Moet darem bely, oompie Doors wasse man wat die voorreg
van vele belewenisse – toegee, sommige net kwartvaam waarhede – deurloop het.
Soos hierie een.
So vertellie
Ou oppe dag vir my vannie keer toe hy, oorle oom Sluis Schietekat en Gert Pond, op laasgenoemde se uitnodiging en beursie,
die stuk loop insit het Duitswes toe.
Kwansuis om te gaan gênsbokke skiet doer naby die Etosha-wildtuin
se grens oppie plaas van ‘n kêrel mettie van van Schneider.
Plaas se naam was glo Leeupan. Oompie Sluis wassie waterfiskaal
in Lutzville.
Nie saamgevat oorlat
hy ‘n wafferse jagter wassie. Eerder oor sy kookkwaliteite.
Wassie ou mosse oujongkêrel wat gekén het van kosmaak.
“Ou Swaerie” latie ou my verstaan, “om hierie storie na waarde te kan ag, moet jy onthou lat ou
Sluis, uitie aard van sy nering, heeldag en aldag gumboots geloop staane dra het.
Net die goed uitgetrek as hy saans innie kooi geloop klim het.
En, o ja, daai slag innie jagveld.
Die laaste keer was toe onsie ou loop staan en kis het. Konnie die
deksel toekry mettie boots aanie” Weetie ou te vertel lat mettie oppak, reis en afpak, g’n enkelte
een van hulle drie safari-gangers iets voorbodigs innie plaas se naam ingelees hettie.
So’s hulle toe oppe dag hier uitie Unie uit weg. Gert
Pond se ’58 Ford bakkie gelaai met al watte proviand, roer, koeëls en preserveermiddels is.
So loop slaatie jagters kamp op naby die grensdraad vannie wildtuin.
Tentjies, takkraal, geheel en al mette kookskermpie.
Loop hangie spannetjie lanterns aanie doringbome vir naglig enne sifsyfie virrie botter
en vleiserigheid.
Braai hulle
daai eerste aand ‘n skaaptjoppie uitie Unie uit en wassit af met preserveermiddels uit Worcester en Montagu se wêreld
uit.
Wis hulle g’n stuk niks
vannie leeu wat ‘n paar dae tevore deur ‘n gat in die grensdraad loop staane uitglip hettie.
Baas vannie plaas sê ook niksie.
Eers daai eerste oggend sal hulle die spore rondom die kamp loop
staane sien.
Sê ou Pond, “Manne
se manne, hier was so wragtig gisteraand ‘n moerse leeu hier byrie kamp!”
Daai aand, vertel Oompie, loop staan en bak Sluis opslag vetkoeke.
Rekenie Ou lat die ruik van olie en
meel nie leeus sal aanlokkie. “So staanie man en bak, gumboots en al”. vertel
Oompie.
Sommer virre ekstra beskerming
teen slange en gifgoed weetie kok sy skoeisel te loop staane verdedig. Vervat Oompie. “Kom ou Sluis
mettie bakkie rooiwarm vetkoeke innie paadjie af. T
ente se kant toe.
Sallie
ou, innie flou lig vannie lanterns, loop staane sien hier sitte moerse groot leeumanntjie innie paadjie.
Volg die ou gelukkig die raad wat Pond ons vroeër daai dag bedien
het.
Loop staanie kok, hanne agterie
rug, doodstil. Stiller asse miershoop” “So waggie ou lat die leeu moet loop. Nes Pond geverdydelik
het.
Oorval ‘n ligte bewe die
ou se hanne en val een van daai vetkoeke ongemerk byrie ou se gumboot in.
Brand soosie hel, maar Sluisie byt vas! So staanie man ennie leeu mekaar innie oë
en kyk en, so ‘n vyf minute later, toe loop staane verloorie leeu eetlus en belangstelling en loop weg.
Nes Pond gevoorspel het.” “Wis
ons van g’n sout of waterie.
Dis
eers wattie leeu hier so skuins agterie tente verbyloop en met ‘n moerse gebrul vir ons loop staan en nagsê, lat
ons ook innie kôsert loop staane debuteer.
Val Pond rûens agteroor met sy gat inne vleishaak in en slaan ekkie lantern van pure skrik dood mette halfgelling
wynkan. Kan en lantern desmoers” So kommie kok mank-mank byrie tente aan mettie bakkie vetkoek.
Kalm soosie Dooie See, weet Oompie te vertelle.
Sê Sluis, “Eet julle manne solank, ek wil nettie gumboot
gaan uittrek solat ek eers kan kyk hoe daai drol nou my been loop staane verbrand het”
Dis wat Sluis so wegmank ommie skade te loop staane vasstel, lat
Pond opstaan en sy hand agter by sy broek indruk.
Ruikie ou aan die klammigheid. Vrarie ou vir my, “Doorsie, stink bloed?” Sê
ek virrie ou, “Gert, is jy dan half kêns?
Natuurlik stink bloed g’n niksie!”
Antwoord die ou ewe verleë, “Dan’t ek nou so wragtag in my broek loop staane skyt!”