[Met dank aan my
goeie vrind Koos Jordaan]
So vergader ons een koue wintersaand voor oorle oompie Doors
se Welcome Dovertjie. Man-man mette bakkie melksnysels. Nogals ‘n Sondagaand. Vat ons niks sterkers nie.
Loope
slinger die diskoerse rond tussen politiek, ongedierte uitwissing, boeresport, potjiekos, skelm buurmanne en loop staan uiteindelik
by die vurk innie pad waar kerklike dinge ons loop staane inwag.
Raakie manne erg beswaard oorie fariseers,
egverbrekers, skynheiliges, godeloses en anner boosbedrywers wattie walle van die kerkdam loop staane wegkalwe. Weet ou Vroom
Koos Fourie te loop staan en predik lat dit is oorie kinnersie meer behoorlik gekatkiseer wôre nie, lat dinge lyk soosit
lyk. Loop staane sluit die ou die klagskrif af mette betoging lattie predikant self een vannie mietvreters innie meel is.
Gooi hy met daai stukkie beskinnering opslag ‘n vuurhoutjie in Oompie se petrolkan. Vererg Oompie hom so pêrs
lattie are langsie ou se nek soos willevywortels sommer so bo-oppie ou se vel loop staane rondkruip!
"Broer
Vroom", loop sakkie ou in die voory, " nou loop staane praat jy mosse ‘n bank lôngdrop. Is oorlat jy
vroom-vroom al watte weduwee is loop staan en beloer, lat jou neus oor jou tong loop hang solat jy nie mooi kan dink voorlat
jy praatie!"
"Lat ek julle bietjie van Ou Doom se onbeskromenis en moeite mettie katkisaters vannie
gemeente vertel. Oorlat ek self op daai kommissie as assistent vannie leierouderling bedien het, kan ek mettie selle bek assie
perd praat"
"Mettie laaste inkwisisie van die katkisaters, moes ons vir Klein Kootjie Mol, ou Koot
Mol se klong, aanie toetsing loop onnerwerp. Het ek met my eiegere oë loop aanskou hoelat Ou Doom met perservasie,
liefde en erbarmlikheid probeer het ommie Heidelbergse Katmis, die twaalf stamme van Israel ennie tien Gebiedinge
van Exodus in daai stomme mannetjie se kop te kry. Puur verniet! Leer was mossie daai mannetjie se nering nie. Klap daai klong
se kop toe soose mossel wat innie asyn gegooi is"
"Sê ek vir Ou Doom lat onsie die kind vannie
sakkermente kan kan weghou nie. Moet onsie maar liewer vir hom vra om ‘n Bybelverhaal te vertellie, dan veroordeel ons
hom daarop."
"Sluk daai Klein Mol ‘n paar droë slukke. Amper soose man wat ‘n stuk
wurgpatat dwars in die keelpyp loop staane kry het. ‘Ai jirretjie tog oom Dominie, kan ekkie liewerster die Onse Vader
opsê nie?' smeekie kind genade af"
Reken Oudoom latte Bybelstorie ‘n getrouer weergawe van
sy oorgawe sal wees.
So, vertel Oompie, loop spring Klein Kootjie wurg-wurg daar weg.
" Die
verbode seun gaan na sy pa toe en sê vir hom, ‘Pa, gee vir my my goed wat my toekom, lat ek self innie Boesmanland
vir my kan gaan sôre' Ennie pa gee vir hom vyf brode en twee vissies. En so loop trek hy by Boesmanland verby tot by
‘n ver plek waar hy opslag ‘n ducktail loop staane word het."
"Daar hettie kind loop staane
syp, dagga gerook, paartie gehou, "Teasers" toe gegaan en paaldanse loop staane kyk. So-by-so lat hy een aand skoon
inne bar loop staane opeindig het. Breek daar ‘n moerse bakleiery innie bar uit, maar die mannetjie het nooit geleer
baklei nie, Kon gelukkig blêrie vinnig hardloop"
"So hollie klong weg, maar toe hy byrie stadspoort
uithol, loop staane hak sy hare aanie takke van ‘n groot willevy, wat by die poort gestaan het, vas. Daar hangie man
lat sy tone net-nettie grondvat nie. Gelukkig onthou hy die naam van een vannie paaldansers, Delila. So stuur
hy ‘n mens wat daar verbykom om die meisiekind te loop roep"
"Kom knip Delila sy hare stomp
teen sy kop af. Maar onner daai willevy het ‘n braambos mos loop staane aanie brand slaan. Val hy innie brannende braambos
in en dis net lattie man se klere beginne ruik na strykskroeisel lat daar ‘n bui reent loop staane uitsak. Veertig dae
en veertig nagte loop staane reent dit"
"Ongelukkig konnie man nie swemmie en dis lat hy die vierde
keer onnerdompel lat daar gelukkig ‘n groot vis loop staane verbyswem. Sluk daai vis die kind in lat hy vir drie dae
daar innie vis se pens loop staane rondsukkel. Gelukkig vir hom raak daai vis na drie dae so naar van allie suur wyn wattie
mannetjie loop staane syp het, lat hy hom daar annerkant Garies byrie Groenrivier se mond oppie sand loop staane uitkots"
"En daar het sy pa en sy anner broer ennie bure hom kom optel. Twaalf mandjies vol, Oom!"
Loop
staane kyk oorle oompie Doors vir Koos Vroom lêwel innie oë.
"Dis daai slag wat Ou Dominie
loop staane sê, ‘Broer Doors, ‘n man wattie ses-en-sestig boeke vannie Bybel so kragdadig kan loop staane
saamvat, verdien voorwaar om van aangesig tot aangesig by die tafel te loop aansit'"
"Loop lê
Ou Doom homme hand oppie skouer en sê vir hom, ‘Kooitjie, ou seun, loop sê vir Ou Mol ek het gesê
hy kan maar solank vir jou ‘n nuwe das enne paar skoene loop staane koop'"
André Dippenaar
Vredenburg
1 September 2009