MY SIEWIE
Glip in Victoria-Wes van die produksielyn af in die laat veertigs as Merk I [van III] en spandeer die
eerste 16 jaar van my omswerwinge op ‘n plekkie met die naam van Pampoenpoort.
Groet my skoolhoof en sy span juigende pedagogiese handlangers in Richmond [Kaap] in 1967 en gaan kring
rondom die lelies en hurk oor katgaatjies saam met my makkers vir ‘n jaar – vir vokken hasie [‘skies; volk
en nasie!]
Begin vreet uit die krip teen die einde van ’67 by die landdroskantoor Colesberg. Bykans 41 jaar
[en 11 verplasings!] later spreek ek tans vir die afgelope 17 jaar die reg in die howe van Vredenburg. [Verplasings was later
so knaend en erg dat, elke keer as ons honne en hoeners ‘n groterige ding hoor dreun, loop staan en sit hulle sommer
vanself oppie sypaadjie – reg om te trek!]
Verplasingsrekord lyk asof my GPS gom gesnuif het: Colesberg, De Aar, Vredenburg, Springbok, Fraserburg,
Cradock, Dannhauser, Groot Marico, Koffiefontein, Malmesbury, Hopefield, Vredenburg.
Regskwalifikasies verwerf deur UNISA [Maar het nooit vir my alma mater rugby gespeel nie en die kroning
as joolprinses vrinnelik vannie hand gewys!]
Sweis ‘n eg saam met Rene sowat 37 jaar gelede en word as egpaar geseën met twee egters en twee
klein egtertjies.
Kry uit die bloute ‘n verplasing “Ons Dorp” toe en verkeer tans onner geweldige druk
van Hennerik en Kie – met die nodige aanmoediging van oorle Oompie Doors vanuit die graf – om die ink-honger “uitgewekenes”
met wáre verhale te vermaak!
Hettie eintlik talente nie, maar benut die verspeelde lente ommie stories [met beperkte lengte] tot in
lente van dae te probeer vertel.