VRYSTAAT SE KOEIE
Oorle oompie Doors was mosse man wat gevrek
het oor vendusies. Het g’n vendusie loop staan en missie. Behalwe natuurlik vir naasbestaandes se begrafnisse, maar
dan moesie oorledene inne klas van naaste aanie bestaan geval het.
Neefs, niggies, vrinne en buurmense hettie hiervoor gekwalifiseerie.
Behalwe natuurlik assie laaste eerbetonings nie met vendusies loop stane oorvleuel hettie.
Ry ons twee deur Pofadder toe virre veiling.
Stomme boer vannie omgewing watse verhouding mettie bankbestuurder bietjie oordraad gedraai het. So by so lat droogtehulp
vannie regering ennie Landbank hommie eens kon loop staane deursleepie. Moer toe geboer!
So loop staane dans amper alles wat oppie
werf was onnerie hamer. Oom Elie Louw van Loeriesfontein praatie manne so inne biebedonnergeid in lattie bie spoegspatsels op daai werf rondwarrel soos ‘n
voorbui reëntjie wat wil uitsak!
Lyk later nettie Antie, die man se eie drie snotneus kinnertjies ennie twee plaasvolkies gaanie onnere prys en met
anner mense se rygoed vannie werf af weg nie!
En dis mos net mooi daai tyd wat oom Elie die enigste koei
oppie werf se bekwaamhede aanie spul bieërs loop staane besing, lat oompie Doors opslag mette vertelling vorendag kom.
“Ou Swaerie”,
sêrie Ou, “laatie spulletjie my mos dink aane gebeurlikheid daar op Brandvlei járe gelede.”
“So gebeur dit mos oppe dag lat die enigste koei in Brandvlei loop staane opdroog. Oornag loop
staane swartkoffie-epidemie en melklose papbedryf mossie dorp oorval. Veroorsaak ‘n hele pandemonium. Kommie mense vannie
dorp bymekaar virre noodvergadering.”
“Weet een ou oom vir hulle te vertel lat hy innie ‘Landbouweekblad’
‘n advertensie raakgelees het vanne boer daar van Petrusburg se kontrei watte knap bul teene ‘n billike prys adverteer
en as hulle nou ‘n hoed omstuur, sal hulle stellig genoeg bymekaar kan skraap ommie bul te koop.”
“So bringie
hoed se inhoud die potente bulletjie Brandvlei toe en die inwoners verval inne oorstelping van vreugde. Gooi sommer dadelik
die spulletjie bymekaar inne klein kampie oppie dorpsmeent solat die natuur sy gang kan gaan.”
Stel glo daar
en dan ‘n komitee van dekwagters aan ommie spulletjie dag en nag dop te hou virrie groot gebeurlikheid.
Puur verniet!
Elke keer assie bulletjie sy kant wil bring, gee die koei pad!
“Maakie saak hoelat hy sy aanslag en aanloop beplan nie,
niks wil werkie. As
hy loop staane aantree, loop staane gee die koei pad!”
“Issie inwoners later half moederloos ontsteld oorie
affêre en besluit lat hulle ‘n afvaardiging na Calvinia se staatsveearts sal stuur ommie bul se probleme ennie
koei se onwilligheid te loop staane bespreek en kundige advies in te win.”
“So loop staane verduidelik die voorsitter
van BOKDO [‘Brandvlei Onwillige Koei Dek Organisasie’] dan ook aanie veearts. ‘Dokter’, sêrrie
ou, ‘dit makie saak waffer planne die stomme bul gebruik van loop staane maakie, doen kry hy nierie ding gedoen nie.
Kom probeer hy vannie agterkant af, loop sy net doodeenvoudig vorentoe en dan missie ou haar mette jaarts of twee, kom
makie ou ‘n toenadering vannie voorkant af, sittie koei net in reverse! Kom hy vannie sykant af nader, versit sy net narie anner sykant
toe!’, willie storie dit mos hê”
“So sitte dink die veearts diep, krap in sy stoppelbaardjie,
lees inne dik boek of twee en eindelik ten laaste vra hy, ‘Het julle dalkie koei ook destyds innie Vrystaat geloop staane
koop?’”
“Ja”, bevestiggie voorsitter verstom, want niemand hettie dokter daarvan vertellie, “
maar hoe weet dokter dit?”
Sêrrie veearts met so ‘n hartseer, vêr kyk innie oë, “My vrou kom van
Fauresmith af!”
25 Januarie 2010