatjie daar op die berg nie en gou prakseer ons n lang stuk sleeptou deur altwee ons bakkies se toue aan mekaar te bind. Ek vertel hom mooi, hy sal moet help briek met die afgaan sodat die tou styf bly en ons n veilige afgstand van mekaar kan hou. So gesê, so gemaak en daar gaan ons, berg af. Skaars honderd meter verder is die man hier kort op my gat en moet ek noodgedwonge vetgee om die tou weer styf te probeer kry. Dit help niks, hoe vinniger ek padgee, hoe vinniger is Bogdan op my hakke. As die bakkies so wil wil raak dan gee ek maar weer bietjie gas en ons ry al hoe vinniger terwyl ek al die vloekwoorde in die woordeboek gebruik en sommer nuwes ook uitvind.

Nog nooit is ek so vinnig teen daai pas af nie en nog nooit weer daarna nie. Onder aangekom, klim die vent met oë soos pierings en speirwit geskrik uit en verduidelik dat deesdae se bakkie remme gehelp moet word duer die enjin wat loop. As die enjin af is is daar omtrent nie brieke nie. Die arme vent het amper die pedale deur die vloer getrap soos hy vergeefs probeer briek het! 

Met sy baie kronkels en skerp draaie, het hierdie pas nogal gereeld  ʼn rol gespeel in ons klompie se lewens daar in ons kampdorpie in die vallei onder langs die Malibamatso. Maar later meer hieroor.
Ons was ʼn hele mengelmoes van nasies wat noodgedwonge moes leer saamleef en mekaar se gewoontes leer respekteer of darem net verstaan. My eie bydrae was om ʼn koerantjie uit te gee waarin mense met mekaar kom kommunikeer.  Aanvanklik was die idee om sosiale geleenthede aan te kondig en nuuswaardigede en nuutjies uit te dra in die afwesigheid van TV. Onthou, daardie tyd was die internet nog maar in babadoeke en was ons nog skaars gespeen van telekse. My nuusbrief het die naam Molomo gekry wat mond beteken in Sotho. Vanaf skooldae het ek egter al die drang gehad om eerder mense se gatte te krap as te kielie, en om so in die proses, die lekker van gesonde konfrontasie uit te wys. Miskien wou ek nog altyd maar net ʼn joernalis wees. Daardie mense het mos lisensie om te skinder. En wat is nou lekkerder as om ʼn lekker sappige storie eerste te kan vertel. Gou het ek agtergekom wie die storiedraers en skinderbekke was. Om hulle identiteite te beskerm het ek ʼn soort van sepie begin skryf waarin die karakters fiktief was, maar die gebeure almal so losweg gebaseer op gerugte wat die kamp deurkruis het.

Daar was amper ʼn paar skeisake as gevolg van my vertellinge. Mens kan jou indink wat als  kan gebeur in ʼn afgeleë plekkie soos Ha Lejone waar daar ʼn hele klomp enkelinge tussen ʼn groep getroudes gebly het en waar daar aanvanklik maar min sosiale afleiding was. Daar het selfs by tye ʼn ontstoke dame of twee by my opgedaag en aangedring dat ek bieg en erken dat van my karakters hulle mans is. Een keer het ek onwetend so na aan die waarheid gekom dat een meisie bekend as Legs Eleven weens haar besonder lang mooi bene, haar  man gaan voorlê het en betrap het toe hy juis die kat in die donker wou knyp. Sy het hom so goed bygekom dat hy vir ʼn week af siek was.
Die kontrakteurskroeg in die ‘onderdorp' was baie goed ondersteun deur veral die ongetroudes en hul meisies en het gereeld gesorg vir goeie sport en stoom afblaas. As teenvoeter, en om hul mans in toom te hou, het van die meer gematigde inwoners toe die klubhuis langs die tennis en muurbalbane begin gebruik as informele restaurant en het ons gereeld funksies soos danse met tema aande gehad.

Net om kamplewe nog meer interessant te maak, het die dagga mos sommer wild in ons tuine gegroei. Hulle het soos kakiebos opgekom en almal het gemaak of hulle nie weet hoe ʼn daggaplant nou kwansuis lyk nie. Tot agter ons kantore op terrein, was daar ʼn bos of twee wat met sorg vertroetel was. Die tonnelboormasjien se voormanne het uit en uit erken dat hulle werkers nie so lekker kon werk en funksieoneer sonder ʼn teugie omkyktwak nie.

So besluit kamermaatjie en my een buurvrou Elsje, mos om vir my ʼn verjaarsdagmakietie by ons huis te reël. Een met ʼn verskil. Die twee het juis voorheen gekla dat daar van ons genooide kolegas was wat nooit eintlik wou gees vang nie en altyd vroeg geloop het. Daai aand word daar toe twee slagysters gestel. Hulle reken toe as die klomp nie gaan eet van die spesiale koekies met die groen kleur nie, sal hulle ten minste moet proe aan die vars slaai.

 Nodeloos om te sê, die son se opkoms het maar net beteken almal kon beter sien met wie hulle aant dans was. Eertydse preutse en vorige suurgatte het sulke erge gedaanteverwisselings ondergaan  dat mens hulle skaars kon uitken tussen die gewone guitiges en stuitiges  wat ons voorhuis gevul het. Die enigste probleem wat ek wel gehad het, was om die bittereinders te laat pad vat. Mens vergeet hoeveel ekstra stamina en energie  die daggablaartjie  aan party mense kan verskaf. So teen middagete het die doef doef van my hoëtrou stel se bas waarna die ‘village' en hele omgewing dwarsdeur die nag moes luister, stil geraak. Slegs die mannetjie met die  hamer in my kop wou nie bes gee nie. Eers  teen slapenstyd  het hy sy gereedskap gaan bere.

So met die terugkyk, was Lesotho net die regte manier om te begin gewoond raak daaraan om buite die landgrense te werk. Darem nie so ver dat mens nie kan gaan haal wat jy mis nie. So bietjie bietjie op n slag speen  en nou en dan aan die bors van ma Suid Afrika gaan drink oor lang naweke en einde van die maand. 

Ons belangstelling in voëlkyk het ook daar ontluik want die voëllewe was geil en volop. Behalwe vir die LBJs (Little Brown Jobs) het ons talle nuwe name op ons lewenslysie kon byvoeg. Ywerig  die Roberts en die Sasol handleidings nageslaan om van die Drakensberg Sysies wat hulself  so eie gemaak het in ons tuine, (daar was selfs  ʼn nessie in die bek van een van ons tonnels) uit te ken. Tot die statige lammervanger opgesoek wanneer ons hom hoog in die berge opgemerk het. Party voëls  het ek sommer my eie name gegee. Soos die selfmoord voëltjie, ʼn tipe bruin lyster wat op die pas se teerpad, skielik skuins oor die pad voor mens se motor verby gehardloop het en rakelings vermy het om platgetrap te word.  Of die kammaksie kraaie wat al swewende en sonder om  ʼn vlerk te klap, met mens se kar tred gehou het as jy aan die SA kant van die Mafika pas afgery het. So asof hulle jou wou uitdaag om vinniger te ry, om hulle te probeer wen. Dan het dit maar moeilik gegaan om jou volle aandag op die kronkel draaie van die steil pas te hou.

Dis seker ook die ryke voëllewe wat my eerste stuk rotskuns geïnspireer het.  SA was mos in die negentigs in die oorgangsfase en die politiek het wipplank gery met ons mense se gemoedere.  Die moontlike vrylating van Madiba was hewig onder bespreking.  Hoog op in die pas het ek toe eendag die woorde: "Nelson aint  no seagull.." met wit sproeiverf teen die swart basalt kranse gespuit. Verder af, amper heel onder, net voor jy die laaste draai vat na die vlaktes toe, het ek die slagspreuk voltooi met,   "He is a jailbird." As ek natuurlik toe geweet et wat ek vandag weet, sou ek nooit my eerste en enigste graffiti  aangewend het nie. Terugblik is ʼn baie akkurate wetenskap maar onthou, daardie tye was ons nie seker van wat sou gebeur het as ons die oubaas vrylaat nie.

En toe kom kuier professor Ordino Kok van die Departement Voëlkunde van die Vrystaatse Universiteit vir ons. Hy wou kwansuis die bedreigde kaalkop Ibis kom navors. Al gehoor van die voël?

