NUWEJAAR OP STRANDFONTEIN
[Met erkenning aan Elna, John en sommer almal wat deur die jare idees in my kop gelos het]
My oorle oompie Doors – Doors Hangbal was sy bynaam – oorle Pa se halfbroer, het
my hierdie ene vertel. Glo my, hy was ‘n verteller van formaat. Soos hulle in Namakwaland loop staan en sê, meester
bo-bo meester. Was oompie Doors.
Ek loop en wonder nou nog waarom die ou mense altyd vir almal byname moes loop staan en gee. So amper asof hulle
bang was hulle sou met die spulletjie staan en deurmekaar raak. Oompie Doors syne het my jare aan die raai gehad, maar daai’s
‘n storie vir ‘n ander dag.
Oorle oompie Doors, soos ek gesê het, was oorle Pa se halfbroer. Nou moet julle nie loop staan en dink oorle
Oupa Hennerik het loop en wilde hawer saai net waar hy gekom het nie. Was ‘n kerkman. Het nie eens daaraan gedink om
die eg effe te buig – laat staan nog van breek – toe die engele sy buurman een nag in sy slaap deur die Goue Hekke
gedra het nie. Al het daai weduwee met die vol spanspekboesem, perdebylyfie en lekker wegstap soos ‘n polisieperd hom
male sonder tal erg getempteer! Tuiemaker was hy, maar egbreker? Aikôna!
Nee, oorle oompie Doors was ‘n halfbroer oorlat Oupa ‘n tweede vrou gevat het nadat eerste Ouma by
die buurman anderkant die Goue Hekke aangesluit het. 1918 se Groot Griep het haar kom vat, so word vertel.
Ewenwel, nou loop dwaal ek af van die storie af.
Op ‘n mooi dag, so vertel oorle oompie Doors, besluit Oupa Hennerik om bietjie die spannetjie Strandfontein toe
te vat vir Nuwejaar. Nou moet julle weet, daai dae was dit nie sommer vir inklim en ry see toe nie. Eselwa met steeks esels
start jy nie sommer op en kom daai einste middag weer terug nie. Amper soos die Sondvloed. Maklik 40 dae en 40 nagte se ry
van Bitterfontein af en terug, vertel oorle oompie Doors.
Die dag voor Oujaar, dag voor doubreek, is waentjie gepak. Elf spruite, oorle Ouma en Oupa, Karools die navigator,
voerjoggie en koudleier inkluis. En eetgoed. Dis hardgekookte eiers, skuinskoek, boerbeskuit, gedroogte boerbokblad, steenbokbiltong,
turksvye, gemmerbier, lemoenstroop, hertzoggies, plaatkoek, tuisgebakte soetsuurdeegbrode, koeksisters, Wilson toffies, suurklontjies,
appelkoosjam, plaasbotter, blik vol FG koffie, bruinsuiker, boermeel, mieliemeel, die hele spens amper kaal gestroop.
En kooigoed, tente, seile, riempiestoele, ysterkatel vir die oumense, watervaatjie, noodhulpkissie, hooi vir die esels.
Lyk skoon soos Isaac Brodofsky- die Jood – se smouswa. Kort net die hoeners in ‘n fuik. Vertel oorle oompie Doors.
“Het ek gesê melk ook?” val Oompie himself innie rede. “Dan’t ek gelieg. Melk loop staan en
raak mos suur. Suur bokmelk is so bleddie sleg lat jy dit nie eens vir ‘n kind van agteraf met ‘n enema kan inkry
nie. Nee, oorle Oupa het geglo in vars melk byrie koffie. Daai einste tyd laai Oupa sommer ‘n grootuier bokooi saam
met die kinners op wa. ‘Vars vannie pram af’ was oorle Oupa se leuse” gaan die ou voort.
So sit en wonder ek by myself hoe so ‘n TV advertensie in nou se dae sou gelyk het. “Vars van die pram
af” Sou seker ‘n 18[SVLN] beperking gehad het, droom ek stilletjies.
En so, vervat oompie Doors, lat Ouma die kleinspul sing. Hele pad. G’n niks se draadloos en tapeplayer aan boord
nie. Sing die kinnertjies “Sien jy hierie pennie, ek het dit gebring. Vir die heidenkinners ennie senneling” en
“Laat ons skyn…” Kèrklike mense op die wa.
Dan loop staan en trek Oupa af. Koudleier top die eselenjin op met bietjie water. Ketel af. Klein vuurtjie met dun
houtjies. Kooltjie in die ketel om die koffiemoer te laat sak. Pram Oupa sommer direk bietjie melk skuim-skuim in koffiebeker.
Stop kromsteel met “Donker Transvaal”. Suie aan pyp en tuur doer ver in verste vertes in. Man van min woorde.
