Na die eerste week in die Weermag het my lewe heeltemal verander. Die lekker beskermde
lewe wat ek geniet het in my ouerhuis het nie meer bestaan nie. Die eerste plek wat ek agtergekom het my lewe het verander
is in my naam. Ek kon nie onthou wat my naam was nie, want almal het my bleddie roof,
of rofie genoem. Naderhand het ek gedink dat my naam seker deur die regering verander is sonder om my in kennis te
stel.
Dit is nogal ʼn groot kulturele skok om in die middel van die kookpot ingegooi
te word. Daardie eerste paar dae leer jy baie dinge. Die eerste ding wat ek geleer het is dat dit nie normaal was om te loop
nie. Ons het gehardloop van ons bungalows na die eetsaal, van die eetsaal parade grond toe. So het ons van die een punt na
die ander punt gehardloop.
Nou word ons ook geleer deur ons hoog agtige korporaal dat die weermag so goed is
vir ons dat hulle sommer gesorg het dat ons ʼn vrou kry en trou. Ons vrouens was natuurlik van staal en net ʼn paar
pond weeg. Jy slaap saam met jou staal vrou, dra haar saam toilet toe, gaan eet saam met haar en maak haar so nou en dan skoon.
Jy moes ook haar naam (nommer) uit jou kop ken.
Dag en nag het hulle jou gevra wat is jou geweer se nommer en dan moes jy die nommer
vir die korporaal gee en hy het natuurlik jou geweer gevat en gekyk of jy die waarheid praat.
Behoede jou siel as jy die verkeerde nommer gegee het. Dan was dit sommer push-ups of hardloop of een of ander vorm
van fisiese sinnelose straf.
Een van die oefeninge wat ons moes doen om te kyk of ons, ons gewere se nommers geken
het, het die korporaal ʼn seksie (10 troepe) gesê om hulle gewere op ʼn hoop te gooi. Dan op sy bevel moes ons dan
die gewere stormloop. Dan moes jy ʼn geweer gryp, na die nommer kyk en kyk of dit jou geweer is. As almal nie hulle eie
gewere gehad het nie, of as die ons dalk te lank gevat het om ons gewere te kry, het madam korporaal besluit dat ons na die
vêrste boom moes hardloop.
Nou moet ek sê dat ʼn troep iemand is wat baie innoverend is. Na so paar keer
se hardloop het ons seksie besluit dit is nie meer vir ons nie. So in die hardloop besluit ons dat ons net ʼn geweer gaan
gryp, daardie geweer se nommer in die paar sekondes memoriseer. So gesê so gemaak. Die korporaal het ons weer die oefening
laat doen. Elkeen gryp ʼn geweer en memoriseer daardie nommer. Die korporaal kom en vra so paar mense wat hulle gewere
se nommer is. Elkeen rammel die regte nommer af.
Die korporaal was so trots op ons. As die arme siel maar net geweet het dat ons hom
so lekker verneuk het. Ek hoop eindelik hy lees die stuk en dan kan hy sien dit is nie hy wat so slim was nie, maar dat ons
eindelik die septer geswaai het.
Die eerste keer toe ons, ons vrouens skietbaan toe geneem het was ʼn ramp. Al
die oumanne, dit is nou manne wat al amper klaar is met hulle opleiding en wag om uit te klaar, het die aand voor die tyd
na ons bungalows toe gekom om raad te gee. Hulle raad aan ons was om die gas van ons gewere amper toe te maak. Hulle raad
vêrder aan ons was dat ons moet die gewere se kolwe nie styf tee ons skouers moet trek nie.
Op die skietbaan doen ons alles wat die korporaal vir ons sê behalwe om die gas te
stel en om die kolwe teen ons skouers vas te trek. Die vriendelike oumanne het mos vir ons gesê wat ons moet doen. Dooie hel,
toe die eerste skote klap hoor jy net bleddie hel so op die ry af. Gewere val omtrent uit jou hande uit. Net daar kom ons
agter die oumanne het liederlik vir ons gelieg. As die gas afgedraai is en die geweer nie styf teen jou skouers is nie, skop
die geweer die dinges uit jou uit.
So is die oumanne nie meer so vriendelik nie en daar word planne beraam en gesmee
om hulle terug te kry. Die oumanne het geweet wat ons dink en ons het weer tweede daarvan afgekom. Daarna het ons besluit
om hulle maar te ignoreer.
Die mees beoefende sport in die weermag na elk inname was “Kom ons bevark ʼn
rower”. ʼn Sport wat ons ook baie goed bemeester het toe ons rowers ingekom het.