Behalwe lat hy ‘n storieverteller was, was oorle oompie Doors ook ‘n stamboom mens sonder gelyke
Snuffel hy stamboomwortels uit erger as ‘n ystervark in ‘n aartappelland.
Loop
grou die ou familie doer diep in oorle Herman Charles Bosman se wêreld uit. Groot Marico.
Blykbaar aan oorle Oupa Hennerik se ma se kant. Viljees. Boer jare oer gelede langs Maricorivier. Toe die wêreld nog
jonk was, vertel die ou.
Loop staan en maak oorle Groot Oupa
Viljee, Frans Ketel was sy bynaam, een Dingaansdag hele span Viljees en al wat
aangenaaide familielappe is bymekaar. Kamp die hele plaaswerf vol. Geheel en al gewyde ding die.
Vroemôre skop feesgangers af met kerkdiens. Reken oompie Doors lat seker tweehonderd-en-agtien
osse moes gesterf het om die span stoeltjies wat op daai werf staangemaak was te beriem. Huldig hulle die helde. Uit die Groot
Boek, geheel en al met sang en gebed. Hooghollangs daai tyd. Raak sommige anties skoon tranerig van meelewing - kompleet asof
hulle met daai bakleiery self voorlaaiers help laai het.
Resiteer die spul Gelofte agter die prediker aan.
Politiekerig ook. Volksraadslid kom gooi sy eie sewe sakke stuiwers in die armbeurs. Práát die kêrel. Reken oompie
Doors, praat daai ou twee-en-half uur se diep riempie-mote in daai bank rustelose stêre in. Sluit span af met “Ken gij
het volk so hoog beneukt” vertel die ou. Toe’s dit al laatmiddag.
Dapperheid en oorwinnings word nie net gehullig nie. Gevier ook. Maak staanvure. Sleep kanne stamvrug mampoer nader.
Heildronk op heildronk. Later amper huildronk op huildronk vertel Oompie. Bekers omhoog op amper elke skoot wat geskiet was
en op elke Zoeloe wat geval het! Een oom laat drink sommer op die pêre wat in die skietery uitgebreek het ook.
Skemeraand kom hol Salmon, een van die plaaswerkers, feeskring binne. Skrou soos ‘n vlakvark wat se knaters in
‘n slagyster vasgeslaan is. Iets van “Daai groot kat, hy es by die beeste se kraal ingespreng!”
Babelse verwarring. Geheildronkte geloftemanne loop staan saam soos doopouers. Gryp roere, sambokke, pikstele, kieries,
hooivurke en al wat anner steek- en moergoed is. Anties kerm en keer. Skrou dinge soos “O jirretjie vanaand vreet leeu
se kind julle spul dronkgatte sommer sit-sit op” en “ Vanaand loop staan veranner Maricorivier se naam sommer opslag in Bloedrivier!” Party anties
loop sak kappieloos op knieë neer en beginne solank die wesies, weduwees, verminktes,
half opgevretenes en heeltemaal verorberdes aan die Liewen Heer opdra.
Sit juigkommando af kraal toe. Mediese ordonnans met kruiwa gelaai met vier kanne mampoer vir noodhulp agterna. Eerste
ongeval skaars tien treë van begin van opmars af. Oom Hakkel Frikkie Boshoff.
Slinger uit die voerkamer met gaffel omhoog. Wou blykbaar nog skrou “Halt. Werda!” Klink daai “hhhha…
aaa…. hhh aaaalt” vir oorle oom Dowe Dolf Gouws alteveel soos ‘n jong leeu se “Haaauuu” Loop
staan en slaan hy vir Hakkel Frikkie desmoers met ‘n skei wat hy so in die verbyhol by ‘n wa loop staan en opkommandeer
het. Vertel oompie Doors, “Toe daai skei klap, toe steier Frikkie terug en loop hang homself in ‘n haak-en-steek
op. Voete so ses duim vannie grond af. Kyk daai man se oë oormekaar laat dit lyk sy regteroog se trane loop drup in sy linker
bosak in! Swinker as ‘n kat , ou Swaer, swinker as ‘n kat”
Hol een vannie vegters heelvoor met die skietlamp. Lantern aan ‘n ag-span ossweep se stok vasgemaak. Soos by
Bloedrivier. Frans Ketel op sy hakke met ‘n ou Lee Metford. Koeël innie loop. Loop stop in hulle spore by takkraal se
hek. Soos die Egiptenaars destyds toe die Rooi See hier voor hulle kom deur toeklap.
Oompie Doors sê toe’s daai kraal deurmekaarder as katkots in ‘n botterkarring. Loop van daai beeste sommer
bo-op mekaar. Bulk-skrou benoud. Daar waar die skietlamp nie kan
bykom nie, sien jy innie donker die wille wit uitpeuloë vannie stomme goed.
Val daai skietlamp se lig op die jokkie. Maanhaar sit wydsbeen op ‘n os se rug. Stuur hom rond met al sy tanne
in sy skof vasgekap. Verloor daai os sommer sulke strepe groenvoer soos hy hol en bokspring. Kol-kol as hy so heserig jodel,
sien jy net klonte herkousel spat. Vertel Oompie.
“Skiet! Skiet!!” skrou die ligdraer. Slinger Frans Ketel twee skote kort opmekaar die duisternis in. Eerste
een vang ‘n jong tollie tussen die oë. Slagoffer nommer twee. Tweede skoot tref die sweepstok. Val lantern op ‘n
hoop droë kaf. Spreilig opslag die hele wêreld helder. Breek beeste deur die
takkraal. Streep donkerte in. Maanhaar en sy ryding inkluis.