“Haak op!” Eselenjin skop in. Eerste eselsrat. Glip sommer verby tweede en derde en draf klop-klop in overdrive
aan.
Ry die spannetjie sit-sit so.
Daai eerste aand, vertel oompie Doors, loop maak hulle staning deuskant Koekenaap. Sommer so onder die Liewen Heer
se sterregenade. Boerbeskuit, bokmelk en koffie vir aandete. Vat Oupa Boeke. Dra almal aan die Liewen Heer op. Regering, opposisie,
poeliesmanne, Lutzville se waterfiskaal, Klawer se skutmeester, dominie en sy span hemelhingste op die eerwaarde kerkraad,
weduwees en weeskinders, siekes, blinnes, dowes, minnerbevooregtes, treindrywers, naaste familie, Ouma en die hele kroos by
die naam, Karools die koudleier, die eseltjies en selfs die Koningin van Ingeland loop hark hy nader vir genade en gesondheid.
Vra vir bewaring teen gifgoed, steekgoed, balbyters, vlêrmuise en al wat bose is en lat Strandfontein se branders gekalmeer
sal wees ter wille van ons kinnertjies se veiligheid en plesier. Sê ek mos, kèrkmense díe. Vertel oompie Doors.
“Ou swaer”, noem almal ou swaer as hy eers op stryk is. Selfs Kammieskroon se Roomse priester noem hy so
as die storie eers koersvat, “ou swaer, daai aand voel dit vir ons kinders kompleet of daar net ‘n halfuur se
slaap tussen Oupa se ‘amen’ en ‘haak op!’ was. Sweer Oupa het driekwart van die Liewen Heer se genade
in een slag opgesoebat”
Oujaarsdag, skuins na laatmiddag se kant, troep die ou spulletjie Strandfontein binne. Grondvat en kampmaak sommer
so in een sooi. Net die kruip-kleintjies sit nie hand by nie. “Ou swaer, voorlat jy kan sê
“pietsnot’, toe’s daai kamp staangemaak. Alles in reguit lyne. Amper soos Norval’s Pont se konsentrasiekampgrafte.”
Toe die son gaan platval agter die laaste deinings, sit spannetjie rondom ‘n staanvuur en pak ietsie weg vir
môre se speel en swem en kwaaddoenery. Vat oupa weer Boeke en vervat hy waar hy laas opgehou genadesmeek en dankiesê het.
Weer die hele rympie van voor af oor, maar hierdie keer las hy darem beskerming teen bloublasies ook by.
Volgende oggend na brekvis streep die span af water se kant toe. Soos ‘n trop skape in droogtetyd agter ‘n
mielietrog aan.
“Nou moet jy mooi verstaan”, so vertel oompie Doors, “daai tyd was ons árm. Ons seunskinners swem
sommer in onderbroeke en die meisiekinners in bloemers en frokkies om die ergste skaamte te bedek.” Ouma swem glad nie.
Loop en samajoor op en af teen die see om te kyk lat die spul nie versuip nie en tel kort-kort
koppe.
Ouma was ook danig oor sonbrand en sonsteek. Almal is gekappie en gehoed Ook smeermiddel aangemaak en saamgebring.
Glo ‘n konkoksie van bokvet, gliserien, Dubin en ‘n skeut “Au de Cologne’ vir die lekker ruik. “Taai,
ou swaer, taai”, vertel oompie Doors. “Taaier as kinkhoessnot, maar smeer moes ons vir ons laat smeer!”
Dink ek so by myselwers. In ons tyd sou die apteke seker daai dikte room as “Faktor 60” bemark het. Gewaarborg
soos sonsverduistering teen sonbrand.
Weet Ouma te vertel dis van sonner smeergoed in die son lê lat meeste van Bont Frikkie Vyevlei se kinners kompleet
lyk of iemand hulle met ‘n bol st…t gegooi en hulle agter ‘n sif gekoes het. Besproet soos roes. G’n
kind van haar gaan tarentaalbont hierdie lewe in nie. Smeer daai spannetjie lat hulle lyk soos ‘n spul ratels wat in
willeheuning loop staan en rol het.
Oupa Hennerik, so vertel oompie Doors, was ‘n beginselvaste kerkmens wat nêrens onbetaamlik gekleed sal verskyn
nie. In onnerbroek sal g’n mens hom sien nie. Nie eens Ouma het op hulle huweliksnag nie, weet hy te loop vertelle.
So maak Ouma vir hom ‘n propperse swembroek van ‘n gebleikte meelsak.
Nou’s die ou vlakwater toe, Loop met sy meelsakbroekie, wyerandhoed en velskoene die water in. Dik gesmeer met
Dublin konkoksie. Oompie Doors sê toe Ouma hom aanpraat oor die skoene in die water, weet Oupa te sê daar waar hy groot geword
het, is hy van kleinsaf geleer waar water is, is daar duwweltjies. Loop hy g’n stuk niks kaalvoet nie!
