Wens ek so oorle oompie Doors was nog met ons. Ou sou darem lekker stories uit hierdie toere loop staan en maak het.
Het mos altyd gesê die enigste verskil tussen jagters en hengelaars “issie verskil innie gewig van hulle liegtery. Visvangers
se grotes kom almal weg voorlat hulle dit aanie skaal kan
loop staan en hak, ennie een skieter se oë is altyd skerper en sy kruite altyd sterker assie anner ouens s’n”
So sit ons mos jaar vir jaar af Beaufort-Wes toe. Na Gideon toe. Baas vannie plaas. Fletsblou oë soos ‘n Gestapo
generaal. Vatikaki.
Ry ons mos een jaar weer hier op. Met Ernst Gouevinger se geld en rygoed. Veertig in die span. Dertig drinkers, ses
jagters, twee aspirant jagters en twee skieters sterk. Is ek agter die stange van die ryding. ‘n Condor. Vrot geplakaat
van sy gastehuis se hoedanighede.
Ry ek sommer hier agter om. Velddrif, Piketberg, Porterville, Gouda, Ceres oor. Ander manne volg ander roetes. Amper soos die Groot Trek. Verskillende
koerse, maar een bestemming.
Passasiers oorval met ‘n ergere koffie alergie. Begin sommer al by Piketberg vat aan die moute en harde houte.
Beveg hulle bokkoors, stywe snellervingers en dors met dieselfde medikasie en in ewe groot oordosis.
Nou het mout en hout mos ‘n manier om die knypspiere te bekruip. Soos daai kort, geel San-mannetjies agter ‘n
gemsbok tussen die duine in die Kalahari. Enigste verskil is, die trop mout-en-hout manne het mos ‘n manier om almal
gelyk die bekruiper raak te sien, terwyl die gemsbok alleen skrik.
So moet ek kort-kort die stange intrek. Stroom die passasiers uit die bussie . Kort op die hakke van die moutstroom.
Aan die spoed waarmee die manne heining toe hol, sou mens kon sweer hulle het lank voor die tyd al die nooddril geoefen. Wonder
ek so by myself of van die dapperes nie sommer skaamteloos met oop gulpe in die bussie geklim het nie.
Een pisstop – ‘skuus, pitstop – bondel spul weer uit. Het ek die tyd en afstand tussen stoppe so
ietwat moedswillig gerek. Hol hulle spuit-spuit, brandslang in die hand, heining se kant toe. Een dapper knyperkryger besluit
om nie skouer –aan-skouer saam met ander te loop staan nie. Klim bo-oor die omheining en trippel veld in.
Tot by ‘n telefoonpaal. Een hand aan die ankerdraad. Ander hand waar dit hoort.
Begin die man sulke rukkings te kry. Eers die een been wat hewig begin ruk met voet en al. Dan die ander een. Sonder
ophou. Wissel die rukkings mekaar af.
Sien een van die gemoute brandweermanne die spulletjie. Verwar Evkom en Telkom kragbronne. Maak alarm. “Boys”,
skrou hy, “daai man is besig om hom vrek te shock!” Slinger die noodspan oor die heinig.
“Moenie kaalhand aan hom vat nie!” skrou een wyl hy ‘n houtspar uit die omheining loswoel. Staan
die ander versigtig buite reikafstand van die hoogspanning en raad gee. Kom hardloop spardraer tussen hulle deur. Slaat hy
die slagoffer se hand met een hou los van die anker draad. Neer teen die grond. Juig die moutspan hom toe.
Sit die skokslagoffer en staar na sy regterarm. Staan díe windskeef tussen die pols en elmboog. Mors-af gered.
“Is jy bedonnerd!”, brul hy. “Vir wat loop staane doen jy dit?”
Blêrrie ondankbaar.
Verduidelik die redder vir hom.
“Man, jou kopbeen is vol gemmerjellie, boggerol breins. Dis g’n van lektriek skok wat my bene so geruk
het nie. Kyk self hoe lyk my blêrrie plakkies van die duwweltjies. Ek staan en sukkel om die duwweltjies uit te skud. Het
mos net twee f…… hande!”
So laat spalk ons hom in Laingsburg. Sonder verdowing. Kry die manne ‘n tweede opinie by die Royal in Beaufort-Wes.
Voer ons die slagoffer af. Plaas toe.
Weet ek sommer toe al; hierdie ekspedisie gaan sy eie kwota opelyf oplewer.
31 Oktober 2008