MAKERIEPAS!

Die Ruiter
VOORBLAD | Die Begin | Die Medies | Week1 | Koffie | AWOL | Plonsput | Killer | Tentpenne | FietsMajoor | Ruiter en Perd | Terug na ONSDORP

Die Ruiter die Perd en die Landmyn

Makeriepas1/ZFNexttotheroad.jpg

1981: Ek is deel van die Suid-Afrikaanse Polisie Koevoet eenheid Zulu Foxtrot en ons werk vanuit die SAW se Etale basis. Terwyl ons een oggend nog in die basis besig is om reg te maak vir uitgaan, hoor ek ‘n ontploffing en in die rigting van die ontploffing sien ek ‘n rookwolk uitstyg. In die basis is daar ‘n geskarrel en ek aanvaar dit is reaksie dril na aanleiding van die ontploffing.

Ons gevegsgroep bevelvoerder was Frans Conradie wat na beheerkamer toe is terwyl ons by die karre wag; ons het ons Casspir voertuie as karre aangespreek (polisietaal). Hy kom terug en ry, ons almal agterna. Ek verwag dat hy iets oor die radio gaan sê oor die ontploffing maar hy sê niks. Ek aanvaar dat as hy iets wou sê sou hy al en ek vra hom ook nie. Ons ry langs die groot wit stof pad en ek kom agter dinge is ietwat anders - ons het mos maar altyd op die pad gery tot frustrasie van die die manne wat landmyne op die paaie soek.

Voor sien ek iets aan die gebeur, daar is voertuie, mense, perde. Ons hou stil en ek sien die gat in die grond met dele van mens en perd en bloed en....., ooral. Instinktief gee ek die "f" woord gevolg deur ‘n skiet gebed. Die toneel ruk my in my binneste, hulle sê dis die perd wat die landmyn getrap het.

Hierdie soldaat en perd met landmyngat se toneel klim aggresief in my geheue en steek vas om vir altyd te bly. Ek kyk rond, nog manne met hulle perde is daar. Terwyl ruiters agter rondjaag en op mekaar skreeu, maak die perde ‘n groot indruk op my, hulle is onrustig en trap rond. Hulle blaas en runnik kort kort, asof hulle weet ook hulle het ‘n kamaraad verloor. Dan sien ek ook manne op die grond sit, hulle is duidelik geskud.

Ons ry en ek kan hoor en voel die atmosfeer in my kar is anders. ZF se manne praat met mekaar in Oshivambo in so ‘n manier dat ek verstaan dat hulle ook aangegryp is. Ons draai af en stop by ‘n kraal, daar word elke man, vrou en kind eenkant toe gevat en ondervra. Ons spoorsnyers soek ooral op die gond soos ‘n hoender wat loop en skrop. Ons ry na die volgende kraal en dieselfde ding gebeur ook daar. My konsentrasie is min by wat ons doen want ek probeer nog verwerk wat ek vroeër beleef het.

Ons kry spore en die opvolg begin. Ek en almal is gefokus. Die spoor word warm en Frans roep die gunships (helikopters), kort voor lank klap die skote. Ons skiet twee. Terwyl ons die lyke aan die karre vasmaak vra ek vir Bennie, my owambo vriend en Koevoet adjudant offisier, "dink jy dis hulle wat die landmyn geplant het" Bennie sê hy weet nie "maar miskien dis hulle?". Dit laat my beter voel.

Ons ry terug basis toe en ek begin weer dink oor die perd wat die landmyn getrap het. So ‘n klein teiken om deur ‘n perd raak getrap te word dan nog die landmyn afsit, ek het nooit kon dink ‘n perd sal ‘n myn kan aftrap nie..... My gedagtes is weer by die soldaat en ek glo ek kon sien dat hy maar ‘n kind was....wel kinders was by die huis en dit is soldate wat op die grens is, help ek myself reg. Of ek dit gesien of aangevoel het weet ek nie maar ek weet hy was jonk en dit pla my, as hy dan nie ‘n kind is nie, is hy iemand se kind!

