So loop staan en ry ek mos op ‘n slag saam met oorle oompie Doors Calvinia toe. Begrafnis toe. Hettie eers die
oorle oom geken wat ingespit word nie. Net saam ter wille van geselskap.
So in die ry vertel oompie Doors vir my van díe slag toe hulle vir oorle oom Kareltjie Nel, Kareltjie Katknyp het hulle
hom gestaan en bynaam, onner ‘n sandkaros loop staan en toemaak het.
Was die ou nooit getroud. Oom Kareltjie. “Maar”, vertel oompie Doors, “so is die ou darem nie sonder
die vreugdes van die vlees weggeraap nie. Kon g’n ding wat hurk en piepie met rus laat nie. En wýn gevat, ou Swaer,
die ou het gesmaak oor ‘n
bottel harrehout soos hanslam oor ‘n vals tiet.”
So boer oorle oom Karetjie Katknyp tussen Brandvlei en Kenhardt. Alleen soos ‘n weesdas in ‘n voerkuil.
Droë wêreld. Dáái kontrei. Weet Oompie te vertel lat die ou mense wat kon onthou, sê dat met die Sondvloed het daar
nie ‘n enkele druppel reën geval nie. So droog dat Noag die ark tussen Brandvlei en Carnarvon met donkies moes loop
staan en sleep het.
So loop staan en sak daar mos op ‘n dag ‘n weer uit wat g’n mense-oog vir jarre aanskou het nie.
Lyk dit vir die ou lat dit wyd reën. So loop staan en bel die ou sy buurman midde in die gedonder en gebliksemry om te verneem
of daar darem ook ‘n watertjie val.
“Is dit mos net daai tyd lat die Man met die Sens loop staan en boeke opmaak en oom Kareltjie se nommer raakblaai.
Raak die Sensman halfpad oorhaastig en loop maak hy sommer vir oorle Kareltjie met ‘n bliksemstraal bymekaar. Slaat
weerlig oppie telefoonpaal by die hoek vannie huis en hol sulke blou vlamme al met die drade langs, deur daai outydse houtbokstelefoon.
Ruik jy net hare en skroeivleis. Kom kry Buurman hom stokstyf langs die telefoon lê. Gehoorbuis swart gesmelt in die ou se
hand. Kos
vir ons die koort knip en die ou so met gehoorbuis en al kis.” Vertel Oompie.
Bel die prokureur vir oompie Doors. Is een van oorle Kareltjie se laaste wil en wense dat oompie Doors sy begrafnis
moet reël Geheel en al vyfhonderd pond bewillig en loop staan en beskryf Oompie moet oppie soller loop kyk. Virrie kis. Klaar
betaal. Spiknuwe pyjamapak innie kis. Virrie reis Oorkant toe.
“Haai en reken, het die ou mos g’n kind of kraai nie. Sal hy so wragtig die plaas en alles wat daarop is
vendusiewaardig beskrywe. Pla die ou se gewete geheel en al die opbrengs Pretoria toe. Tehuis vir ongehude moeders toe”, borduur Oompie
voort.
Wil g’n predikant vir ou Kareltjie help bêre nie. Reken Oudoom dat nie eens die Voorsitter van die Ring sy weg
oopsien om vir die ou ‘n boodskap vir die pad te kom gee nie. Kwansuis oorlat hy met sy doop laas die binnekant van
‘n kerk gesien het. En natuurlik die annerlike stories. Soos die katknypery in die donker. Stories wat nie kans had om by die Eerwaarde Kerkraad verby te sluip nie.
So vat oompie Doors voor. Sal sommer self die teraardebestelling doen. Saam met ‘n horde drinkebroers en ander
welmenende belangstellendes.
