Gesels ek en oorle oompie Doors mos eendag pêre.
Weetie ou mos te loop staan en vertel vannie slag toe hy innie reisiesperd bedryf beland het. Vertellie ou dat die ding eintlik
beginne het toe hy die prokureur in Springbok moes gaan sien oor oorle Kareltjie Katknyp se laaste wil en testament. “Swaerie”, hef die ou dit aan, “toe ek by daai kantoor instap, toe’s daar g‘n plek
virre vlieg om teenie muur te loop sittie, so behang is die plek van pêrekiekies.
Raak
ek so verdiep innie kiekies lat ek amper loop staan en runnik toe die prokureur, oorle Sokkies Stone, skielik
vir my kom staan en verwelkom om by die besigheidstafel te loop aansit” “Nalat ons nou die droewe
gebeurtenis loop staan en uitsorteer en oom Sokman die Mede en Persiese wette van begrafnisse klaar geverduidlik het, toe
praat ons pêre. Nie sommer net van praat nie, práát meen ek nou. Vertellie prokureur vir my van Sea Cottage,
Jollify, Java Head, Chimboraa, Mazarin en Yatagan. En hoelat ‘n man kan pond bymekaarmaak met pêre. Nie ploeg-
of trêppiepêre nie, reisies pêre!” weetie ou te vertelle.
Sê die ou lat toe hy daar uitstap, toe wéét hy sommer hierie was ‘n bestiering –
amper soosie manna van ouds – assit geleetheid reën, moete man geleentheid skep. So loop spring hy oppie foun en
lui sy goeie vrind Gert Brandt; Gert Pond wassie ou se bynaam. Hét daai man mos geld, en wéét daai man
hoe om geld te laat groei! So loop staan en raak oorle oompie Doors afrigter-bestuurder en Gert
Pond eienaar-aandeelhouer inne reisiesperd wat hulle ongesiens en voet der stoots in Ceres se wêreld loop staan en aankoop
het.
Moos Geduld, Oompie se lusernland oorsiener word opstuk opgelei as
jokkie. Kompleet met ‘n Kaapse-klopse se bont baatjiepak wat hy weer per geleentheid by ‘n
kleinneef van sy oorle ma innie Elsies loop staan en leen het. Doop hulle die wendier opslag
“Thunderflash” Sukkel Oompie ommie naam lekker in Ingils te sê. Veral sonner sy valstanne.
Maar, so wil die Ou nou die veringilsing loop staan en goedpraat,
hulle kon mossie 'n perd mette Boerenaam soos Kolbooi Durban toe vattie! So sittie spulletjie af Durban
toe. “Fannerflêsj” innie horsboks, Gert Pond agter die Valiant se stange, oompie Doors links voor ennie
jokkie met saal, toom en reisiesklere oppie agterste sitplek.
Kry die stomme Moos nikse
padkos nie – net water om sy gewig te beteuel! Sê Oompie, “Ou Swaerie, dis toe ons daar by die Joelaai
se hekke loop staan en indraai, toe sal ons sien daai perd van ons hettie boekmakers skoon op hol.
Wettie mense sommer 400 teen 1 op onse wenner. Sit ek stilweg ook
skelmpies ‘n paar pond op onse nommer wyl Gert Pond amper ‘n mudsak note loop waag.
Man wéét mos om geld te laat groei!” “Toe’t daai hekke oopskop, vlie die span pêre daar weg mette hoefgedonner soos die kanonne daai
slag by Majuba. Druk ek sommer my oë toe om ‘n hartstilstand af te keer” vertellie ou. “Daai slag wattie mense loop staan en stil raak, loer ek so tussenie vingers deur, heilig oortuig lattie skeidsregter
besig is om Moos se hand omhoog te hou!
Sal ek loop staan en sien Fannerflêsj staan rustig en wei aanie
groen grasse van Durban. So 50 treë annerkant die 200 treë bordjie. Moos moer hom mettie peits
lat sy hare soos lusernstoppels agter ‘n snymasjien warrel. Knip daai perd nie ‘n oogie! Vreet gras lattie groen
bolle skuim om sy bek loop staan en opdam” “Stap ek en Gert Pond, baard oppie bors, na onse wenperd toe.
So innie loop haal Gert sy oorle oupa
se .45 Webley Boere-oorlog rewolwer uit sy baadjie se sak uit. Sien ek sy plan. Raak my hart skoon murwe vir onse perdjie.
Stomme ding was mos niks anders as gannabos en droë boesmangras gewoontie.
Sê ek vir Gert, neef Gert, sê ek, moet hom asseblief nie skietie, ek hette
beter plan. Kom ons hol liewer vir hom weg!”
André Dippenaar
Vredenburg
29 Junie 2009