Die arme en vrek lelike reieragtige spesie kan myns insiens nie anders as om sy gat te sien as hy juis so hoog in die yskoue sneeubedekte berge kom nes maak en dan nog daa rbenewens vreeslik kieskeurig is oor waar hy wei en watter kos hy eet as hy weer afvlieg na die Vrystaatse mielielande toe. Die prof het egter my sluimerende voelkykgewoontes weer aangewakker.
Met hernude ywer is die Roberts nadergetrek en is daar meer gelees oor wat mens in Lesotho kan verwag. Ons het juis kort vantevore kantore geskuif na die Pelaneng-tonnel, wat in ʼn pragtige onbewoonde en ongerepte klofie gelee was. Die Pelaneng rivier was vol reenboogforelle en waar daar vis is , is daar ook voels. Die nuwe paadjie werk toe was al langs die Malibamatso op, sommer hier onder in die vallei, vlak neffens die rivier. So het ek toe een oggend op pad werk toe my verbeel ek sien net so ʼn titseltjie van ʼn beweging oorkant die rivier teen die ruwe swart en grys vertikale rotswand, daar waar die stroom deur die eeue heen sy elmboogdraai uitgekalwe het. Ideale plek vir ʼn roofvoel om nes te maak, dag ek. Ek het al stadiger gery en deur die oop venster van die bakkie die area met die oog gefynkam vir die kenmerkende wit uitskeidingstrepe wat soms hul neste sal weggee. Maar niks. Laat vir werk, maar oortuig dat ek wel iets moes gesien het, besluit ek toe om maar liewer na werk weer daar stil te hou. My verkyker le juis ongelukkig by die huis .Laatmiddag trek ek af naastenby op die plek waar ek die beweging opgemerk het. Lank sit ek so en staar na die gespikkelde rotswand oorkant die stroom. Niks. Net toe ek wil vorentoe leun om die sleutel te draai, sien ek haar beweeg. Amper ʼn halwe meter hoog, penregop en statig sit sy daar. Sy kyk my vol in die oe, die begin van ʼn lang en intieme verhouding.
Nonnie soos ek haar gedoop het, was 'n Kaapse Ooruil (Bubo capensis) wat kom nes maak het daar by die Malibamatsorivier langs my paadjie werk toe. Nonnie se spesie is nou wel op die heel onderste trappie van die oorlewings-gevaarlys en nog heeltemal buite gevaar van uitsterf, maar ek het haar en haar nes behandel asof dit die heel laaste broeipaar van die familie strigidae was en met streng geheimhouding ons ontmoetings gereel.Vroeer as gewoonlik opgestaan en dan daar langs die pad gaan aftrek en gewag dat die son opkom sodat ons twee mekaar kon bestudeer.Ook maar dom, het ek aanvanklik gehoop om betyds daar te wees as sy terug-kom van haar nagtelike jagtogte, maar ek was altyd te laat. Sy was reeds daar as die oggendsonnetjie hoog genoeg daar van Natal af geklim het om die diep vallei se nagskemering te verdryf. Min het ek geweet sy was nooit weg nie. Later sou ek oplees en bevestig dat manlief vir haar die hele tyd vir haar kos aandra terwyl sy die vier of vyf weke wat dit neem, pal op die eiers sit tot hulle uitbroei. Hoewel ek presies geweet het waar sy sit, was Nonnie so goed gespikkel en gekamoefleer dat sy presies gelyk het soos die klip agter haar. Ek moes maar elke keer eers effe soek en lank en stip kyk tot sy haarself weggee met daardie pragtige groot, ronde geel oe. Dit was met groot lekkerte dat ek die dag daar was toe die eerste uilskuiken uitbroei. Die moes gedurende die vorige nag al gebeur het, want toe ek stop, was ma al reeds doening met die voer van die nuwe babas. Dis eers toe dat ek besef het dat pa ook die hele tyd daar in die omgewing was. Dat hy my seker die hele tyd met ʼn geel houtoog vanaf ʼn ander uitkykpos dopgehou het terwyl ek sy vrou afgeloer het. Effe kleiner as Nonnie, maar soos dit ʼn goeie pa betaam, het hy helder oordag, veral vroeg oggend en laat middag, gaan jag. Daar opgedaag met heerlike happies muis, akkedis en selfs ander voels vir die gulsige, altyd honger tweeling. Ek het die familie elke dag wat ek kon, gaan besoek totdat die die twee jong uile uiteindelik op hulle eie kon vlieg. Kort daarna is die hele familie daar weg na hul nuwe jagvelde.

Daardie was die dae wat ek en Kamermaatjie nog kon stap. Voordat ons weg is Lesotho toe, was ons in Klerksdorp deel van ʼn informele stapklub van sowat tien of twaalf mense wat gereeld ons land met dapper en stapper deurkruis het. Ons het gaan stap op bekende staproetes soos die Blyderivier en selfs die Otter, asook die minder bekendes soos Suikerbosrand en selfs heel nuwes wat ons self afgebaken het, soos die een naby Rustenburg wat ons die Funa Manzi gedoop het - fanagalo vir soeke na water. Steeds maar lus vir die wandelpad, besluit ek en Annabelle om een naweek al langs die Malibamatso af te stap van Ha Lejone tot by die terreinkantore. Vyftien kilometer soos die kraai vlieg. Baie verder berg op en berg af. Omdat ons al baie jare aan't stappe is, was ons redelik goed toegerus met die nodige rugsakke, stapskoene, waterbottels, slaapsakke, gasstofies en selfs die allernodigste flessie ‘slangbytserum'. Nou nie dat dit jou juis gaan beskerm teen slange nie. In ons geval het dit bestaan uit die whiskeylikeur Glayva, gelykop gemeng met Famous Grouse. Die doepa is veral nodig as mens se tentjie op klipperige grond opgeslaan word. Daardie blou opgerolde slaapmatjies wat mens saamdra, is myns insiens maar net sielkundig van waarde. Slangbytserum maak die kiewe lekker warm en laat mens lekkerder slaap.

Ons het toentertyd twee honde gehad. Sheba, ʼn Dobermann dame, en Provence, ons dapper klein Maltese poedel wat in die winter getrou haar gestreepte blou en wit truitjie gedra het. Hoe lekker was dit altyd om saans buite te gaan staan en uit volle bors vir Provence nader te roep. Jou lekker ding. Ek kon maar net sowel op Nuweland gewees het. Die einste Provence het ook gereeld ʼn vreeslike keel opgesit as ons net sou waag om by die tuinhekkie uit te beweeg sonder haar op tou. Daar was so ʼn enorme rots voor in ons rotstuin - so groot dat die kontrakteur dit spesiaal vir my moes kom aflaai het met ʼn laaigraaf, die verskoning kwansuis omdat ek mos ʼn klipdokter is. Provence sal dan altyd bo-op die rots gaan stelling inneem en sodra sy sien Kamermaatjie verdwyn buite sig, sit en huil sy met haar eie lang en treurige weergawe van ʼn area uit La Traviata. Sonder ophou. Droefgeestig. Mens sou weer sy word vermoor. Om klagtes van dieremishandeling te vermy, besluit ons toe maar sy moet saam gaan.  Die eerste entjie het als goed gegaan en het sy uitbundig saamgedraf en oral gesnuffel en geruik en haar visitekaartjie gelos soos dit ʼn dame van haar spesie betaam. Gaandeweg begin ons egter die steiltes vat. 'n Klomp plekke moes ons haar begin optel van een lysie na ʼn ander soos ons paadjie teen die berghange uitgekronkel het. Bo-op so ʼn effe gelyktetjie kom ons op ʼn trop beeste af. Eerste keer in haar lewe dat sy sulke dierasies teekom. Heldhaftig storm sy op hulle af. Hulle gee egter nie pad soos sy verwag het nie, maar staan eerder nader uit nuuskierigheid. Met die eerste lang loeiende moeee! wat die naaste koei uiter, steek Provence onseker vas en draai na ons toe met ʼn kyk wat duidelik vra, ‘Wat moet ek nou doen, julle?'