Besluit maanhaar om van ryding te verander. Skop voete uit stiebeuels en skroef kake los. Gat oor kop. Vlie daar op
en maak vir die ambulans. Vlie kruiwadrywer in sy spore om. Hol omkyk-omkyk. Hol maanhaar hom in. Maanhaar se spring en noodhulpkan
se gooi sommer so een ding. Breek daai kan teen maanhaar
se kop. Buig daai mampoerslag sy kompas opslag. Verander hy van gedagte en koers. Plaaswerf toe. Hol kruiwadrywer nog so twinrig
treë aan. Steek kruiwa se kop in die leivoor vas. Vat mediese ordonnans en twee kanne noodhulp amper tien treë verder grond.
Ordonnans se kersie flikker twee keer. Verval in ‘n floute met gebreekte sleutelbeen en al. Derde slagoffer.
Haal Oompie eers kakiesakdoek uit om die storie af te droog en vervat.
“Daai bemoerde leeu vat pad plaaswerf toe. Biddende anties maak oop soos Rooi See van ouds nadat oorle Moses
al sy drif met ‘n stok oppie water loop staan en uitslaan het. Hol daai leeu droogvoets reguit in die voerkamer in.
Vlie een vannie anties op. Hope teenswoordigheid van gees onder daai kappie bymekaar gehad. Hol en grennel die deur agter
hom toe. Ou Swaer, toe’s daai kat skuins bemoerd. Loop en verniel al wat sak vol hooi
en mielies is. Lag soos ‘n hiëna, brul kort-kort soos ‘n leeu, sis soos ‘n pofadder, pie sulke boë soos
‘n mannetjieskat in Augustus en kou die tuie wat daar hang soos pruimtwak!
So kom slinger die juigkommando die werf binne. Beangs oor die slagting wat hulle verwag. Praat anties en kinnertjies
almal gelyk. Beduie in alle windrigtings.Raas en kwetter soos ‘n spul spreeus in ‘n vyeboom. Skiet oupa Frans
Ketel hulle met twee Lee Metford skote tot grafswygenis. Stilte val soos ‘n satyn bloemer op daai werf neer.
Kom Hakkel Frikkie dronk-dronk voerkamer se kant toe. Gat vol haak-en-steek
dorings
Moes daai leeu seker trillings van tweehonderd velskoene aangevoel het,
want raak hy van vooraf histeries bedonnerd.
Gaan kniel ‘n hele linie manne met skietgoed versigtig vyftig treë van die voerkamerdeur af. “Vvuu..vvvuu…..uuuuu….rrrrr,mmmm
…manmanmanmanne!” beveel Frikkie.
“Ou Swaer, oordeelsdag se moer. Daai hoop manne loop staan en skiet asof die hele Ingilse leërmag hulle aan’t
oorvalle is. Mampoer loop neuk nog boonop die visiere deurmekaar. Skootsvak so wyd soos die Liewen Heer se genade. Skiet die
span gekletterde skuts geute desmoers, val sulke hompe klei en roubaksteen uit die muur en loop staan en raak daai voerkamer
se deur ‘n hopie fyn hout. Fyner as snuif. Lyk of vierduisend honger boorkewers daai planke bespring het”
Sluip die manne versigtig nader. Lantern in die hand.
“Ou Swaer, toe’t hulle in daai kamer in lig , kos dit vir hulle daai maanhaar met twee harke en ‘n
werfbesem loop staan en bymekaar maak. So flinters geskiet dat hulle daai hele leeu se oorblyfsels in ‘n gelling roomkannetjie
loop versamel. Toe lê hy nog so vier duim van die bek af. Plek so beverf met
leeumis, lat daai plaashonne vir twee jaar by die bure loop loseer het voorlat hulle so pie pie die werf binnegsluip het.”
Daai tyd toe breek die dag net-net. Anties wil nog koffie en suikerwater aanbied. Weier die vegters opstuk. Tou af
na die leivoor se kant toe. Loop maak hulle daai twee kanne noodhulp bymekaar. Behandel almal wat voorkom. Of hulle nou gekwes,
ongedeerd, beskrik, beskyt of net winddronk is. Behandel word hulle behandel. “Smaak my g’n kryger het daai oggend
ongedeerd by die kruiwa saamgekom nie. Sommige ouens het net meer behandeling ontvang as wat nodig was, maar nie een het protesteer
nie” vertel oompie Doors.
Teen aguur se kant toe staan daai manne kring om die roomkannetjie. Maak daar ‘n Leeugelofte wat g’n Christenmens
op papier kan loop staan en sit nie. Verklaar opstuk die
17de Desember as Tweede Dingaansdag.
Vertel oompie Doors jy kan nou nog terugaan plaas
toe. Al die takke van die stamboom kom nou nog die 17de bymekaar om te huldig en te skink.
En, “O ja”, loop maak die ou die storieboek toe, “en die dag voor die eerste herdenking van die Leeugelofte,
toe loop maak oorle Oupa Frans die laaste van sy weghol beeste bymekaar. Elf van hulle. In Dwaalboom se omgewing. Bewe hulle
nogsteeds van skone senuwees”
André
Dippenaar
Vredenburg
12
September 2008