Tot
Woensdag se kant het ons twee vrinne in ‘n lamferwaas geleef. Praat nie veel nie, loop en bloei binnekant toe! Selfbeeld,
soos Ketoolsie se sinnigheid vir die Kreepy, moer toe!
Brandewynbeloftes
en nuwejaarsvoornemens, so reken Dippies, het half-en-half ‘n sterk ooreenkoms met die verwekking van meeste laatlammetjies. Wanneer die brieke oor daai oordadige aanwending van ‘n ou Wellingtontjie beginne
gly, worry ‘n man mos nou nie eintlik oor die botsing en gevolge nie! As
‘n man dan nou per ongeluk van die beloftetjie vergeet, so filosofeer hy, het dit mos die vuil gewoonte om jou met dieselfde
slag as die aankondiging van die koms van ‘n laatlammetjie te tref. Onverwags,
amper soos appelkoosmaag!
Woensdag
was Frik-goed se appelkoosmaagdag. Herinner die die rokvolk hulle twee mos ewe aan die blommekyk-belofte. En nie sommer net
só nie – herínner soos in reisplan, transport, spyskaart, reëls en alles met militêre presisie. Drankvrye kultuurtoer
verklaar
Frik
mompel ontsteld iets van “Bleddie buns vreet wat lyk of dit in ‘n African Grey se hok groot geword het, vrot vannie
sonneblompitte” en “tee suip soos ‘n span pastoriekoeke wat ‘n kinnerkrans dans beplan”
Saterdagoggend.
Blou Datsun 1400 met canopy vat koers blomme toe. Frik isegrimmig self agter die stange. Dippies, die GPS van vlees en bloed,
dui koers aan. Rokvolk en Frik se twee spruite agterin by die coolboks vol sappies, buns, vrugterolletjies en ander kilojule-afwerende
middels gepak.
Gerrie Pretorius kerm hulde aan Bles op die CD.
Tussen
die Kersefontein en Aurora afdraaipaaie lê die noodlot op loer soos ‘n struikrower. Vir die van julle wat
dalk nie weet nie – dis nou op pad tussen Veldrif en Piketberg – die roete blomme toe.
Een
moerse slag onder die enjinkap. Alternatorliggie gloei rooier as ‘n escort
girl se geverfde toonnaels. Toerdirekteur Frik roep na boven en beslis nie in afsmeking van genade nie. “Donnerse fanbelt
het gekalf. Dis nou mooi, dis nou donners mooi!” diagnoseer hy.
“Pappa,
die kinders”, maan die liefde in Frik se lewe hier vanuit die passasiers gedeelte. “Kinders se g*t!” brom
die drywer en trek die toerbus af.
Krap
in die rooi toolboksie rond, maar g’n niks spaar fanbelt nie. “Susan”, kommandeer die busdrywer, “een
van julle vroumense moet nou vir my ‘n pantyhose gee lat ek die beengedeeltes kan
gebruik vir ‘n nood belt tot in Piketberg”
Wat’s
die kanse? Rokvolk getooi in jeans en panties sonder hoses! Blommetoer in sy moer.
Adviseer
die GPS: “Frik, vat jou onderbroek se rek, die ding behoort te hou tot naby Sanddrift, dan bel ons vir Gys om te kom
help”
Mor
Frik tot agter ‘n rooipitjie bos en kom ‘n minuut of wat later terug bakkie toe met die Jockey noodhulp in sy
hand.
Onderbroekrekke
is nie pantyhose nie. Pantyhose is wrywingbestand - soos Shark ondersteuners. Onderbroekrekke is bloot vir support, amper
soos Stormer fans. Skaars 500 treë verder gloei rooi-oog weer, maar nou soos ‘n sigaretkooltjie, kompleet met ‘n
wolk rook wat onder die enjinkap uitborrel!
“Vandag
staan en brand die bleddie bakkie nog uit ook” bulder Frik. Stilhou, deur
oopmaak, uitspring en enjinkap oplig - gesinchroniseerd – so asof die noodprosedure
vooraf ge-oefen was.
Moet
myself eers in die rede val. Noodbeplanning, so reken onse vrinne toe hulle agterkom die blommetoer is ononderhandelbaar,
is nie in ‘n vroumens se verwysingsraamwerk nie. Dippies is ‘n diep denker. “Tussen daai blomme en fynbos
krioel dit van slange en gifgoed. Sal ‘n Wellingtontjie onder die seat moet bêre net vir ingeval ‘n gifding een
van ons bykom. Met my suikerprobleme moet ‘n Coke Zero saamgaan. Vrugtesappies donner my dalk net in ‘n koma in”
Ses
Kastele is ‘n bekwame elikser vir “sonsteek en dehidrasie” reken Frik toe hulle Vrydagaand die noodhulp onder die sitplek wegsteek.