Toe die een koei egter haar poot so een keer hard neersit met die naderstaan, gee onse brakkie net een luide tjank en kom neem hier agter my bene stelling in. Gou verloor die beeste egter belangstelling en kan ons aanbeweeg.  Dit was hoeka sommer kommin beeste, die soort wat mens orals op gelykwêreld kry. Nie die linksom of regsom tipe wat eie aan Lesotho is nie.  ʼn Bees hou mos nie daarvan om op en af te wei teen  ʼn steilte nie. Hy beweeg liewer heen en weer.  Soos ek altyd vir my peetkinders vertel het as hulle daar kom kuier het,  is die Basoetoe  se beeste aangepas vir die steil hellings van die Maluti berge. Noem dit maar evolusie as jy wil. Party se regterbene het effe korter geword het  as hulle hul linkerbene. Die sogenaamde regsom variant.  Dan kry jy ook die linksom tipe. Hulle linkerpote is weer korter. Albei soorte loop mooi regop solank as wat hulle net in die regte rigting wei.  As  ʼn linksom bees egter probeer omdraai om regs om te probeer loop en wei, dan val hy om. Net mooi andersom met die regsom beeste.  Glo my, gaan kyk maar self. So van beesmis gepraat,  my oorle maat Hendrik Bosman het vir sy twee dogters hul eie perde aangehou  langs sy huis in Ha Lejone. Op  ʼn dag is daar weer ʼn klomp kleintjies uit Suid Afrika wat kom kuier. Almal wil natuurlik perdry.  Ons peetkinders is toe ook juis weer by ons en Annabelle reël dat die hele klomp kleuters al om die sportveld op die mak perde kan ry. Heel middag is dit al om en om die veld. Kinders het mos nie end nie en hulle wou om die dood nie klaar gery kry nie. Kamermaatjie het die video kamera byderhand gehad om als op bad vas te lê en toe sy nou rêrig moeg en pootuit was vir die al in die rondte met die perde, kondig sy hard en duidelik aan dat die batterye nou pap is en dat hulle nou maar sal moet ophou. "Issie tannie,"  kap die kleine Carina Truyts terug, "perde het nie batterye nie, hulle het bene" 
Terug by ons uitstappie met Provence. Dis laat middag en ons met nog berg uit om so hoog moontlik tent op te slaan. So verlate soos Lesotho mag voorkom, skop jy agter elke bos  ʼn beeswagtertjie uit. Om dus relatief alleen te wees, moet jy hoogte kry en ver van die naaste modderhuisies kampeer anders is daar geduring  ʼn paar bak handjies wat bon bon kom bedel. Daar moes op  ʼn tyd Franse sendelinge gewees het, want dis wat die kinders vandag nog lekkergoed daar noem. Provence raak al hoe verder agter en toe Annabelle haar optel, merk ons haar pootjies is deurgeloop op die skurwe grond.  Die bloed begin al deursypel op haar kussinkies. Al raad is toe maar om plek te maak vir haar in een van ons se rugsakke. So gemaak, kyk mêdem tevrede rond vanuit haar torinkie agter op kamermatjie se rug terwyl ons verder die steiltes uit beur.

Dit was al diepdonker toe ons drietjies die tweemantentjie opgeslaan gekry het en die gasstofie onder die koffiewater se gat sit.  Weet nie hoeveel van julle al so hoog op in die berge gekamp het nie. Net  ʼn  Kalaharinag is mooier. Dit is of mens sommer baie nader aan die hemel is.  Elke ster veg hier vir ʼn plek in die swart satyn van die hemelkombers. So het ons lank gesit en gesuig aan ons flessies slangbytserum en met ons oë houtgesoek, tot vêr anderkant Fort Wajier se verste ster. In die Kalahari sou ons die roep van die jakkals hoor. Hier in Lesotho, so hoog op, net die loei en die suis van die wind en so nou en dan die tjankblaf van ʼn brak vanuit ʼn stat daar onder naby die rivier.

Met ons tuiskoms die Sondag, wag Alain Truyts ons in. Hy en sy vrou Esther en ʼn vriendin, wil saam met nog ʼn  ander jong siviele ingenieur uit die Kaap, vanaf Lesotho  af stap, oor die berge tot in Natal. Soos die Voortrekkers van ouds, net ʼn korter en baie steiler roete. Wil ons saam?

Ons is natuurlik vuur en vlam. Dadelik begin die beplanning. Michael Fatla die maatskappy drywer en sy maat sal ons in twee dubbelkajuit Hilux 4x4's gaan aflaai by die Senqu, die oorsprong van Oranjerivier. Die Donderdagaand van die November langnaweek kom die ses van ons bymekaar by Alain hulle se huis. Esther se ouers het kom kinders oppas vir die vier dae wat die staptog sou duur. Hy gaan deur die lysie van wat absoluut nodig is vir ons epiese uittog na Cathedral Peak Hotel aan die Natal kant van die Drakensberge. Milla McLachlan en Michael Chemaly, die twee enkelinge van die groepie van ses, bevestig hulle het als en nog wat. Veral die nog wat, Ons kyk Michael se reuse rugsak skepties aan. Die ding lyk moerse swaar. Hy lyk egter nog lekker jonk en fiks so ons sê maar niks.

Ons bespreek die weer. Dit lyk nie te goed nie. By ons in Ha Lejone is dit bewolk. Mens kan egter nie sê hoe dit in die Senquvallei gaan lyk nie. Daar is darem sprake van opklaar na die naweek se kant toe. Ons stem om eers finaal te besluit by die afspringpunt. Vieruur die Vrydag oggend spring ons weg. Dit skud en skommel in grou mistige weer deur die berge en paaie word al hoe rowwer en kleiner. Ons twee ervare Basoetoe drywers ken egter elke kronkel paadjie en waar die spore wegraak vra hulle die plaaslike inwoners die rigting.

Dan is die Senqu skielik voor ons. Hy loop kant tot wal van die onlangse reën. Tyd om te besluit of ons gaan omdraai of nie. Ons vra Fatla of hy kans sien om ons deur te vat. Sy antwoord is om die Hilux in ekstra lae rat te gooi en daar gaan hy. Michael is nie ʼn meid nie. Ek en Annabelle en Milla is in die eerste voertuig. Die rivier is dieper as wat ons gedink het. Die water spuit deur die rubberomhulsel van die rathefboom. Die bakkie hop en bokspring soos ʼn wilde wasmasjien oor die spoelklippe. Sy gat begin wegswaai soos die stroom stoot. Michael se oë is sulke groot ronde wit sirkels as hy vinnig vir my kyk.    

 

Net toe ons dink dis nou tyd vir wegspoel en verdrink, toe lig die immer gewillige Hilux sy neus stomend uit die kolkende waters van die Senqu en beur  met ons teen die wal uit. Ek slaak  ʼn hoorbare sug van verligting en kan fisies voel hoe  ontspan die boude. Dan is dit die ander bakkie se beurt.  Weer doen die voertuig  die st Vitus vloermoer en gooi die passasiers soos lappoppe heen en weer ten spyte van die vasskop en klou aan al wat  ʼn vatplek is.  Die keer gee die hele bakkie sommer so  ʼn sywaartse bokspring soos die stroom hom beetkry en begin hy sywaarts beweeg soos  ʼn krap.  Op die laaste oomblik gryp die voorste wiele wal en storm die bakkie sommer skoon langs ons verby soos hy afstand tussen hom en die water soek.  Nadat ons die rugsakke afgelaai het besef ons meteens dat die twee bakkies nou baie ligter is sonder hul passasiers en bagasie. Daar is geen manier wat hulle weer veilig deur die rivier sal kom nie. Michael Fatla het egter  ʼn plan. Hy voeg daad by die woord en begin dadelik om groot klippe op die bakkies te pak. Ons besluit om eerder te veel as te min te laai want dit was darem so hittete of hulle het netnou weggespoel. Die terugtog verloop soos ʼn droom. So leer  ʼn mens ne?

Met so  ʼn tikkie onrustigheid gemeng met  ʼn groot klomp avontuurlus, waai ons die twee drywers vaarwel  en dan is dit net ons en die natuur om ons. Die massiewe Malutis voor en die druisende Senqu agter ons. Nou is omdraai te laat.

Daar is net een keuse en een rigting en dit is op en oor die Drakensberge. Êrens, diep vanuit die genepoel van vorige geslagte, roer  ʼn herinnering van deja vu. Deel van ons was al hier vantevore.
Soos manne wat gaan valskerm spring, help ons mekaar met die optel en vasmaak van ons rugsakke. Dan pak ons sesmanskap die eerste steilte met ons leier Alain, aan die voorpunt. Aanvanklik gaan dit redelik goed en bly ons by mekaar. Eers is  mistig en kan mens nie die pieke van die berge voor ons sien nie. ʼn Bedekte seën want toe die sonnetjie uiteindelik so teen elfuur deurbreek en ons kyk af ondertoe, is ons omtrent maar net so helfte op teen die  eerste klim om by die eerste plato uit te kom.  Stadig maar seker, soos die verskillende fiksheidsvlakke  deurslaan, begin ons verder en verder van mekaar raak en kyk party van ons al hoe langer na die asemrowende uitsig terwyl ons probeer rus van die gewig op die rug en van  die steilte wat die longe se vars lug steel. Ons agterente trek ook al hoe meer gereeld magneties na die naaste plat klip se kant toe. Kamtige verstellings word al hoe meer gereeld gemaak aan die rugsakke se  stroppe. Alain weet egter daar is baie meer meters voor ons en is meedoënloos in sy aanhitsing vir ons om hoogte te bereik voor donker. Na  ʼn hergroepering om ʼn stukkie beskuit en  ʼn koppie koffie uit een van ons flesse, het ons weer nuwe stoom en die keer sorg ons dat ons nader aan mekaar klim.  Michael Chemaly bly egter terugval en hy word sigbaar al hoe bleker. Bekommerd oor sy welvaart, bied Alain en Esther aan om om die beurt, hom te help deur sy rugsak ook te help dra. Hy wil nog kibbel maar hulle oorreed hom dis die beste vir ons almal as hy nie nou al hom ooreis nie.  So in my stilligheid wonder ek, ons het maar skaars begin en dit gaan al klaar so, wat gaan nog van ons word?    

