So loop staan en gesels ek en oorle oompie Doors op ‘n kol rugby. Praat ons nie Noord
en Suid kinnerspeletjies nie. Gesels ons rúgby. Dorp teen dorp. Bul teen bul.
Sê Oompie, “Ou Swaer, weet jy hoe naby aan vir Boland staan en speel het jou oorle pa geloop draai? Nader as
jou kloof aan jou stuitjie!.”
So willie Ou skoon staan en opdruk latie spankeuses van darie tyd voorie Waarheids- en Verskoningskommisie staangemaak
moet word. “Ommie ongeregtgheid vannie spelers te loop staan en besoek aanie keurders” Weetie ou te staan en gal
gorrel.
Vertellie ou van die dae toe Malmesbury en Moorreesburg, “Samouers” noemie ou die Moorreesburgers, sulke
jong toetsies teen mekaar loop staan en speel het. Vertel Oompie lat daai wedstryde geheel en al elf keer innie kerk almanak
geloop staan en adverteer was. “Derby” was glo in hoofletters oppie almanak geskrywe. Elf keer.
Nagmaal net vier keer.
Was daar glo ‘n giftige vleuel wat vir Samou tussenie karre loop staan en uitdraf het. Lang Hennerik Hanekom
wassie ou se naam. Reken Oompie hulle kon hom eerder Hennerik Sweepslag geloop staan en noem het.
“Ou Swaer, as Lang Hennerik vir mens laat verbykom en so innie verbykom vir jou agter aanie jersey se kôller
geloop staan en beetkry het ennie ou loop sit soose hond wat oppie gras sit en skyt, het mens geweet dis valtyd. Hettie ou
die voetbôlveld met jou geloop staan en slaan erger asse man watte tuinslang mette houspyp loop staan en bykom.”
So, vertel Oompie, was daar so ‘n kraakgat vleueltjie van Malmesbury wat net met Brylcream en brag aanmekaar
gesit was. Hettie mannetjie blykbaar eweveel bek as spoed gehad. Vertellie mense hoelat hierie outjie deur Lang Hennerik gaan
hol soose spook deur toe waenhuisdeure.
Daai Saterdag, vertel Oompie, was daar so baie mense en mouters by daai Derby, lattie karre geparkeer was van Koringberg
tot by Bergrivier Stasie en van Hermon af tot by Koperfontein deuskant Hopefield. Van oraloor gekom. Dominie hettie verniet
elf keer tussenie Lief en Leed oorie Derby ook geverkonnig
nie. Was glo oppie Ring se sittings ook voorbrand loop maak. Sinode het ookie wind gevang.
Van Wellington tot Worcester, Onseepkans tot Onrusrivier,
Grahamstad tot Graaff Reinette, Kaapstad tot Kakamas, Hermanus tot Hoopstad, Paarl tot Pampoenpoort. Net mèns waar jy kyk,
verkoop Oompie die storie vir heilige waarheid.
“Ou Swaer, die spul was gewigtiger as daai tyd wattie Doppers en Gaatjieponners mekaar geloop staan en los het.
Gryp oorle Dok Daantjie Craven persoonlik in. Stel onpartydige skeidsregter aan. Voorsitter van Aurora se kerkraad. Blaas
daai kêrel daai dag met Christelike erbarmlike partydigheid amper vir Malmesbury inne wen in. Gee strafskoppe vir elke reël
in en buite die reëlboeke. Teen Samou. Assitie is vir wind verlaat innie losskrum nie, issit vir lemoenskille oppie gras loop
staan en gooi met halftyd of kouse wat oorie toks afsak, maar blaas, bláás daai man. Klink later kompleet offie stomme donner
loop staan en asemhaal deurie fluitjie!”
“Vannie afskop tot lat hy eindfluitjie loop staan en speel, smaakit vir my was daar net drie keer wattie fluitjie
nie geraas hettie. Halftyd toe die ou loop staan en lemoen vreet, skuins na halftyd toe die ou sy veters loop staan en vasmaak
en hyrie fluitjie virrie vlagman gegee het om vas te hou en daai keer toe Samou se kaptein hom mettie bôl teenie kop loop
staan en gooi het. Oorlat hy so tyrig en ontyrig loop staan en blaas. Vallie ou se fluitjie met valstanne en al innie sand”
Twee minute voorlat die 80 minute uitloop, loop glip daai Brylcream Blits verby Lang Hennerik. Lykit offie ou loop
staan en stilstaan het. Sny Blitsie virrie hoekvlag. Loop vlie daai Lang Hennerik daar weg. Soose windhond mette snuf rooijakkals
innie neusgate.
“Moes die mannetjie vir Hennerik hoor aankom het. Vyf tree vannie doellyn toe loop staan en duik hy met so ‘n
boog. Hangie skuim oppie Malmesburgers se moute soosie kleed oor Tafelberg. Vierie manne die nuwe hoeners nog voorlat die
kuikens dop gepik het. Puur verniet”
Vertel Oompie, lat toe daai man so oor die doellyn boog, loop lek Lang Hennerik sy twee voorvingers nat vir beter klou.
Haak hy die man agter aan sy kôller. Wen die kôller op mettie twee natgelekte vingers. Loop
sit hy mettie man daai honnesit van hom. Sweep hy met hom slag.
“Ou Swaer, so loop haal Hennerik vir Brylcream uit sy boog uit en loop gooi hy vir hom oppie kwartlyn. Oorie
kantlyn. Verdwyn daai spoedmannetjie inne wit kalkwolk tussen die mense oppie kantlyn in. Blasie broer skeidsregter die finale
oordeelsgeskal. Loop staan en wen Samou daai dag 10 – 9. Sêrie antie, by wie die misdrukker loseer het, lat dit vir
haar veertien dae en drie steen boerseep gekos het ommie kalk uitie klong se swart voetbôlbroekkie uit te was.”
André Dippenaar
Vredenburg
15 Oktober 2008