“Nou moet jy weet ou Swaer, daai dae was ‘n man se gerekentheid gemeet aan die val van die trane en die
hoorbaarheid van die geween. So loop staan en en kry ek pryse by die begrafnisonnernemer. Het hy mos ‘n spulletjie opgeleides
bymekaar gemaak wat jy kan huur. Vir een pond loop en snik
hulle saggies agterrie kis aan. Teen een pond en tien sjielings loop en tjank hulle hoorbaar. Vir vyf pond ween hulle oordadig
en werp twee van hulle hulle sommer oppie kis neer wyl dit gat af sak. So besluit ek en my feeskomitee ons gaan vir die laaste
opsie.”
Dag van begrafnis staan werf vol rygoed. En mèns. Meesal mansmense. Net handjievol vroumense te sien. Reken oompie
Doors dit was seker net die paar onvergenoegdes wat oorle Kareltjie in lewe oorgeslaan het. Seker kom oortuiging soek dat
hulle laaste kans werklik toegegooi word.
Plaasvolkies begin grou in daai harde grond. Ses by drie by ses het oompie Doors self die bouplan loop staan en teken.
Begin die manne al vroeg afskeid neem. Wit bolle skuim op die mout. Bottel vir bottel hardehout groet hulle. Teen dienstyd
is meeste begrafnisgangers al duidelik getreur. Loop sommige van hulle sommer so langs hulle eie spore. Val agter die kis
met gehuurde weners in.
Kom kring die ou spulletjie in verskillende staat van droefenis rondom die gat. Bid oompie Doors. Sê dankie vir die
voorreg om rondom ‘n ge-opende graf te kan kom staan.
Sê dankie dat oorle Kareltjie se lewe so vol avontuur kon gewees het. Pleit dat die Liewen Heer hom toggie te hard sal oordeel
oorlat hy meer kwaad as goed loop en doen het nie. Soebat dat Hy tog kennis sal neem van daai bemaking aan die ongehude moeders.
“Ter versagting in U naamswil” is sy laaste versugting voorlat hy daai gebed plegtig met amen tot halt loop staan
en roep.
Sing die spannetjie droefgeestig “Rust mijn siel….” Ook maar ylerig, want g’n mens het gesangboeke
saamgebring nie. Loop raak een van die erg bewoë vrinne by die tweede versie deurmekaar en
sit in met “O brannewyn laat my staan” Uit volle bors beaaam en ondersteun die res van die agtergeblewenes.
Vertel Oompie lat toe die manne daai kis met baaltou stemmig laat sak, issit mooi die tyd lat een van Satan se duiweltjie-telge
ongenooid daar loop staan en aankom. Beset hy oom Gert Abjaterskop se liggaam opslag. Soos daai swyne innie Bybel. Trap die
ou die gat se rant mis. Gly die graf in. Amper soos ‘n otter teen ‘n nat rivierwal af. Loop staan en val hy ekstra
gewig bo-oppie kis.
Gly daai baaltou in slote deur daai klompie kis-sakkers se hanne lat daar eintlik ‘n wolk rook bokant daai graf
loop staan en hang. Stink daai hele vlakte na geskroeide mensvleis.
Ween daai spul kis-sakkers ag keer harder as die spannetjie gehuurdes. Het hulle gewenery g’n stuk niks met hartseer
te make nie.
Loop staan en slinger
nog vier droefsuipiges al singende die gat in.
Toe’s daai oorblywende manne éérs vrolik bedroef. Gryp een sommer ‘n graaf en beginne opslag toegooi. Beginne
help die anner spul ook. Toe’t die grawe loop staan en opraak, loop staan hulle sommer so kaalhanne en grond bymekaarmaak.
Maar toegooi, die góói hulle!
So met die klap van kluite issit mos net mooi die tyd wat ons Calvinia loop in ry.
Sê oompie Doors, “Ou swaer, dis net deurie liewe jirretjie se genade lat die grond daai slag loop staan en min
raak het, anners het dit vir ons gekos marmer van Italië af gelat kom het om vir daai massagraf ‘n deksel op te sit”
Loop ruk ons bedees tot stilstand vlakvoor Calvinia se kerk.
André Dippenaar
Vredenburg
18 September 2008