Daardie eerste dag se klim was omtrent als opdraand en sowat 10 km vêr in die rigting van die Mweni Cutback gebied op die eskarpkant . Hierdie area word allerweë beskou as een van die mees ongerepte en wildste gebiede in Lesotho. Pragtige natuurskoon, hoog in die lug, naby aan die hemel. Onder normale omstandighede is 10km se stap nie te vêr vir stappers nie. Dis nou behalwe wanneer die lug dun is en helling steil bly. Middelmiddag verlaat ons  die Maluti berge en raak die grond meer gelyk aan die Drakensberg kant. Ons begin effe meer spoed vang.  Die teiken is Ledgers se grot.  Alain bestudeer kort kort sy lugfoto van die area. Laphoed in die hand krap hy aan sy kroontjie. Elke keer as hy dan aanstryk, verander hy baie subtiel, net so ʼn bietjie van rigting. Daar is nie voetpaadjies nie en mens  stoei jou eie pad oop deur die lang berggrasse. Daar is nie meer baie plekke op hierdie aarde waar mense nog nie spore getrap het nie. Hierdie is een van hulle. Bokant ons kring  ʼn eensame Lammervanger. Hoop hy dalk vir een van ons se beendere om wit te verbleik in die son?
Uiteindelik,  na so ʼn paar vrugtelose Kaapse bresse, kondig Alain aan ons het miskien so ietwat verdwaal. Êrens tussen niks en nêrens, bo-op die Drakensberge.  Ek wonder vandag nog hoeveel ekstra kilometers ons daardie dag afgelê het.  "Wag julle hier, dan gaan verken ek vooruit" besluit Alain  en hy gooi sy rugsak af. Almal verwelkom die blaaskans terwyl die ekspedisieleier pad vat na die oosterkim toe. Esther kyk hom bekommerd agterna. Verdwaal hy, is ons almal aasvoëlkos. Ons bly egter baie kalm en maak tee.  Miskien slaap ons nog hier vanaand.
Die sonnetjie begin sak en uit die weste steek ʼn ysige windjie op. Esther sien eerste die wuiwende figuur wat in die skemering op die eskarp se rant verskyn. Alain het Ledgers gevind. Hy sit en wag vir ons op die rand van die afgrond. Ons is nie in die wolke nie, ons is bokant hulle. Onder ons, ingepak soos reuse bolle spierwit watte, vir so ver as wat die oog kan sien, strek ʼn donsige wit wolkombers. Vir ʼn hele rukkie staan almal net woordeloos en in verwondering en kyk hoe die cumulus nimbus wolke groei en kwyn voor ons en hoe die sakkende son, van ligte pienk spatsels, tot diep rooi fluwele, inverf op hulle dye.
Alain beduie vir ons waar Ledgers se grot is. ʼn Gapende gat in ʼn amper loodregte krans, so twintig meter onder ons. Van hier bo af lyk die lysie wat na die grot toe lei maar blerrie nou. Ek skraap moed bymekaar. Gelukkig het ek gedurende my skooljare  baie keer Tafelberg uitgestap. Soms ook ʼn paar uitdagende klimroetes onder die kabelkarretjie aangedurf. Ek help vir kamermaatjie met haar rugsak en ons begin afklim.

 Agter my hoor ek hoe Alain en Esther  stry kry. "Dis nie nou die tyd om vir my te vertel jy het hoogtevrees nie!"   "Ek lei ook daaraan", voeg Mike lam by. Sonder omkyk  klim  die ander drie van ons af na die lysie toe. Die is toe darem redelik wyd.  Die grot is duidelik  al deur vele voorgangers vir veilige vesting gebruik . Ons kry selfs ʼn klompie droë hout en gou knetter ʼn vrolike vuurtjie by die grot se bek. Dan word die stilte van die afgronde daar buite  verbreek. Alain is duidelik ontstoke: "Ag nee, my liewe magtig man!"

Omdat dit as so lank gelede was dat ons oor die Drakensberge gestap het, het ek weer by Alain gaan kers opsteek sodat ek darem so naby aan die waarheid as moontlik kan bly met waar ons wanneer was en om sommer ook so bietjie sy perspektief te kry oor ons epiese staptog. Ek haal hom aan : "By die grot aangekom wou Mike en toe later Esther nie oor die styl krans afklim tot in die Ledgers grot nie en dit kos my toe om saam met die twee hoogtevrees bevange individue in ʼn tent op die rand te slaap.  Julle was happy en snoesig onder in die grot. Dis was nog alles wel,  maar toe Mike ʼn moerse rubber hamer uithaal om tent penne mee in te slaan toe het ek dit heeltemal verloor.  Helse ekstra gewig in die rugsak wat ek moes help dra en dit om penne mee in te slaan! In ʼn berg waar daar in  elk geval genoeg klippe rondlê wat as hamer kan dien.  Tot vandag toe bevraagteken ek nog daardie jong man se ingenieurs  logika maar ek bewonder hom dat hy nooit gekla het nie.  Ek wil glo dat ek die hamer oor die rant gesmyt het maar dit sal nie waar wees nie.  Vandag, as dit weer moet gebeur, sal ek dit wragtig doen."

 

Die stap vanaf Ledgers na die Mlabonje pas se bokant was ʼn lekker mooi dag. Ons het vroeg middag kamp opgeslaan naby die rivier op mooi kort gras en in een tent gelê en gesels. Mike deel kaas en ʼn groot vet salami onder ons uit. Ons spoel dit met slangbytserum af. Dit was vrek koud ten spyte van die sonskyn. So elke dan en wan het daar ook mis wat uit die SA kant oor die eskarp gewaai.  Alain  moes nog die paadjie vanaf die bopunt van die Mlabonje pas gaan soek. Gelukkig vir ons, was hy in die kol, ten spyte van die mis. Met die son se sak het die mis toe ook sommer erg dik en donker op ons neergesak.

Dit het ons nie juis gepla nie want ons  was toe al goed gedokter met heelwat slangbytserum. Later, in ons eie tentjie, warm agter die witbrode ingewikkel, het ek skaars die graspolle onder die tentvloer gevoel.
Laat in die nag word ek gaandeweg bewus van  ʼn onderaardse gegrom hier binne in die tent by ons. Dadelik was ek wawyd wakker. Dit grom dan sommer hier binne in die slaapsak!  Ek wil nog soos  ʼn koperkapel daar tussen die velle  uitpeul, toe ek besef dis tentmaatjie se maag wat vir ons grom.
Sy word ook met  ʼn ekstra kreun wakker. Dis ʼn hengse pyn op die maag wat haar buite toe jaag. Nie eens kans om skoene of toortsie te gryp nie.  Nou kyk, die wat vir Annabelle ken, sal  weet wat beteken dit vir haar om sonder skoene in die openbaar te verskyn. Maak nie saak waar in die wêreld of waar in die berge dit is nie. Die nood was dus uiters groot . Om dinge nog moeiliker te maak, is dit baie stil buite en enige klank trek vêr. Sy probeer dus in die digte mis en die diep donker nag,  so ver moontlik van ons groepie se tente af wegkom. En dit nog kaalvoet ook. Soos goed ingeburger in alle stappers, soek sy  ʼn plekkie wat baie klippe het.  Na ʼn hele rukkie hoor ek in die donkerte: "Piet -my-vrou, Piet-my- vrou."  Dis ons fluit vir mekaar, as ons na mekaar soek .

"Piet-my- vrou...Piet-my-Vrou," kom dit weer  met duidelike dringendheid.  Ek antwoord met dieselfde fluit  en steek my flits by die tent se flap uit as baken vir haar. Sy bibber van die koue en wikkel ʼn paar dik wolsokkies aan haar yskoue voetjies terwyl sy my fluisterend vertel hoekom sy so lank weggebly het.  "Daar was amper nie genoeg klippe vir die toepak nie," deel sy my klappertand mee.  Skaars het ons rustig geraak of sy moet weer uit.  Die keer het sy darem tyd om haar skoene ook aan te trek. Die ander drie tente se inwoners slaap rustig voort terwyl Annabelle daardie aand nog so ʼn paar keer gaan klipstapeltjies pak het . Ek vermoed dit moes die Voltaren kapsules gewees het wat Esther vroeër die aand uitgedeel het vir al die pyne bene en krampende spiere,  wat nie met kamermaatjie se maag geakkordeer het nie.  Dit kan mos nooit die slangbytserum se skuld gewees het nie. Dit het ons al te vele kere getoets op ons ander staptoere.  Ek meng altyd  vyftig persent Glayva whiskey likeur met enige gewone whiskey. Mens kan die goedkoper ene, Drambuie ook gebruik maar Glayva bly maar  ons gunsteling want dit bevat onder andere Mediterreense nartjies, amandels, kaneel en natuurlik ook, heuning. Dis  die heuning wat hom daardie kenmerkende soet smaak gee. Laat die slange maar kom byt en die insekte kom steek, ons is reg vir hulle!