Na ‘n vinnige kniediep besoek aan die water loop lê Oupa glo in die son. Op sy maag. Weier om naeltjiekant ook
son te gee. Ouma praat hom aan. Glo iets gesê van blase brand bokant sy stuitjie en op sy kuite. Raak Oupa glo so bemoerd
soos ‘n oogpister agter ‘n glasruit. “Vrou”, seg die ou. Noem haar blykbaar so as hy rêrig die hel
in loop staan en word. Anders, so loop en vertel oompie Doors, noem hy haar glo liefderyk ‘Mamma’. “Vrou,
ek gee nou nie om vir die ‘Bokomo’ op die broekgat nie, maar oor daai ‘selfraising’ oppie voorkant
laat ek my deur g’n mens bespotlik maak nie”
Lê die ou vir die res van die dag net so – maagkant sand toe!
So kry kindertjies vrye teuels oor die eetgoed. Vra nie. Vat net. Koek kort-kort by die kostent saam soos brommers
om ‘n drol. Kwyl-kwyl met bollekieste hol hulle rond. Dit kou en speel en gil dat hoor en sien vergaan.
Tewisie en Servaas loop sit en rook glad en geheel en al donkiedrolle in ‘n rietpyp agter een van die rotse.
Staar soos Oupa oor die wye dam. Weet mos die ou gaan nie roer nie!
“Ou swaer, sowat van vreet het jy in jou dag des lewens nog nie gesien nie. Erger as die spul Israeliete daai
oggend toe dit vir eerste keer manna gereën het.Slaan ons klompie Coetzee kindertjies niks oor nie – amper soos ‘n
ou plaasbul wat gehoor het hy gaan volgende week slagpale toe”
Oompie Doors reken mens moet ook nie die Liewen Heer se genade en beskerming te ver probeer rek nie. Reken hy al daai
lang afsmekinge van Oupa moes óf die Liewe Vader se genadekas volgepak het óf vir Hom so deurmekaar staan en maak het dat
Hy skoon loop vergeet het om hulle teen oordadige turksvyvretery te beskerm.
Skemeraand slaan die turksvysatan met mag en mening toe. Klein Sorsie se kanale so toe soos ‘n kroepbors. Probeer
Ouma al wat ‘n raat is uit die medisynetrommeltjie. Dis kasterolie, rooilaventel, groen amara, versterkdruppels, helmeskrui,
witdulsies, kanferolie, wille-als, fyngekapte aalwynblare, boegoebrandewyn, turlington. Noem jy maar op. Sorsie bly so toe
soos ‘n bottelstoor op Sondag. Niks gemaak nie. Loop en beur krom, soos ‘n os onder ‘n juk, teen hierdie
verstopping in.
Later vat Ouma-goed hom strand toe. Laat spring hom paar keer van ‘n hoë rots af. Sit turksvy vas soos kakiebos
aan ‘n poeliesman se jas. So, vertel oompie Doors, is al raad wat later mos oorbly - Geloof. Is mos kerkmense. Besluit
Oupa hierdie is ‘n saak van gebed. So is hy, Ouma en Sorsie in die slaaptent in. Staan al die ander kindertjies buite
en luister. Sê Oupa al wat gaan help is dat Sorsman nou ernstig moet bid vir verlossing. So huil Sorsie dat hy nie weet wat
om te bid nie.
Sê Oupa Hennerik, “Sorsman, bid agter Pa aan my kind”
Luister oorle pa en oompie Doors en al die Coetzeetjies hoe die twee nou redding gaan afsmeek.
Oupa: “Onse Vader”
Sorsie: “Onse Vaderrrrrrrr” Druk Sorsie
Oupa; “Wat in die hemel”
Sorsie: “Wat in die heeemellll” Druk Sorsie
So sukkel die twee gelowig aan tot by “Aaamêêêêên” Sorsie sopnat gesweet van druk en bid.
Oompie Doors sê hy weet nou nog nie of dit gebedsverhoring of plein benoudgeid was nie, maar hier teen vroemôre toe
Oupa vir Ouma sê om vir Sorsie hol-om-hoog vas te hou en hy staan met ‘n stuk bloudraad nader wat voor so ‘n kromte
gebuig was, toe turksvy Sorsman sommer vanself sulke böe. Sweer oompie Doors hoog en laag. Het self van daai turksy strepe
afgetree. Die korste een was vier en die langste een veertien treë!!
G’n wonder almal het daarna, tot sy dood toe, van Spuitsors gepraat nie!
En so breek tweede nuwejaar aan. Huistoegaantyd.
