Kuier ons nou onlangs by Koenie-goed in Robertson. Sis daar ‘n ribbetjie op die kole wyl ons teug aan goed gefermenteerde
druiwekorrels. Sommige van ons misbruik korrels wat deur die ketel gelouter is. Neuk dit op met Zero. Kultuurloos.
So kom vrinne van Koenie-goed ook daar aan. Wil Koenie nog die mense voorstel. Vra hy ewe, “Het julle mekaar
al ontmoet?” Baie ordentlik. Koenie.
Wys ek die ontmoeting amper vannie hand. Ken ek mos al genoeg mense, waarom nog staan en neuk om meer te loop staan
en ken.
Vat die ou vroutjie nie eintlik ietsie nie. Reken sy haar wederhelf vat
sommer vir haar part ook!
So verbruik ons die Breede Rivier se kontreiprodukte. Heel gesellig. Uit die samesyn verskyn vertellings. Amper soos
daai fliek. Gorillas uit die mis!
Vertel sy van daai slag wat hulle hond, Coco, manlief se valstanne ingekry het.
So, vertel sy, kom sy op Coco af waar die hond rustig lê. Kou-kou Coco
aan iets wat kraak soos bene, maar op voorkoms niks met bene in gemeen het nie. Lê daar goedjies rond wat amper lyk soos springmielies
wat nog nie gespring het nie.
Kry sy opslag hond se gedagte. Lyk Coco se maal alteveel na die liefde in haar lewe se mensgemaakte kou-instrument.
Probeer sy met Coco onnerhannel. Koekies
in ruil vir tanne. Ignoreer Coco haar kou-kou. Oorskiet tjoppie vir die gebit. Niks gemaak nie. Kou Coco met smaak voort.
Vreet die hond die plastic ivoor met
gums en al op.
Loop staan en oorval ‘n ontydige hongerte die man in haar lewe. Is dit sy beurt om te kou. Instrument egter op
soek.
Kom sy te staan voor iets wat baie erger as die gloede van oorgangsjare is. Aan die een kant die gewig van die troubelofte.
Moet sy vir wederhelf inlig? Aan die ander kant, die stertwaai-span. Moet sy nou dieselfde lojaliteit aan die mens se beste
vriend betuig as wat Coco vir seker sou gedoen het as dit sy was wat die valstanne loop staan
en opvreet het?
Kry sy daai gevoel wat mens op skool loop staan en kry het as jy toets moet skryf en jy weet jy hettie ‘n boek
oopgemaak nie. Benoud soos ‘n tandmuis wat in ‘n army boot loop staan
en val het. Magteloos. Amper soos ‘n by met ‘n stomp angel as hulle die heuningkoeke kom stroop.
Weet sy om nou te loop staan en vertel lattie tanne in Dogmore veranner het, is so goed as om op ‘n pofadder
se stert te loop staan en trap.
Besluit sy om eerder vir tyd te speel. Help kastig die ou se tanne soek. Soek hulle orals. Saam-saam soek hulle. Werkie
twee saam soos ‘n spanriem en melkemmer. Sy met verwagtinglose blymoedigheid.
Oppie rakke, in en onner die kaste, onnner die bakkie se sitplek, grawe
hy selfs innie asdrom. Orals, behalwe in Coco, soek hulle. Herrangskik amper elke stukkie
meubliment in die huis, maar niks tanne nie.
Weet sy daai tanne gaan net so min te voorskyn kom soos ‘n slang innie winter.
En Coco soek saam.
Werk haar kop oortyd. Amper meer oortyd as ‘n leerlingstoker in die ou dae oppie stoomtrein tussen Worcester en Klaasvoogds.
Willie man sonner gebit later opstuk gaan vir ‘n skandering. Net vir ingeval hy dalk die tanne ingesluk het in
sy slaap. Kos dit walgooi. Sou hy mos lankal agter gekom het iemand is besig om hom in die
gat te hap! Kry sy hom uit sy plan uit gekalmeer.
Oorleg sy in die dae wat voorlê oortyd met die versekering. Raak die sinjale vir haar groen.
Werk sy nou net aan die tydsberekening.
So is hulle twee die volgende week Worcester toe. Gaan
shopping doen. Loop hulle daar in die “mall” rond. Manlief mettie hand
voor die mond. Soos die laaste een van daai drie apies. Die speak no evil enetjie.
Is Coco nie saam nie.
Veertien dae en ‘n klein bybetaling later, kannie ou weer kou. Versekering het gesorg vir nuwe stel ivoor.
Besluit sy dis nou veilig om die nuus te breek. Weet sy manlief kan
nie meer so so ver en vinnig skop nie. Spoed en skoplus deur die ghout geblus.
Doodbyt sal hy ook nie kan doen nie. Nie met daai
nuwe valstanne wat nog so knypboude oor die gums sit nie!
“En Coco?” Wou ek weet.
“Nee”, vertel sy, “Coco is dood”
“Tandelike met die ewige gewissel”, grinnik manlief haar in die rede.
“Skielik dood”, gaan sy onverstoord voort; net die stemtoon verander tot so dertig grade duskant vriespunt
wyl sy vir ou Groot Kwinkslag in die oë waterpas, “eintlik toevallig snaaks. Daai oggend net ná die biegtery. Was Coco nog hondfris toe ek winkels toe is……….”
“Loop plant vir ons ‘n blommekruis daar waar hy sooibrandloos lê en rus. Honne wat stories loop en uitkou
verdien respekte”, probeer ek ontlont.
André Dippenaar
Vredenburg
29 September 2008