Met ons aankoms by Etale basis is daar ‘n gejuig toe die manne die lyke van die terre vasgemaak op ons karre sien. Hulle help ons aflaai. Daar is baie kommentaar en ek kan hoor hulle voel tog dat vergelding het plaasgevind. Ek wil dit ook glo maar ek weet nie of dit so is nie en ek probeer my uit hierdie geselskap hou.

Die aande daarna besoek hierdie uitgekerfde landmyn toneel van my geheue my weer en weer. Dis asof ek vir myself vra wat het ek hieroor te sê het? Daar kom tog ‘n dankbaarheid in my op, nie oor die man wat dood is nie, maar oor hoe hy dood is. In daardie stadium was ek al ses jaar polisieman en ek val terug op ervaring wat vir my se dat hy nie kon geweet het, hy is dood nie. Die ontploffing en die impak op sy liggaam was net te geweldig,  .....alles net te groot en vining. Ek weet ons kan nie kies hoe ons eendag doodgaan nie maar as my dag moet kom, moet dit asb nie anders wees as wat dit vir die man op sy perd was nie, redeneer ek by myself.... pynloos sonder ‘n doodservaring!

Nou na omtrent 34 jaar wat verby is wonder ek nogsteeds baie oor hierdie ruiter en sy familie. Ek wil glo dat hulle berusting gevind het, want tyd bring genesing. Ek weet egter hulle het nie vergeet nie want ons het nie vergeet nie. Ek weet hulle wil hom nog vandag by hulle gehad het - wou nog met hom lag en gesels. Maar dit is nou anders.

Ek hoop sy familie, mede-ruiters en vriende sal my verstaan as ek sê dat die wyse van sy dood op ‘n manier beminlik is. Ek glo hy is vinniger as skielik dood. Hy en sy perd was altwee soldate en as kombinasie is hulle ons vooruit. Die Bybel se Jesus ry met ‘n wit perd en ek wil glo dat hy en Jesus baie vermaak het met hulle perde daar waar hulle is. Soos wat my hart vir die ruiter en sy familie uitgaan, is ek intens bewus van die beredemanne wat die dag daar was. Hulle moes die skokgolf van die landmyn en tragedie baie intens beleef het. Ek probeer verstaan hoe hulle hulle perde onderbeheer moes kry, wie het afgeval, wie het seergekry.... Ek glo dat net oomblike voor die ontploffing het hulle nog saam gepraat en sekerlik ‘n grapie kon maak. Dan, die toneel van dood vir mens en dier wat opgeruim moes word, die liggaam in die "body-bag" kry, dit alles het sy kollegas moes doen, ek probeer hulle gesigte onthou...ook maar net kinders. Ek weet hulle het dit met eer, respek en waardigheid gedoen maar ek weet ook binne hulle binneste het dit geruk!! Ek weet dat daai mes wat in my geheue die dag se gebeure uitgekerf het, dit by hulle ook gedoen het; ek dink net met baie dieper snye uitgekerf, hulle het hom geken, ek nie.

Ek het sedertdien met van die oorledene se kollegas van die tragiese dag kon praat. Hulle sê dat hy reeds gepak was om huistoe te kon gaan, blykbaar die volgende dag.

Gun my asseblief die geleentheid om hulde te bring aan 79524755BG Hendrik Kasper Jordaan van SWA Spes Eenheid SWATF, verbonde aan Battalion 53 en wat op 3 April 1981 sterf toe sy perd die landmyn afgetrap het in die Etale omgewing, Owamboland. Hy was 20 jaar oud. 

STUUR JOU EIE STORIE AAN pos@onsdorp.com

Teken ons Gasteboek  Stories in ons Gasteboek

Die GASTEBOEK skakels hierbo bevat al reeds verskeie nuwe staaltjies vanaf lesers wat ons webwerf besoek het. Gaan loer gerus en skryf sommer joune daar in.

tenk.jpg

Teken in op Kammanuus


    3046 Lesers al reeds!
    GetResponse E-pos Bemarking