Afwesig Sonder Verlof
AWOL
Ons ouens
in die Staatspresidentswag het in woonstelle gebly wat spesiaal vir ons gebou was. Wat so wonderlik van die woonstelle was,
was dat daar geen drade om die woonstelle was nie. Ons kon letterlik gaan en kom soos ons wil. Natuurlik is hier waar een
van die ander waardevolle lesse in die weermag geleer is. Hoe om te Awol (Absence Without Leave) sonder om gevang te word.
Elke aand
9 uur moes ons bymekaar kom om getel te word. So net na 9 is ons kamers toe en so paar minute later is ons strate toe.
Die een Woensdag
aand is ons na ʼn restaurant genaamd Billy’s Baked Potatoes naby Unisa toe. Die dag het ons ge-pay en ons sakke
was vol geld. As ek reg kan onthou het ons daardie tyd sowat 50 sent per dag gekry.
Die restaurant
het twee ingange gehad. Ons bestel steak en aartappels. Ons was so driekwart deur ons feesmaal toe sien iemand dat ons staf
sersant en sy gesin by die linkerkantste deel van die restaurant inloop. Net daar staan ons op soos een man en glip by die
ander deur uit. Natuurlik sonder om te betaal. Soos groot spelde verdwyn ons
in die nag. Het hy ons daardie aand gesien was dit reguit DB toe. Daardie stukkie gesteelde steak was seker die lekkerste
wat ek ooit geëet het.
Daar was
ses van ons wat in ʼn Volkswagen Beatle rondgery het. Een aand haak een van die manne af en vertel dat hy mense ken wat
met verlof is. Ons ry daarheen, klim oor die hek, en gaan swem so stil stil en poedel nakend in die swembad.
Hoe later
hoe kwater. Ons begin lag en gesels. Ewe skielik skreeu iemand uit die huis uit. Met ons kaalgatte is ons oor die hek en weg.
Vêr van die huis af het ons gestop en aangetrek.
Jare na die
tyd het ek eers besef wat ons gedoen het. As die korporaal net een aand die Roll Call vroeër of later gemaak het, was ons
almal Durban Beach toe gewees vir weke.
Skutter 71295174A