Die agterkant van die voorkant
van die onderkant
Ja, dit moes seker gebeur; die skrif
was al lankal aan die muur... en nou sit ons hierso met ‘n nuwe federale regering onder Rudd en sy Arbeiders. Dit beteken
dat al die deelstate én die federasie nou deur een party beheer word, wat ‘n lastige situasie kan wees – en heelwaarskynlik
gaan wees.
Ek reken daar is twee hoofredes vir
die Liberale Party se bloedneus by die stembus. Een het te doen met John Howard, en die ander met ons Ossies se geestestoestand
deesdae.
Johnnie het te lank gebly. Soos siel
in die Engelse gesegde het hy te lank aan sy koek geklou, en nou is die ding suur en muf en net goed vir die asblik. Verder
het die verkiesing hier, soos ongelukkig te dikwels elders ook, weinig of niks te doene gehad met beleid nie, maar afgeloop
op ‘n keuse tussen persoonlikhede. Howard is myns insiens tien keer die man wat Rudd is, en dis waar Johnny se probeem
gekom het... die feit dat hy voor die tyd gesê het hy sal aftree voor sy termyn verstryk, het die stemmers bang gemaak, want
hulle was onseker oor die gestalte en gehalte van wie ook al hom sou opvolg.
Meeste mense sal sê die Liberale het
verloor omdat hulle troepe Irak toe gestuur het en omdat hulle met hul werksplek-hervormings die werkers skade aangerig het.
Laasgenoemde was natuurlik die strydkreet van die ACTU, die Australiese vakbondkongres.
Maar eintlik is die ongelukkigheid
oor troepe in Irak (wat in elk geval nie in ‘n gevegsrol daar is nie) net ‘n simptoom van die proses wat nou al
oor dekades Ossies pap gemaak het. ‘n Mens kan sê dis die verwyfing van die bevolking. Jare van Arbeidersbewind voor
Howard het naamlik afgestuur op die toestand wat ons nou het: werkers wat gepamperlang word ten nadele van werkgewers, ‘n
nasie wat huiwer is om te waag, politiese korrektheid wat belaglik geword het, ‘n bevolking wat grootbek van “battlers”
praat, maar wat bang is vir baklei vir oorlewing, en ‘n samelewing wat heeltemal verknog geraak het aan Moedertjie-regering.
Vir dié mense is die gedagte dat ‘n
mens soldate kan stuur om jou bondgenote by te staan, onaanvaarbaar, want sê nou net een van ons bloedjies kry seer? Vir dié
mense is die idee dat werker en werkgewer self moet onderhandel oor salarisse en byvoordele taboe. Sien, Moedertjie regering
moet aan almal voorskryf sodat die sot wat sy poot in ‘n pot kookwater druk, nie gebrand word nie. Vir dié mense is
die idee dat jy werk moet aanvaar en hard moet werk ‘n onaangename ding, want Moedertjie regering moet mos betaal vir
dié wat te slapgat is om werk te soek, of wat net werk wil hê wat so veel as moontlik betaal vir so min as moontlik doen.
Wat gaan nou gebeur? Kanse is baie
goed dat die dole nog slapper toegepas gaan word, dat werkgewers gedwing gaan word
om ‘n berg te betaal vir ‘n molshoop se werk, dat dit werkloosheid tot gevolg gaan hê en dat inflasie gaan klim
en daarmee saam die rentekoers. Histories is daai rentekoers-spook een wat nog altyd in die Arbeiders se huis geboer het.
Australiese troepe se onttrekking
uit Irak gaan beslis deur Al-Qaeda en hulle meelopers as ‘n oorwinning gesien word. En as jy die ongelowige duiwel tuis
kan verslaan, hoekom hom nie in sy eie huis beetpak nie? Dis ‘n skrikwekkende gedagte, en ek hoop maar net ek sit die
pot mis met dié een.
Ja-nee, hier aan die onderkant lyk
die voorkant se agterkant nie te blink nie...