Uiteindelik bedaar haar ingewande en kry ons toe darem so  paar uurtjies uilknip in. Douvoordag maak  Mike ons wakker. In elke hand het hy  ʼn stomende beker boeretroos met kondensmelk daarin. Saam met dit kry ons sulke lang anysbeskuite wat Esther se ma spesiaal vir die ekspedisie gebak het. Dit  is net die ding vir Sannie. Met nuwe lewe in ons lywe, slaan ons die tente in ʼn japtrap af.

 

As enige iemand dink afdraande is enigsins makliker as opdraande stap, dink maar weer.  Met  ʼn swaar rugsak wat druk van bo af, moet mens nog partykeer spring van een klip na  ʼn ander een ook. Nie lank nie of mens se bobeenspiere begin lam raak. Dit kort, kort kort stop. So kry ons darem kans om die wonderlike uitsig oor Natal te ervaar. Dit neem amper die hele dag om af te stap. Laat middag sien ons die rokies draai vanuit die kaggels in die kamers en die skoorstene van die Cathedral Piek hotel se kombuis.  Van ver af al, ruik ons die geurige kospotte en wink die wete van warm baddens in ons gedagtes. Tam en stywe knieë kry nuwe ywer en die laaste entjie word amper teen  ʼn halwe draffie voltooi. Daardie aand word daar toe lank en lekker gebad in wolke van skuim met  ʼn bier of twee in die hand. Ons kry vir ons  ʼn lekker lang tafel in die restourant en vier ons die suksesvolle klaarmaak van ons ekspedisie oor die Drakensberge.
Ek het vroeër  gereël dat my maat wat in Estcourt praktiseer, my kombi kom haal in die kamp by Machabeng. Ons het toe sommer ook vervoer terug kamp toe.  Al wat ons nie mee rekening gehou het nie, was die grenspos by Fouriesburg. Daar gekom wou die mannetjie agter die venster weet maar waar kom ons dan nou vandaan, volgens ons paspoorte, is ons dan nog steeds in Lesotho! Dit het mooi praat en heelwat Malotis gekos voordat  hy ons paspoorte eers twee keer gestempel het en ons toe laat deurgaan het. 

 

Die Dinsdag by die werk, daag daar  ʼn epos op uit Hong Kong. Wil ek dalk op  ʼn projek in die verre ooste gaan werk? 

 

 

HOOFSTUK II  -  DIE FILLIPYNE.

Ene dr. Rodney Shaw maak my toe ʼn aanbod uit Hongkong in die Verre Ooste! Dit klink romanties. Ons neem die groot besluit, kom ons gaan vind uit hoe lyk dinge daar anderkant die groot waters in die eertydse Britse kolonie. Die tyd het aangebreek dat ons regtig oorsee gaan. So begin ons avontuur wat meer as 25 jaar sou duur! Ons was nie toegelaat om met die projek se werksbakkies in die republiek te gaan rondrits nie. Ek leen toe maar die Kanadese ingenieur se splinternuwe Corrola om ons visas en vliegkaartjies in Sodom in Gomorra te gaan reël. Al die pad Pretoria toe en terug is ons op ons hoede en motordeure word gesluit, handsakke buite sig gestoor en ons kyk wyd vir al die gevare van Suid Afrika. Ons neem tot my .38 Rossi-rewolwer saam vir ingeval ons aangeval word en bêre hom agter tussen die twee sitplekke op die vloer. Sonder dat ons dit agterkom, was ons toe eintlik reeds buitelanders, besoekers aan ons eie land. Soseeer dat toe ons ongedeerd terug is oor die grens by Fouriesburg, ontspan ons heeltemal. Ons was mos terug in Lesotho, terug naby die huis. Hier kan mens mos met oop vensters ry en die koel laatmiddag windjie laat inwaai in die kar. Ons skerts opgewonde oor ons komende avontuur na die Ooste. Die sonnetjie gooi al sulke lang skaduwees oor die pad. Die lewe is lekker.

Dan, so ʼn entjie buite Leribe, merk ek die motor voor my slaan skielik brieke aan. Dis ook ʼn Corolla, net soos ons een. Eers dink ek hulle swaai seker maar vir ʼn hond uit, toe die kar skielik dwars draai hier voor my. Netjies tussen twee van daardie staal veiligheidsrelings weerskante van die pad.
Ons moet noodgedwonge ook stop. Nêrens is daar ʼn gaping om verby te kom nie. Toe peul daar drie manne met balaklawas op uit die motor. Elkeen het ʼn AK47 in die hande en hulle storm op ons af.
Annabelle reageer eerste en sy sluit haar deur en draai haar venster vinnig toe, reg voor die grypende vingers van die kêrel aan haar kant. Ek fluister vir haar om die rewolwer te gryp. Terwyl ek my venster begin opdraai, probeer ek ook om my kant te sluit. EK kry dit nie gou genoeg reg nie. Die rampokker ruk die deur oop en druk sy geweer se loop teen my nek.
Mens kan nie eintlik oorvertel en genoegsaam uitdrukking gee oor hoe jy voel en wat op daardie oomblik deur jou gedagtes maal nie. Jy weet iets afgrysliks gaan gebeur. Terminaal en finaal.
Die man aan my kant probeer om my gordel los te maak, hy is al halflyf in die motor saam met my. Die anderkantse rower kap teen Annabelle se venster en skree en beduie sy moet oopmaak. Die derde een staan voor die motor met sy geweer op ons gerig. Beelde van verkragting van my kamermaatjie flits deur my gedagtes. Die moontlikheid van die einde van ons bestaan.
Ek sien die man se vinger op die sneller van sy geweer verstyf en ek besef dat ʼn koeël my enige oomblik kan deurboor. Dan merk ek uit die hoek van my oog hoe die motor voor ons begin wegtrek uit sy blokkadeposisie uit. Hy is onder die indruk sy maats het als onder beheer hier by ons. Dan besef ek ons eie motor is nog al die tyd in rat.
Op daardie oomblik besluit ek dis nou of nooit. Die adrenalien pomp in my slape as ek oorgaan tot aksie. Ek trap die petrol weg in die vloer. Die Totyotatjie reageer uiters gewillig en vlieg uit
die wegspringblokke terwyl die enjin se revolusies skreeuend die hoogte inskiet.Die man wat voor die kar gestaan het, duik uit die pad. Die ou by my kant, wat
nog halflyf in die motor is, kom saam, hy het geen keuse nie. Hy word meedoenloos saamgesleep en sy voete vat net so hier en daar grond. Die bestuurder van die rowermotor begin weer voor my intrek. Daar is egter geen meer keer nie en ek mik vir die vinnig vernouende gaping tussen kar en staalreling. Ons tref die ander voertuig skuins voor op die neus en stamp hom eenkant toe. Die momentum gooi ons eie motor op sy twee wiele en teen die reling. Ek hoor hoe ta hier langs my in die kar kerm soos die reling die deur toedruk met hom as die vulsel in die staaltoebroodjie.
Dan is ons verby die einde van die veiligheidsreling. Vir ʼn paar sekondes wik en weeg die kar watter kant toe hy gaan val. Gelukkig val hy met ʼn slag terug op
sy vier wiele en ons tel weer spoed op soos ek steeds die petrol pedaal krampagtig plat teen die vloer trap. Ek gebruik my elmboog om ons ongewenste passasier uit te stamp en soos hy wegrol eenkant toe, klap ek die deur toe en daar gaat ons. Of so het ek gedink.
Skielik begin gee die kar sulke siek rukke en sny die motor uit. My moed sak in my skoene. Ons gaan helaas nie wegkom nie! Wat nou?
Dan dring Annabelle se stem tot my deur. "Jy is nog in eerste rat!" gil sy vir my. Verlig verander ek van ratte en uiteindelik sit ons vinnig afstand tussen ons
en die verbaasde kapers. By die Leribe-padkamp draai ek in en soek ons hulp. Die projekbestuurder jaag ons elkeen ʼn stewige dop in. Terwyl hulle na bewerige Kamermaatjie omsien, gaan meld ek die insident by die plaaslike polisie aan.
Ons gaan besoek die toneel in een van hulle voertuie. Die kaptein vra my so half skepties hoe ek weet of dit die plek is waar dit gebeur het. My storie klink
seker te dik vir ʼn daalder. In die sterk skemer merk ek ʼn voorwerp in die stof langs die pad le. Ons stap nader en ek tel my selfoon op. Toe lyk dit darem of
hulle my storie begin glo. Daar het egter tot vandag toe niks van gekom nie. Hoe seer die rower gekry het wat ons teen die padreling gesmeer het, sal ons
ook nooit weet nie. Nie dat ek nou juis slapelose nagte het daaroor nie.
Die episode het egter ʼn blywende sielkundige letsel op Annabelle gelaat. Vandag nog word als twee keer gesluit en dan nog ʼn keer nagegaan. Sy vertel ook
dat sy reeds die rewolwer in die hande gehad en sy was nog besig om te besluit hoe sy die ou gaan skiet sonder om my te kwes. Ook maar goed ek het op
daardie oomblik begin jaag.
My nuwe baas laat weet intussen uit HongkKong my eerste projek is in die Filippyne en ek moet sommer direk daarheen vlieg. Een ding wat tot vandag nog toe nog ʼn reusepyn in die agterstewe bly, is dat mens nie sommer net kan oppak en vlieg nie. Werksvisa-aansoeke bly maar ʼn nagmerrie. Die rompslomp het intussen net nog erger geword. Wat ek dadelik nogal vreemd gevind het, was dat die Filippynse ambassade aangedring het dat my aansoek en getuigskrif juis kleurfoto's moes insluit. Ek sou later uitvind dat, soos ook in Chili byvoorbeeld, hulle op daardie bedekte manier so stilweg uitsif op basis van velkleur wie hulle toelaat en wie nie.
Weer gaan hierdie vinkmannetjie vooruit om nessie te bou terwyl kamermaatjie in Suid-Afrika agterbly en regmaak om bietjie later te kom aansluit. Na al die
jare se rondreis, vind ek dis maar die beste manier en ek sien meeste ander gesinne maak ook so. Moet net nie dink jy gaan die regte blyplek klaar kies nie. Dit bly maar ʼn besluit wat saam geneem moet word. Al is die plek wat ek kies ook net tydelik, sal my wyfie op die langste so ʼn dag of twee wag. Wanneer ek dan van die werk af terugkom, is die meubels subtiel geskuif en die prente effens verhang. Ek sal kamtig effe grom en brom maar hier binne voel mens sommer dadelik meer tuis, meer by die huis.
Die vlug na Manilla was via Hongkong. Die oggend toe ons inkom vir landing, vind ek uit hoekom vlieeniers na die vorige lughawe van Hong Kong altyd
verwys het as die een van die wit kneukels. Soos hulle vir my oor die telefoon verduidelik het, was ons missie om te gaan probeer om ʼn Suid-Koreaanse maatskappy uit die gemors help. Ek sou op terrein eers uitvind dat daar net twee onse in sy pond was, ek en ʼn nat-agterdie-ore jong Engelsmannetjie, Zack, met ʼn houding wat vir niks skrik nie. Nadat ek sy hoeke afgestamp het, was ons groot maats. Later het ons tot sy troue in Cornwall bygewoon Gou kom mens egter weer agter hoekom ons Suid-Afrikaners so gewild is as oorsese werkers. Ons is goedkoop arbeid, ons is betroubaar en effektief. Ons Boertjies is bekend daarvoor dat ons ʼn plan kan maak, veral die wat uit die Kalahari kom. Ons maak dinge reg met so min soos ʼn stukkie tjoep, ʼn lengte bloudraad en ʼn draadtang. Maar ek loop die storie vooruit. Om eers net op terrein te kon kom, was ʼn ervaring op sy eie.
Geen wonder dan ook dat hulle my besigheidsklas gevlieg het nie, en in ʼn vyfsterhotel laat slaap het die eerste aand nie. Op pad daarheen was ons eerste
grondvat nog op die ou lughawe van Hongkong. Mensig, was dit nou ʼn belewenis! Omdat ek voor in die vliegtuig gesit het en langs die venster, was die hele ervaring net nog meer realisties en skrikwekkend. Toe ons die oggend uit die wit miswolkies neerdaal vir die landing, het ek my verkyk aan al die eilandjies en die honderde bote wat die see heen en weer in alle rigtings oorkruis. Ons mik reguit vir Kowloon, ʼn digbevolkte gebied met een na die ander woonsteltoring styf ingeryg soos soldaatjies langs mekaar. Maar nerens sien ek ʼn landingstrook nie.
Laer en laer sak ons af. Ek hoor hoe die vliegtuig se wiele uitgeskop word. Senuweeagtig kyk ek rond of die ander passasiers nie ook sien wat aan't gebeur is nie. Ons gaan binne in die stad land! Ons daal so laag dat ons tussen die geboue deur vlieg! Of so lyk dit vir my. Ek en ʼn Sjinese tannie wat staan en brekfis maak in haar woonstel, kyk mekaar in die oe. Dan is die geboue skielik weg en verskyn die lughawe vlak voor ons. Net sekere vlieeniers was toegelaat om daar te land, en met goeie rede. Ook nie te gereeld nie. Twee ure later styg ons weer op. Die keer darem nie geboue se kant toe nie.
verby.

