So gesels ek en oompie Doors oor daai tyd innie vroeg 60’s toe my oorle pa vir hom ‘n nuwe mouter geloop
staan en koop het. Zephyr Four. Groen en wit. Uitie boks uit.
Onthou oompie Doors, “Jou Oukêrel het mos eintlik die plaaswerf kom staan en in skou mettie mouter. Loop staanie
mense eintlik gewyd-stil ommie kar. Amper soosie Boerevolk destyds toe oorle oom Paul Kruger in staatsie loop staan en lê
het. Besef ek mos opslag lat ‘n mooi ryding, nes ‘n goeie begrafnis, ‘n man se aansien ten goede met status
kan
loop staan en besmet. Besluit ek met opset om vir my ook ‘n ryding aan te skaf. Ene wat mensie hoef te staan en self
trap of met diere te loop staan en slepie”
So, vertel Oompie, gaan hy op ‘n slag dorp toe om so ‘n ryding te loop staan en soek. Gesels byrie garage
met die manne. Die Spanner broers was hulle genoem. Drie van hulle. Bobbejaan, Shifting en Ring. So wysie manne vir hom ‘n
Harley Davidson wat hulle loop staan en rywaardig maak het.
1939 masjien. Oorskiet uitie Groot Oorlog uit. Donkergroen masjien. Mette ‘n syspan. Koop Oompie homself opslag
insolvent aanie ryding. Laaste bietjie spaargeld moer toe. Kry die ou darem nog so ‘n leerkepsie van ‘n Spitfire
vlieënier en ‘n half gelling petrol oppie koop toe. O ja, en brille ommie tôrre, muggies en brommers uitie oë te hou.
Wysie manne vir Oompie hoe die ding aan’t lewe kom en hoelat mens die klats ennie gheers werk. Issie spasie innie
dorp te nou virrie ou om te oefen. Besluitie ou ommie ding plaas toe te stoot en daar annie gang te loop kry.
“Ou Swaer”, vertel Oompie, “so kos dit vir my stoot aan daai kontrepsie. Dag-en-‘n-halwe stootreis
ver plaas toe. Moet ek innie saaidkar loop staan en wegkruip toe die honne my oppie werf loop staan en oorval. Skrou oorle
oupa Hennerik, ‘Antichris, klim uitie boks uit, my hanne word lam vannie honne vashou’ Loer ek oorie saaidkar
se rant. Sê oorle Oupa, ‘Jirretjie Doors, wat vanne ding het nou vir jou hier oppie werf kom staan en aansleep?’”
Bekeer Oompie vir oorle Oupa tot kalmte. Vertel vir hom die ding vretie voerie, jy hoef hommie koud te lei nie, hy
vangie skaap nie, hy’s vinniger asse eselwa en amper so betroubaar soosie Groot Boek. Oortuig vir oorle Oupa om te help
ommie ryding te loop staan en inbreek.
Maak hulle vir oorle Oupa ok ‘n kepsie. Vanne ou pispot. Sittie oor aanie agterkant. Gate mette sesduim spyker
innie pot se rant gekap. Maak hulle die beskerming onner Oupa se ken met baaltou vas. Span hulle ‘n stuk plêstiek met
onnerbroekrek oorie ou se oë ommie tôrre te keer.
Drie groot bekers blits later sittie ou innie saaidkar. Vra oomblik van gebed om genade af te smeek. Was mos ‘n
kerkmens. Vra die ou mooi lat die Liewe Vader die plaaswerf mette leërskare Engele sal omsingel.
Vertel oompie Doors, “Ou Swaer, so loop gee ek die ding daai halwe gelling petrol in en trap hom mettie tweede
probeerslag in lewe in. Los ekkie klats en vloog ek en oorle Oupa daar weg. Loop staan en jaag ons sewe keer ommie voerstoor.
Skrou oorle Oupa soosie trompette ennie ramshorings vannie Israeliete daai slag toe hulle so om Jerigo gejaag het. Hou die
mure vannie voerstoor, maar gee die poorte vannie hoenerhok mee. Jaag ons loshanne deurie hoenerhok. Verdwyn ons pad af inne
wolk van vere en omgewe met eiergeel”
Weet Oompie te vertel lat toe hulle die plaashek nader, loop staan en vergeet hy skoon vannie lesse wattie Spanner
broers hom gegee het. Raak hy skoon deurmekaar mettie vetgee ennie stop. Jaag deurie konsertinahek. Slepie hek agter hulle
aan. Dorp se kant toe!
Reken Oompie lat toe hulle dorp loop staan en injaag, kan
hy g’n stuk niks voor hom sien nie. Issie bril toegekoek met eiergeel en tôr derms. Staan oorle Oupa daai tyd skiertsregop
innie saaidkar. Loshanne. Pot oorie ou se oë gesak. Bek oop soos kraai innie somer oppe telefounpaal innie Knersvlakte. Kannie
ou nie ‘n geluid uitkry nie. Staanie ou se kieste eintlik bol van allie muggies, brommers en tôrre wattie ou langsie
pad loop staan en inkry het.
“Ou Swaer, daai tyd laat ek my lei deur die geskree vannie mense en die karre se hoeters wat blaas. Hou ek mooi
Kerkstraat af., Bestyg ons die sypaadjie net voorlat ons loop dorp uit gaan. Loop hol ‘n lamppaal mooi tussen my mouterbaaik
ennie saaidkar deur. Bly oorle Oupa ennie saaidkar alleen agter. Half opgehang aanie pastorie se heining. Is ek dorp uit.
Van Rhynsdorp se kant toe”
“Dood kry ek die ding nie. Leeg ok nie. Vat daai halwe gelling petrol my amper tot in Van Rhynsdorp. Dis lat
toe ek Van Rhynsdorp se mense hoor raas, lattie laaste drie eetlepels petrol deurie ding se keelgat loop staan en deurloop.
Loop staan en rukkie ding homself dood. Kop tussennie voorbene loop staan en steek hy vas.
Loop staan en val ek amper ‘n voetbolveld se afstand verder voor hom innie pad.”
Oompie vertel lat toe hy sy oë loop staan en oop sukkel en die laaste leksel eiergeel en tôrderm met sy mou loop staan
en wegvee, sal hy sien lat op net drie na, allie inwoners van Van Rhynsdorp rondom hom loop staan en bymekaar kom het. Enigste
drie wattie daar wassie, was ‘n antie wat besig was om te kraam ennie vroedvrou enne ou oom wat innie lykshuis innie
yskas gelê het.
Hettie burgemeester vir hom ‘n geleentheid mettie poslorrie terug huis toe gereël.
Die Harley hettie ou sommer daar innie pad aan ‘n mekêniek staan
en verkoop. Vir twee pond. Mettie helmet ennie bril oppie koop toe.
Die saaidkar het Ou Doom persent gekry. As voertrog vir sy pêre gebruik.
“En”, so vertel Oompie, “die eerste keer wat oorle oupa Hennerik weer saam met my op ‘n ryding
geklim het, was toe ons hom jare daarna sipresse toe gevat het. Toe sit ek voor innie lykswa byrie onnernemer en Oupa lê agter
in, hout-overall aan. Sonner hoofdeksel en brille, want teen daai spoed en op daai pad was daarie muggies en tôrre nie”
André Dippenaar
Vredenburg
13 Oktober 2008