Verlede
Saterdag het Dippies agtergekom dat ‘n Zero wat val en ‘n brandblusser net een verskil het – voorkoms!
Kook
Datsun verwoed. Rook en vuur onder die enjinkap! Gryp Frik die brandende onderbroekrek en smyt dit doer tussen die bosse in.
Laat val Dippies ‘n Zero en spuit die 1400 se enjintjie te midde ‘n stoom Zero tot bedaring!
“Pa”,
kla Klein Frik, “praat met Sareltjie, hy sit en poep vrot hier agter in die bakkie. Ons kan dit nie meer hou nie!”
“Frikkie,
jou taal. Sommer lus en spoel jou mond met seepwater uit. Mens sê ‘wind gelaat’, nie daai lelike P woord nie”
betig Susan.
“Ma,
hy’t nie ‘n wind verlaat nie, ruik my hy’t in sy broek geskyt!”
mor Klein Frik.
Nes
die spul Israeliete destyds met oorle Moses – met niks tevrede nie. Regte spul klagatte, dink Dippies amper hardop.
“Sharrap en help ruik dit op!” grom
Frik.
“Ruiter van die windjie” sing Gerrie.
Frik
se moer nou so suur soos makouk*k en die nerwe van die res van die toergroep ook maar rou geskawe. Dippies probeer vir neef
Gys skakel, maar niks gemaak nie. Boggerol sein en nog minder verkeer. “Groter kans
dat die Pous ‘n buisswangerskap gaan ontwikkel as wat ons het om nou gehelp te word” loop en brom hy.
Nkosi
sikelele iAfrika! Redding. Dube’s Taxis - met whitewall tyres en al - kom stop. Lyk vir Dippies of 42 staande en 28
sittende passasiers uit die Toyota minibussie bondel.
Anties
hol met bont komberse bosse se kant toe. Hurk in ‘n ry soos kallers in ‘n voerkraal en doen wat mens moet doen
as liters Stoney’s Gingerbeer jou knypers oorval. Die manne tou lyndraad se kant toe en gaan staan geslurp, soos ‘n
trop Thuli-blok olifante, skuimkolle anderkant die draad en spuit.
Voor
jy kan sê “Kaper se gat” is nuwe fanbelt op.
Kós die toergroep. Dippies doen teësinnig afstand van sy bottel gifgoedweerder.
Datsun
se battery intussen pap gehuldig. Ses Kastele help die stoters uit die taxi om lewe in die battery terug te huldig. Frik so
somber soos ‘n Hoogendoorn, Human en Pit ondernemer van ouds!.
Blomme
toe, sing die Datsuntjie se tyres.
“I
am the eagle you’re the wind” sweef Gerrie.
Soos grafte swyg die drywer en sy GPS.
Nou’t
Moeder Natuur mos ‘n manier om teësinnige blommekykers aan haar boesem te koester. So hol Datsuntjie Piekenierskloof
uit. By die laaste draai bo gryp sy in met ‘n wolkekombers. Al wat daisy, vygie en veldblom is se gesiggies trek toe.
Skaam. Soos ‘n oujongnoi wat ‘n glow in the dark kondoom by ‘n tombola gewen het!
Trek
Frik die toerbus af. G’n niks se blommekykery verder vandag nie. Rokvolk se gesigte hang soos ‘n vellesmous se
broekgat.
“Toemaar
Mamma” troos Frik – vals, soos ‘n varsgedrukte R3 noot – “kom ons gaan sit by ‘n tafeltjie
langs die pad. Dan eet ons al daai lekker goedjies wat julle ingepak het. Volgende naweek lyk die weer dalk beter, dan maak
ons weer so”
Gril
Frik en Dippies African Grey buns af met sappies en rooibostee. Frik sommer so staan-staan. Sementstoeltjie se koue hopeloos
te naby aan sy Jockeylose stêre. Dink hy so by homselwers aan sy oorle ouma Jaatjie
se vermaninge van “Ingilse puisies kry van so half kaal op die koue sement loop sit!”
Draai
hy die Datsun vol Israeliete se kop terug na die vleispotte van Vredenburg en sit voet in die hoek.
“Love
is my destiny” moedig Gerrie aan.
Oos,
Wes, Tuis bes!
“Plaas
lat ons liewer bleddie rugby gekyk het” mymer ‘n Wellingtonlose Dippies toe Frik-goed met die Datsuntjie om die
hoek verdwyn.
André Dippenaar
Vredenburg
1 September 2008