 

In Manila neem die taxi drie ure van die lughawe tot by die hotel. Niks verder as net tien kilometer nie. Die Mandaryn-hotel in Manila se Makati-distrik is vyfster verby. Mens voel of jy in ʼn woonstel bly. Die klerekas is van die inlooptipe en daar hang ʼn sagte wit katoen kamerjapon bokant netjiese insteek pantoffels.
Na ʼn smullekker aandete wat onder silwer doppe en op trollies ingestoot is in my voorkamer, skakel ek die spa. Wil ek afkom of moet hulle iemand kamer toe stuur? Kamerdiens natuurlik. Manila is die bakermat van my liefde vir massering. Dis daar waar ek daaraan verslaaf geraak het. Dapper muis kies toe die volle liggaamopsie. Wees gewaarsku, alle voornemende uitwykers uit Suider Afrika, die definisie van wat ‘volle' beteken, verskil nogal drasties van land tot land. Doen eers jou huiswerk en weet wat om te verwag alvorens jy daardie deel van die spaspyskaart probeer. Van toe af moes ek net eenvoudig in elke nuwe land hulle eie styl en tegniek toets. Maar dis ʼn boek op sy eie.

Manilla is ook een van die stede in die wereld wat omtrent nooit slaap nie. Verskriklik oorbevolk en permanent hardlywig met verkeer. Oral sien jy die alombekende Jeepney, die bus waarmee die bevolking vervoer word. Hierdie voertuig het sy oorsprong uit die Tweede Wereldoorlog toe die VSA die eilande beset het. Vandag nog word ʼn vreemdeling as Hey Joe aangespreek, ʼn oorblyfsel van die GI Joe van die oorlog. Die Jeepney lyk soos ʼn kruising tussen die oorlogsjare se
Jeep en daardie geel skoolbusse wat steeds gewild is in Amerika. Die Filippyne bou self hierdie gedroggies. Meestal lyk hulle soos vrolike Krismisbome op wiele
van al die tierlantyntjies, liggies en plakkers. Feestelike gevaartes. Die inklimplek is gewoonlik ʼn oop gaping met ʼn trap aan die agterkant. Die sitplekke in ʼn ry teen die vensters af aan elke kant van die voertuig met ʼn gangetjie in die middel. Hulle oorlaai hom ook maar soos by ons, darem net nie heeltemal so erg nie.
Ekspats moet nie self probeer bestuur in die Filippyne nie. Hulle het ʼn stelsel wat net hulle verstaan. Daar is ʼn pikorde in die verkeer wat gebaseer is op die
grootte van die voertuig. Hoe groter jou ryding, hoe meer reg het jy op die pad. Is jy dus ʼn voetganger is jy die laagste op die lys. Jy gee pad vir ʼn fiets, ʼn
fiets gee pad vir bromponie, ʼn bromponie vir ʼn motorfiets en so gaan dit aan. Die Jeepney is nommer twee. Eintlik bo-aan, want vragmotors is te lomp en
stadig om mee te ding met hierdie voortvliegende gevaarte, die eresimbool van hulle roekelose bestuurders. Gewone sedanmotors is in die middel en viergang
voertuie net een kepie hoer.
Na ʼn lekker Engelse brekfis boek ek uit die hotel en vind dat die drywer van die projek reeds wag met sy een-kepie-bo-die-gemiddelde, splinternuwe 4x4. Klim
ek toe mos ewe onskuldig voor langs die drywer in. Groot fout. Eers neem dit ons maklik twee ure net om die buitewyke van Manila te bereik. Dit gaan teen slakkepas, maar ek verkyk my aan die wemelende mensdom. Na nog ʼn uur op ʼn snelweg draai ons af. Hier begin die sports toe. Ek kon my oe nie glo nie, hierdie mense gebruik elke beskikbare stukkie oop plat aa rde om hulle rysoeste droog te maak. En waar kry jy dan nou ʼn beter plek as op die teerpad! Daar word net eenvoudig so ʼn skuins ry klippe gepak tot op die middellynvan die pad en dan vir so twintig tot dertig meter is een helfte van die ryvlak vol met ʼn tapyt van rys.
Honderd meter verder is dit weer so. Met die eerste tekens van reen, en dit reen gereeld daar, word die spulletjie bymekaar gevee op hopies en bedek met ʼn
seiltjie van plastiek.
Die omgewing is ook bedrywig met kinders en diere. Dit wissel van honde wat oor die rys loop tot by waterbuffels langs die pad. Die pad is nou. Daar is netnet
plek vir twee voertuie om by mekaar verby te kom. Verbeel jou nou jy ry voor saam met ʼn kamikazidrywer wat teen 100 tot 120 km/h voort donner.
Die aankomende verkeer, meestal Jeepneys, kom aan teen dieselfde spoed! Die nagmerriereis van net ongeveer 200km het ʼn volle agt ure geneem. Op die laaste oomblik gee die kleiner een van twee pad, party keer sommer heel van die pad af. Ek wou nie eers dink hoe besluit twee ewe grotes wie swaai uit nie. Daardie dag het ek my eerste grys hare gekry.
Laat die middag kom ons by ʼn groot meer aan. My drywer verduidelik dat hy miskien vir ons ʼn hele uur en ʼn half se ry kan spaar. Senuwees lankal gedaan, is ek maar net te bly om iets anders te ry. Hy klim op die radio en bevestig dat die motorboot aan ons kant van die meer is. Tien minute later is ons aan boord van ʼn vaartuig wat net groot genoeg is om ʼn stuurkajuit te regverdig. En ons vaar daar weg in daardie tuig.
Mense, ek weet tot vandag nog nie hoe daai ou dit reggekry het om die water te verander in ʼn klipharde kalksteen sinkplaatpad nie. Dit was seker die rigting wat die wind gewaai het, maar die boot was omtrent nooit in die water nie. Op en af, op en af, elke keer met ʼn harde slag dat jou tande klap. Net toe ek nou regtig begin terugverlang na die onveiligheid van die motorrit, arriveer ons by Casecnan, die hidroskema wat die Suid-Koreane, aan die bou was. My kamer in die enkelkwartiere het my baie laat terugdink aan my army dae. Darem my eie stort gehad wat in ʼn inham in die muur bo-oor die toilet geïnstalleer was. Dis van die res van die kamer geskei met ʼn plastiek gordyn. Jy het dus ʼn keuse gehad, skyt of stort. Ek het nooit geprobeer om altwee gelyk te doen nie. Kon darem al sittende stort as ek wou.
Dadelik weer erg begin verlang na Kamermaatjie. Gelukkig was ek te besig en te moeg in die aande om myself jammer te kry en die kos het nogal heel goed opgemaak vir die karige verblyfgeriewe.
Die ovaalogies is baie lief vir seekos en daar was gereeld yslike krewe, krappe en garnale op die spyskaart in die menasie. Alles gratis en verniet, hope van die goed.
Hierdie klomp het die slegte gewoonte by die Amerikaners aangeleer om in ʼn oopplan kantoor te wil werk. Blykbaar meer produktief. Se gat, as jy my vra. Wat dit erg gemaak het, was veral daardie verskriklike gewoonte wat omtrent almal oos van Afrika het om keel skoon te maak in die openbaar. Dan gooi hulle dit nog gereeld in trurat ook. Mens se maag gooi sommer so ʼn slag bolmakiesie. Veral die Sjinese en die Koreane is baie erg. Verbeel jou nou net jy sit in so ʼn meerkatkolonie waar almal vir almal kan sien en hoor. Ek het maar gereeld saam met die rokers gaan vars lug skep net om weer my sinne bymekaar te hark.
