ONS
was een jaar ʼn klomp kampers in Messina (nou Musina) waar ons so een middag lekker gelê en pere bak het.
Skielik
hoor ons een moerse lawaai daar van die plonsput se kant af. Toe ons om die hoek loer, sien ons ʼn outjie wat lyk of hy
sakresies hardloop: Broek onder die knieë, en die man lat loop daar na die medics se kant toe. Ons kry toe die indruk dat
ʼn slang hom op die knolle gepik het, want hulle hang mos redelik laag so in die sittende posisie.
Die
nuuskierigheid het ons so ʼn bietjie oorval en ons gaan stel toe ondersoek in. Met oorgehaalde roers benader ons toe die
preekstoel, net om te vind daar is geen slang nie. Ons loop toe om die gedoente en hier kry ons een van die manne met ʼn
skokstok vir 'n skaap: Elke keer as ʼn man gaan sit, werk hy hom hier van agter af.
Ons
het lekker gelag en gaan toe terug na ons normale rusposisie. Ons het net begin ontspan, toe sien ons hier kom die sammajoor
met ʼn baie benoude uitdrukking op sy gesig verby.
Die
ou loop die longdrop storm, en ek sê vir die kêrels hier kom ʼn ding. Die sammajoor
het net begin om te laat waai, toe bewerk die geheime agent hom met die skokstok.
Die
volgende oomblik staan die ou met ketel en al buite die pardoems en gil dat die aarde dreun. Ons het so gelag dat ek my amper
self ook bevuil het. Ons het toe maar spore gemaak, want ons was maar bang die
ou het gesien hoe ons gelag het en kry ons in die hande.
Nou
wil ek net ʼn beroep op daai dapper soldaat doen wat die skokstok beman het: As jy dalk eendag die staaltjie oor jouself
lees, wil ons net graag weet wat agterna gebeur het, want ons het jou nie weer met ʼn oog gesien nie.