Na my kamp gaan ek weer aan met die werk.
Eendag so rustig by die huis kom daar ʼn amptelike brief by my aan. Net so voor Kersfees gewees. Ek is opgeroep vir ʼn
drie maande kamp. Daar was daardie stadium ook baie gerugte gewees oor ons Soldate wat in Angola
was. Dit het nou juis nie ʼn genie geneem om uit te werk waarheen ons op pad is nie.
Net na nuwejaar kom ons by die regiment bymekaar.
Die weermag het gedink hulle treat ons
om vir ons ʼn eerste klas trein te bestel. Ons word ses per kompartement ingedeel per treintrok.Toe ons in die kompartemente
ingaan sien ons daar is slegs 4 slaapbanke in plaas van ses.
So is ons toe soos sardientjies Bloemfontein toe. Daar het ons ʼn paar dae oorgelê en is toegegooi
onder die breinspoeling en ons is medies ondersoek.
Weg van Bloem af, weer met ʼn trein, na die wilde vreemde
van die GRENS.
Die aand baie laat word ek wakker en
hoor net hoe baklei iemand. Die een ou het in die nag opgestaan en na die wasbak se kant gedraai in plaas daarvan om na die
deur se kant te draai en dan uit na die toilet toe.
Bo die wasbak het daar ʼn lekker groot spieël gehang. So deur
die slaap sien die man iemand voor hom staan. As hy links beweeg, beweeg die man ook links. As hy regs beweeg, beweeg die
man ook regs. Die man wil hom net nie laat verbygaan nie. Hy vloek die ou en hy die man wil gryp, wys ons hom op sy fout.
Daar was baie lank gespot met die ou wat so met homself staan en baklei het.
Ons is iewers in ʼn veld afgelaai.
Vêr van alles en almal af. Die tente is teenmekaar en daar is nie juis plek om te beweeg nie. Maar ons trek daar in. Dit was
net tentpenne en ankerdrade waar jy kyk. In die dag was dit al klaar moeilik om deur die tente te loop van en na die plekke
wat ons moes kom. Baie van ons het so geval en geloop om te kom waar ons was.
Om dinge
erger te maak, kry mens mos maklik in die eerste paar dae baie Jippo Guts (Spoel maag). Die een aand baie laat, slaap ons
en ewe skielik word ons wakker van ʼn gerumoer. Iemand, en tot vandag weet ek nie wie dit was nie, se maag wou gaan,
en die man probeer tussen al die penne en drade hardloop om by die toilette te kom. Ongelukkig vir hom het sy voet vasgehaak
aan ʼn tentpen.
Die arme man slaan al swetsende neer
soos ʼn dooie os. Toe hy die grond slaan kom dit hard en duidelik uit sy mond “Aag hel daar dinges ek nou in my
broek”. Toe hy val kon hy nie meer knyp nie. Ons het net gehoor hy staan en was sy klere so in die laatnag. Ons het
ure daarna nog gelag daaroor. Meestal uit verligting omdat die storie ons nie getref het nie.
Skutter Lombaard