Om te oorleef moet mens maar net leer inpas. Of jy leer op die harde manier. Ek los toe mos my vuil wasgoed in ʼn bondel op my bed. Met die terugkomslag was helfte weg, tot nou toe. Van my sokkies het nie maats nie. Gou het ek geleer om ʼn wasvaste pen te neem en soos in my koshuisdae elke kledingstuk te merk met my kamernommer B9. Tot vandag toe nog, het ek hier en daar ʼn broek met die nommer B9 aan die binnekant.
Die mensies van die Filippyne tel onder my top vier gunsteling nasies. Hulle is samehorig, hardwerkend, vriendelik, eerlik en getrou. Daarby is hulle baie familievas en vreeslik godsdienstig (Katoliek) asook baie sosiaal. In Hong Kong het ek gesien hoe hulle naweke gereeld in groot groepe op openbare pleine en in parke bymekaar kom. Daar word dan in groepies piekniek hou of net gesit, gele, of gestaan en gesels. Die werkerbye wat ʼn breek nodig het. Oral in Asie en veral in die Midde-Ooste, skop jy ʼn Filippyn omtrent agter elke tweede bos uit. Dis omdat hulle bereid is om goedkoop en hard en enige plek te werk. Hulle is die Ooste se middelklaswerker. Meeste het goeie tersiere opleiding en blink veral uit as kinderoppassers, sekretaresses en verpleegsters, terwyl die
mans van voormanne tot ingenieurs in konstruksie is.
Meestal pragtige mooi meisies wanneer hulle jonk is, maar vrek lelik aangaande die tyd sy afdruk begin maak. Nogal ʼn rare groep mense met ietwat vreemde
eetgewoontes. Hulle is deur die bank mal oor varkvleis en sal duur daarvoor betaal. Veral hier tussen die lapkoppe waar vark baie skaars is. Hulle het ʼn
vreeslike soet tand en hoewel hulle gewoonlik klein en fyn gebou is, word hulle baie gou mollig van te lekker eet. Tot hulle pasta het suiker in. Hulle eet ook hond. Gewoonlik darem die buurman s'n, darem met sy toestemming, want more kom haal hy weer joune. Dan is daar balut. Dis gewoonlik ʼn bebroeide ganseier waarvan die kuiken toegelaat word om te ontwikkel tot dit amper tyd is dat hy uitbroei. Hulle kook hom darem en jy is veronderstel om eers versigtig die dop te breek aan die een kant en dan die sousies uit te suig alvorens jy die res van die kuiken verslind. Vere en al. Ek het nog nooit so honger gehad of soveel moed gehad om eers te
daaraan te dink om een te proe nie.
Ons konstruksiekamp het soort van gesorg dat al drie ‘gemeenskappe' darem die soort kos gekry het waaraan hulle gewoond was. Omdat ek saam met die Koreane gewerk het, was my dieet meestal goed deurspek met skerp smake en sal ek maar se, nog sterker geure. Van rooi tot vuurwarm. Die bekbrand begin al met brekfis.
In die Korea le hulle in die wintermaande kymchee in kleipotte in. Dis ʼn soort kool wat goed gespesery word, veral met knoffel en sommer baie rissies. Die
lekkerny word dan saam met omtrent alles geeet. Op die tafel is ook gewoonlik ook altyd ʼn houer met gedroogde seewierblare. Aanvanklik was ons maar effe
katvoet vir hierdie nuwe poskaartgrootte groen droe papierdun vierkantige velle met die vars reuk van die see. Kamermaatjie, wat intussen by ons aangesluit
het, het eerste begin proe aan hierdie eksotiese produk. Sy is vandag steeds mal daaroor. Ek weer het ʼn voorliefde gekweek oor die kymchee, veral saam
met koue varkvleis. Gelukkig was ek as Westerling beskou as informant oor die Koreane se kamtige slinkse planne om die klient te bedonner en is ek elke naweek uitgenooi na die Amerikaners se gereelde braai. Die koue biere word dan uitgepak en terwyl ek my braaivleislus blus en ons veerpyltjies speel tot laataand, voer ek hulle met onskuldige stukkies skinderkos. Terselfdertyd pols ek weer van my kant af die lang, lenige baas van Texas met sy tipiese stetsonhoed en sy enorme beltgespe waarmee jy ʼn bees kan doodslaan, oor wat hy beoog met my en die kontrakteur. So bly koester ons die ou Oos-Wes agterdog jeens mekaar.
Tydens ons redelike kort verblyf op die hoofeiland Luzon van die Filippyne het ons darem ook gesorg dat ons soveel moontlik uit die konstruksiekamp kom en die wereld rondom ons so bietjie besigtig. As jy die noordelike provinsie waar ons was sou Google, sal jy sien dit le maar net sowat 15 grade noord van die ewenaar. Dit is dus tropies en gevolglik is dit lowergroen net waar jy kyk. Weens die aard van my werk was ons kamp weer in ʼn afgelee en pragtige bergagtige gebied. Daar was selfs gerugte dat net agter die berg daar steeds ʼn groepie kopkrimpers rondloop. Die gerug het ʼn sterk ruggraat gekry toe ons uitvind dat die kampdokter ook daarvandaan kom. Verbeel jou net hoe huiwerig ek was om hom te laat kom toe ek eendag siek in die bed was. Ek vra hom reguit en hy bevestig sy herkoms. Hier en daar krimp die koppe steeds. Die paar toordokters wat dit nog doen, gebruik darem meestal net diere vir hulle kuns. Daar is ʼn ondeunde vonkel in sy oë as hy klem le op die woord meestal. ʼn Kopkrimper met ʼn sin vir humor! So al om die ander Saterdag het ons drywer ons vroegoggend kom optel en dan het ons pad gevat om te gaan verken. Vir die lank van tand wat nog die fliek Apocalypse Now onthou, dit is daar naby gemaak en ons het gaan kyk hoe die betrokke kusstrook lyk waar Marlon Brando en sy trawante verfilm is. Die swarterige sand en die gehawende toestand van die strand en sy omgewing was effe van ʼn antiklimaks. Seker omdat ek al van skooltyd af bederf is met die suiwer sagte wit sande van die Kaapse kus. Behalwe vir die Seychelle-eilande, is daar tot vandag toe nog, geen ander strand wat eers naby Clifton kom nie.
Op pad terug word ons voorgekeer deur ʼn versperring in die pad. Dit was nie vroeer die dag daar nie. Die pale en bokkies waarop hulle rus, is van bamboespale gemaak. Die manne in beheer daarvan dra kamoefleerdrag. Hulle is ook tot die tande toe bewapen. Ons drywer is merkbaar bekommerd en beduie ons tot stilswye.
Een van die manne slenter nader. Hy is donker gebrand en dra ʼn groen gholfkeppie en ʼn paar Raybans. "Van watter land is jy?" vra hy in perfekte Engels. Hy lyk teleurgesteld toe ek hom vertel dat ons van Suid-Afrika is.
"Julle nuwe president is Mandela," maak hy die stelling. Die noem van Madiba se naam het selfs hier in die bosse van die Filippyne ʼn magiese effek. Almal ontspan. "Weet jy wie ons is?" Hy klink sommer baie meer gemoedelik.
"Jammer maar ek het geen idee nie," meneer ek hom, want hy het steeds ʼn geweer in die hand. "Ons is die NPA," kondig hy aan en ek kan sien hy verwag ek moet beindruk wees. "O" is al wat ek uitkry, maar darem met opregte wydgerekte oe.