Met die min slaap is Oupa so bemoerd soos ‘n graatjie wat jy met ‘n laphoed geslaan het. Smyt sommer van
die kleingoed tussen die halfgevrete hooibale agter op die waentjie. Laat val die familiebybel in die sand, maar is nou so
kerkloos bevoeterd dat hy nie eens moeite doen om die Groot Boek af te stof nie. Gooi dit sommer saam met die oorskiet skuinskoek
en mieliemeel in dieselfde sak.
Nou’t moelikheid mos ‘n manier om meer moeilikheid te loop en bymekaarmaak vertel oompie Doors. Spoel Oupa
se ongedurigheid oor na die haaragter esel, Vaaljas. Steeks. Slaan die donkiebloed mos deur soos kleur by Oom Swartwillem
Smit se kindertjies.
Wonder hy waarom die oom nou eintlik Swartwillem genoem was. Dis mos net die antie wat so effe ‘n moerkoffie
-met -te -min -melk –in kleur gehad het. En dan nou die span Smitjies. Nie een van hulle kon middelpaadjie kam nie.
Plat krulhaartjies soos ‘n pasgebore karakoellam.
So, borduur oompie Doors voort, wil daai Vaaljas nie ‘n dêm stil in die tuie kom staan nie. Vererg Oupa hom nog
verder in ‘n halwe stuiptrekking in en klap die stomme muil met die plathand teen die kop.
Oupa Hennerik het hoeka twee hanne soos wangrawe gehad. Vingers soos trosse piesangs. Vou daai klap amper driekeer
om die stomme esel se kop.
Oompie Doors vertel dat daai slag drie keer harder was as daai keer toe oorle oom Blinnewillem Brits met sy model T
teen die trein vasgery het op die levelcrossing tussen Nuwerus en Bitterfontein. Enigste verskil is net oom Blinnewillem het
nooit kans gehad om weer op te staan en die skade te meet
nie. Saam met sy Fordjie moerlandspan toe. Antie het oorleef. Kon daarna nooit weer praat nie. Seker van die skok. Het net
elke keer soos ‘n trein gefluit as mens haar groet. Vertel oom Doors mos.
Vaaljas was gelukkiger. Oompie Doors sê toe daai skoot klap, maak die esel ‘n geluid amper soos ‘n meisiekind
maak as ‘n jongetjie vir die eerste keer hoër as haar knie vat. So ‘n kruising tussen giggel en ‘n bedeesde
gil. Los hy so ‘n lang, hartseer en verwese eselpoep en sak daar langs die disselboom inmekaar. Soos ‘n sak nat
….. Voorpote bymekaar. Amper asof in gebed.
Kos vir Ouma vlugsout met haar voorskootpunte in sy gesperde neusgate opdruk. Help Karools hom dronk-dronk op sy pote
in die tuig in.
“Klim!” skrou Oupa en toe die laaste verskrikte kleintjie se gat vloervat in die waentjie, toe smeer die
ou amper twee melkbekers terpentyn met ‘n kakiesakdoek in die stomme esel se kloof op. Staan daai waentjie op sy agterwiele
soos daai spul inskop daar voor. Vaaljas bulk hees en hol amper bo-oor die esel voor hom in die tuig. Val vyf uit die kroos
van elf van die wa af.
Oompie Doors sê hulle het eers weer die wa kort duskant Lutzville ingehol. Was dit nie dat esels water moes vat nie,
het hulle spannetjie seker nou nog gehol.
Laatnag het Oupa eers weer afgetrek. Kindertjie se eetlus weggeskrik. Esels se asempies fluit soos ‘n klomp stoomenjins
in Soutrivier se treinwerf. Laaf Karools hulle met bietjie water. Snuif-snuif net so aan die voer en loer na Oupa se kant
toe. Lyk amper of hulle koes-koes water drink. Stomme goed.
Stoot toe sommer weer aan. Vertel oorle oompie Doors. Toe hulle laatmiddag die plaaswerf intrek, haal Oupa die Groot
Boek uit. Kèrkmense. Lees Psalm 23. Praat weer met die Liewen Heer. Sê dankie vir gespaarde lewens, sê dankie vir die lekker
weer by die see, sê dankie vir bewaring teen al wat boos en gifding is, sê dankie dat Spuitsorsie se kanale na normaal bekeer
is, sê dankie dat Vaaljas se lewe gespaar gebly het, sê dankie dat Vaaljas nie die ander wang ook gedraai het nie, sê askies
oorlat hy hom so hard geklap het, dra weer die regering en die hele boksemdaais aan die Liewen Heer op en smeek vir ‘n
lekseltjie reën op hierdie dorre, droë vlaktes van Klipfontein. Om Sy naamswil en met danksegging.
Toe Oupa sê “Amen” vertel oompie Doors, toe sak die son net mooi agter die koppies weg.
“Ons kan môre so lank leef afpak. Maak lat
julle in die huis kom dat ons kan boekevat en gaan lê”
sê die ou.
André Dippenaar
Vredenburg
5 September
2008