DRIENASIES
So sit Dippies
en sy buurman Frik mos Saterdag daar in Dippies se “privaat losie” tuis en stapel proviand et al op om te kyk
hoe die Bokke die All Blacks gaan opf….rommel.
Lekker opgetense
oor die voorskou. Hang ewe plegtig die Vierkleur voor die binnebraai op en gooi ‘n ou flenter Union Jack as kleed oor
die proviand tafel. Berg van Kastele gebou. Nuwe Coke Zero’s opgeline om die Wellington mee te verdun.
Drie boomstomp grootte beesbiltonge op ‘n skinkbord gedrapeer en 4 pakke Simba sout-en-asyn tjips op die kantlyn. Net
vir ingeval. En ‘n bakkie peanuts – vir impak!!
O ja, en
Dippies het ‘n vuvuzela by Pikkewyn by die drankwinkel persent gekry. Dié
staan neffens sy stoel om die groot oomblikke mee te basuin. Sommer kans
om fiks te word vir 2010 se spektakel.
Naas-goed
probeer nog om ingeligte kommentaar te lewer oor hoe dit gedoen moet word, maar Frik-goed kan g’n stuk niks hoor nie,
want 35,000 tromme op Nuweland lui die nuwe era in. Hoor en sien vergaan. Naas lyk soos iemand wat in ‘n sinkskuur op
die Knersvlakte staan en sing midde in ‘n moerse haelstorm. Lippe beweeg, maar g’n geluid nie!
Wonder Frik
wat het gestaan en word van banjo’s, kitare en saksefone. Dís mos Nuweland musiek. Nie hierdie midde-Afrika gerommel
nie. Dippies stry nie. Knik en kou net.
Fluitjie
blaas en Butch skop ‘n regte ou k*k skoppie. Frik stik in sy tweede Kasteel en Dippies laat val ‘n Zero van die
kroegtoonbank af. Spuit onder oorverdowende trom-getjommel alles binne reikafstand nat en taai! Asof ‘n voorspel vir
wat nog gaan kom.
Frik se
derde kasteel vou hy sommer so opslag in sy vuis toe toe die swartspan gaan score Skuim loop teen sy hand af en hy trek ‘n
Lot se vrou op hom. Versteen soos ‘n soutpilaar en staar na die kassie asof EVKOM so
pas “load geshed” het!
Manne, en
toe begin die pêre mos die stange deurbyt. G’n keer nie. Dippies donner twee blokkies ys in Frik se bak peanuts in plaas
van in sy eie glas. Habana sny lyn en gaan score. Gryp Dippies die vuvuzela en
hol voorstoep toe om die “try” te trompetter.
Vir die
wat nie weet nie – Dippies het twee honne. Tessa, die oudste, reeds gevorderd
tot bykans 112 mensjare. Stokblind en vrot van Alzheimers [of wat ookal ou honne kan
kry] en ‘n middeljarige reunhond, Ketoolsie.
Met die
dat Dippies die vuvuzela oopdraai, spring Tessa vervaard op en val die eerste en naaste potplant verwoed aan! Ketoolsie val
van die voorstoep af en hol swembad toe. Dek sommer opslag die Kreepy Crawley!
Frik skrou
Dippies moet sharrap en die TMO se beslissing kom kyk – Dissie ‘n drie nie!
Vlieë teen
die muur maak video en digitale kameras bymekaar om hierdie spulletjie vir die nageslag vas te vang.
Gryp Frik
die Geelbladsye en begin vervaard die SPCA se nommer opsoek. “Hoe de donner kan hulle ‘n gidshond aan ‘n
blinde skeidsregter se fluitjietou vasmaak en toelaat dat hy die stomme hond die veld vol rondsleep!” bulder hy. Enigste
een wat Frik se tirades hoor skyn Matfield te wees, want twee keer probeer hy die skeidsregter se donkerbril afhaal om saam
met sy fluitjie en wit kierie in sy gat op te druk. Of altans, so moedig Frik aan!
Ons twee
vrinne raak al stiller en stiller. Staar nikssiende na die kassie. Dippies gooi nog ‘n Wellingtontjie en met die wat
hy dit wil opkikker met ‘n Zero, gil Frik soos ‘n haweslet met ‘n orgasme. Val Zero die tweede keer. Spuit
Zero vir die tweede keer.
Dippies
dog Frik was in ‘n trapskrum te oordeel aan die bloed. Beduie pawiljoen toe vir noodhulp. Staar Frik met oopgesperde
oë na sy linkerduim sonder kop! So meegevoer geraak dat hy die biltong met 4cm misgesny het!
Brandewyn
hettie brieke nie! Dips gooi ‘n stywe knerts in in ‘n lang glas en verdowe vir Frikman opslag. Verbind vernuftig
die wond met die Union Jack en sê: “Jy kan maar cheer
en beduie met daai hand, maar net nie as die Bokke dalk score nie. Tussen al die k*k is daar nie nog plek vir Hensoppers en
Hanskakies ook nie!”
Algaande
raak onse vrinne al stiller en stiller. Kom kyk die vrouens of of hulle nie dalk AVBOB se pawiljoen toe is nie. Soos geitjies wat pypolie ingekry het sit die tweeman skare en staar na die kassie. “Alles
nog oukei?”, vra vroulief Dips. “Is julle donners blind?” skrou die skare. “Lyk dit vir julle of als
oukei is? Ons bleddie Olimpiese span vaar beter as hierdie spul palookas!”
Blaas Vroulief-goed
maar die aftog en sluip uit die losie uit. Brom iets van “dronkgat swak verloorders” maar versigtigheidshalwe
buite hoorafstand. Gaan bêre solank die snoek en patats. Die twee groentruie gaan na dese in elk geval te moeg wees om rooster
om te draai!
Kerf, skink,
kou, sluk. In stilte. Twee ongelowige Thomasse wat nie kan
gló wat hier voor hulle oë aan’t gebeure is nie.
Doodsnikke
van die wedstryd – nog doodsnikliker is die voorraad Kasteel en Wellington.
Skare sit nou knikkoppie en staar na die swart sekels wat besig is om alles wat groen is met presisie af te maai.
Steyntjie
na De Villiers, De Villiers “pass” sierlik na die Swartspan en die Hakas dryf die laaste spyker “smile-smile”
in die groen kis met die goue deksel in.
Shê Dippiesh:
“Frikman, hulle kan shê wat hulle wil, maar nou het
daai donnershe All Blacksh darem shmart by onsh agterlyn aangeshluit. Onsh gaan nie weer gou sho ‘n shkitterende agterlyn
beweging shien nie!
“Ish
sho”, beaam Frikman en voeg by: “Volgende Shaterdag gaan ek die vrou en kindersh vat om blomme by Shitrusdal te
gaan kyk. Kom julle shaam?”
En so sit
onse twee vrinne verbysterd en luister hoe die coach, van agter ‘n swaar snorgordyn, met sy helium stemmetjie, almal
probeer wysmaak perdedrolle is vye.
Swaar sug
ou Dippies: “Met eish ja, met eish!”
André Dippenaar
Vredenburg
18 Augustus 2008