BoemerangBoertjie

Begin | Askies | kopskote | Ape | Alkant | Moker | Trein | Immigrasie | Niekrieket | Kinkels | Kortbroek | Reen | Splinters | Stadsjapie | Sinneloos | Baanbokke | Ditjies | Groen | Joets | Onweerbaar | Footy | OZPOLITIEK | ANZAC | Luilekker | Tandloos

ALKANT SELLE KANT

Die agterkant van die voorkant van die onderkant

 

 

Ja, dit moes seker gebeur; die skrif was al lankal aan die muur... en nou sit ons hierso met ‘n nuwe federale regering onder Rudd en sy Arbeiders. Dit beteken dat al die deelstate én die federasie nou deur een party beheer word, wat ‘n lastige situasie kan wees – en heelwaarskynlik gaan wees.

 

Ek reken daar is twee hoofredes vir die Liberale Party se bloedneus by die stembus. Een het te doen met John Howard, en die ander met ons Ossies se geestestoestand deesdae.

 

Johnnie het te lank gebly. Soos siel in die Engelse gesegde het hy te lank aan sy koek geklou, en nou is die ding suur en muf en net goed vir die asblik. Verder het die verkiesing hier, soos ongelukkig te dikwels elders ook, weinig of niks te doene gehad met beleid nie, maar afgeloop op ‘n keuse tussen persoonlikhede. Howard is myns insiens tien keer die man wat Rudd is, en dis waar Johnny se probeem gekom het... die feit dat hy voor die tyd gesê het hy sal aftree voor sy termyn verstryk, het die stemmers bang gemaak, want hulle was onseker oor die gestalte en gehalte van wie ook al hom sou opvolg.

 

Meeste mense sal sê die Liberale het verloor omdat hulle troepe Irak toe gestuur het en omdat hulle met hul werksplek-hervormings die werkers skade aangerig het. Laasgenoemde  was natuurlik die strydkreet van die ACTU, die Australiese vakbondkongres.

 

Maar eintlik is die ongelukkigheid oor troepe in Irak (wat in elk geval nie in ‘n gevegsrol daar is nie) net ‘n simptoom van die proses wat nou al oor dekades Ossies pap gemaak het. ‘n Mens kan sê dis die verwyfing van die bevolking. Jare van Arbeidersbewind voor Howard het naamlik afgestuur op die toestand wat ons nou het: werkers wat gepamperlang word ten nadele van werkgewers, ‘n nasie wat huiwer is om te waag, politiese korrektheid wat belaglik geword het, ‘n bevolking wat grootbek van “battlers” praat, maar wat bang is vir baklei vir oorlewing, en ‘n samelewing wat heeltemal verknog geraak het aan Moedertjie-regering.

 

Vir dié mense is die gedagte dat ‘n mens soldate kan stuur om jou bondgenote by te staan, onaanvaarbaar, want sê nou net een van ons bloedjies kry seer? Vir dié mense is die idee dat werker en werkgewer self moet onderhandel oor salarisse en byvoordele taboe. Sien, Moedertjie regering moet aan almal voorskryf sodat die sot wat sy poot in ‘n pot kookwater druk, nie gebrand word nie. Vir dié mense is die idee dat jy werk moet aanvaar en hard moet werk ‘n onaangename ding, want Moedertjie regering moet mos betaal vir dié wat te slapgat is om werk te soek, of wat net werk wil hê wat so veel as moontlik betaal vir so min as moontlik doen.

 

Wat gaan nou gebeur? Kanse is baie goed dat die dole nog slapper toegepas gaan word, dat werkgewers gedwing gaan word om ‘n berg te betaal vir ‘n molshoop se werk, dat dit werkloosheid tot gevolg gaan hê en dat inflasie gaan klim en daarmee saam die rentekoers. Histories is daai rentekoers-spook een wat nog altyd in die Arbeiders se huis geboer het.

 

Australiese troepe se onttrekking uit Irak gaan beslis deur Al-Qaeda en hulle meelopers as ‘n oorwinning gesien word. En as jy die ongelowige duiwel tuis kan verslaan, hoekom hom nie in sy eie huis beetpak nie? Dis ‘n skrikwekkende gedagte, en ek hoop maar net ek sit die pot mis met dié een.

 

Ja-nee, hier aan die onderkant lyk die voorkant se agterkant nie te blink nie...

Skryf vir Boemerangboertjie

Kliek NOU Hier!