"NPA staan ook vir No Permanent Address" se hy met ʼn bree glimlag terwyl hy vir een van sy manne beduie om die pale te lig en ons deur te laat. So met die wegry verduidelik die drywer bewerig en sigbaar verlig die rede hoekom hulle geen permanente adres het nie is omdat die NPA staan vir National People's Army, ʼn verbanne terroristegroep. Ons was baie gelukkig. As die NPA enigsins gedink het ons het gyselaarswaarde, sou hulle ons net daar die bosse in gesleep het. Hulle sou hom dalk nog laat gaan het met die losprysboodskap vir die pers.

 Nog ʼn onvergeetlike naweek wat ons in die Filippyne deurgebring het, was ʼn besoek aan die plek wat bekend staan as Honderd Eilande. Idillies, net een woord opgesom. Die keer besluit ons toe om sommer ons drywer en sy familie ook saam te neem. Die meeste van die mense is Katoliek met die gevolg dat daar geen keer aan kinders kry is nie. Ons het toe maar die orrelpypies ingepak tot daar nie meer plek was nie. Gelukkig het hierdie nasie ʼn baie uitgebreide sisteem van familie ondersteuning en het ouma en oupa na die paar wat oorgebly het omgesien. 

 So ver soos ons ry sien mens die groen lappieskombers patrone van die rys ‘paddies' op elke stukkie bewerkbare grond ingedruk. Selfs hoog op teen die berge maak hulle terrasse vir rysaanplantings.Nadat ons die eerste aand in ʼn hotelletjie langs die strand geslaap het, neem ʼn motorboot vir my en Kamermaatjie met ʼn piekniekmandjie en ʼn paar bottels bier en wyn na die eilande. Ek reken daar is baie meer as net honderd van hulle in hierdie baai met sy wit sand en helder ligblou, silwerskoon water. Nie een van hulle is baie groter as so 50 meter in deursnee nie. Party klipgooi naby aan mekaar en ander weer heelwat verder en alleen. 

So met die verbyvaar  sien ons oral paartjies en  klein groepies piekniekers wat vriendelik waai. Ek en Annabelle wuif skaam dog koninklik terug. Ons word op ons eie piepklein eilandjie met sy eie strandjie afgelaai. Hy is heeltemal alleen en die ander eilandjies is amper buite sig. Die man met die boot spreek af om ons laat middag weer te kom haal. Hy stem saam en beveel aan dis  ʼn lekker plek vir kaalgat swem. Ons maak ook toe so. Nie heeltemal poedelnakend nie. Ons elkeen het darem ʼn duikbril en ʼn paar paddavoete aangehad.
Eers bietjie huiwerig en met baie wyd rondkyk. Toe ontspan ons en ervaar die lekkerte van nudisme. Ons ontdek tot ʼn onderwater grot wat binne oopmaak met ʼn gat in die dak waar die son in skyn. So swem en lê ons punt in die wind en piekniek die hele dag op ons eie eiland tot die motorboot ons kom haal.
Die groot ding wat mens altyd moet onthou terwyl jy oorsee werk en woon, is dat jy ʼn besoeker bly tot tyd en wyl jy permanente verblyfsreg verkry. Dis baie veiliger om maar liewer jou gevoelens en mening vir jouself te hou oor hoe dinge verskil van dit waaraan jy gewoond is in jou eie land. Dink maar daaraan oor hoe jy voel wanneer toeriste Suid Afrika kritiseer. Soos wanneer die Trônsvôlers Deetsemmer in die Kaap begin kla oor die wind en die min parkeerplek. Dan wil ons hulle sommer vertel waar hulle hul koffiemoer kan gaan uitgooi. Party mense meen dat sodra jy belasting betaal, kan jy maar jou bek rek. Daar is egter goeie maniere en die gesonde verstand wat ons ouers ons geleer en gegee het en waarvoor ons as Suid Afrikaners steeds bekend is. So bly ʼn stil bek ʼn heel bek en luister ek maar net as ons naweke saam met die Amerikaners braai. Veral wanneer hulle uitvaar teenoor die plaaslike bevolking en die Koreane uitkryt as arrogant en domastrant. Dit kos daardie tyd tande kners om nie iets te sê nie. Verbeel jou, Amerikaners wat ander mense arrogant noem! 
Die Yankees se grootbaas roep my een braaisaterdagaand eenkant toe. Hy waarsku my dat as die Koreane nie baie vinnig hulle sokkies optrek nie, hy geen keuse gaan hê as om ons van die projek af te skop nie. Die Maandag vertel ek ons projekbestuurder van die dreigement. Hy lag net selfversekerd en reken dit sal nooit kan gebeur nie. Hulle het blykbaar al voorheen so gedreig en daar het niks van gekom nie. Dit sal dit die hulle te veel kos om nuwe kontrakteurs aan te stel. Boonop is ek mos nou ook daar en maak ons baie goeie vordering.
Twee weke later gaan kuier ek en kamermaatjie in Hong Kong by vriende en oppad terug doen ons sommer die maand se inkopies in Manilla.  Al twee is vrot van die griep. Terug in die kamp raak ons bedlêend. Selfs die kopkrimpdokter se muti wil nie die keer werk nie. Vroeg die tweede oggend is daar ʼn gehammer aan die voordeur. Klink of hulle dit wil afbreek. Ek strompel deur toe. Dis twee vreemdelinge in sekuriteitsuniforms. Ek moet dadelik aantrek en my kantoor gaan ontruim. Annabelle kry ook net twee ure om  te pak. Ons moes toe ons hele maand se proviand net so daar los.  Die Amerikaners maak toe soos hulle gedreig het, hulle gooi ons van terrein af. 
By die kantore dwaal die verdwaasde Koreane soos slaapwandelaars rond.   Hulle kan nie glo wat met hulle gebeur nie. Daar staan reeds ʼn klomp busse gereed om ons te laai. Onder die wakende oë van een van die wagte mag ek net my eie persoonlike eiendom uit die kantoor neem en die res net so los. 
Ek kry darem kans om my baas in Hong Kong te kontak en hy reël inderhaas vir ons ʼn blyplek in Manilla terwyl hy probeer om ons weer terug te kry op die projek. Die keer bly ons nie weer in die vyfster hotel nie. Ons trek by ʼn losieshuis in die agterstrate van Manilla in. Hier sien ons die werklike Manilla, hoe beknop en op mekaar almal leef. Hoe elke hoekie en gaatjie benut en bewoon word. Wat my veral beïndruk het, was dat ten spyte van die baie duidelike en sigbare armoede, daar steeds ʼn glimlag op meeste se gesigte was. 
Tien dae later laat weet die baas daar is geen meer salf aan Casecnan te smeer nie, ons moet maar terug kom Hong Kong toe.

 

 

HOOFSTUK 3 - HONG KONG