BoemerangBoertjie

Begin | Askies | kopskote | Ape | Alkant | Moker | Trein | Immigrasie | Niekrieket | Kinkels | Kortbroek | Reen | Splinters | Stadsjapie | Sinneloos | Baanbokke | Ditjies | Groen | Joets | Onweerbaar | Footy | OZPOLITIEK | ANZAC | Luilekker | Tandloos

Die ANZAC Mite

Prentjies uit Australië

williamstown.jpg
WILLIAMSTOWN

n Fabel en dié Mite

 

Onthou julle nog die seunsbendes van toeka se dae toe ons nog kaalvoet in die veld gespeel het en kleilat gegooi het en vrugte steel die ergste oortreding was? Nou ja, my fabeltjie speel in daai tyd af...

Daar was die twee bendes, sien, en eendag op die speelterrein by die skool beveel die leier van een van die bendes twee van sy lede, sulke jong latte wat maar op die rand van die groep was, om 'n enkele lid van die ander bende aan te pak. Hulle maak toe ook so, en daar's 'n helse bakleiery; jy sien net tande en hare en nerwe waai, maar die enkel outjie van die ander bende slaan die twee latte kisboude, stof sy kortbroek af en stap terug na sy maats. Dié is so beïndruk dat hulle hom 'n wat later as leier kies. Die twee verloorders staan uit die stof op, vee hul bloedneuse en trane af en loop druipstert terug na hul maats. Nie lank later nie, begin hulle vir almal vertel hoe dapper hulle was en hoe hulle nou mans is en hoe hulle altyd dié dag sal onthou as die dag wat hulle eintlik 'n bende van hul eie geword het... so asof die verloordery 'n wen was, sien?

Maak nie sin nie, nè? Nou verduidelik seblief vir my hoe die Ossies dit regkry om van die hele miltêre moles wat hom in 1915 in die Dardenelle afgespeel het vir hulself nasieskap te  vervaardig. Sien, daar's die Anzac mite, en dan is daar die kille werklikheid van wat daar gebeur het, beginnende die 25ste April 1915.

Dit is op dié dag dat die hele strategiese katastrofe begin het. 25 000 Australiese en Nieu-Seelandse troepe, bekend as die Australian and New Zealand Army Corps (ANZAC) onder bevel van die Brit Generaal Sir William Birdwood land naby Ari Burnu op die Gallipoli Skiereiland as deel van 'n poging om die destydse Konstantinopel oor land in te neem en sodoende Turkye uit die oorlog te haal, beheer oor die Dardenelle en Bosporus te verkry en dus 'n verbindinglyn met Rusland te open, en ook om hopelik te verhoed dat Bulgarye aan Duitse kant inspring. Teen sononder het die Anzac-magte reeds 2 000 ongevalle, en is hulle steeds op die strand vasgepen. Nege maande later onttrek die Geallieerdes sonder dat hulle ooit meer as 'n paar kilometer Turkse grondgebied kon wen. In dié tyd sterf meer as 100 000 Turkse en Geallieerde troepe en 90 000 Geallieerde troepe word platgetrek deur bevriesing en disenterie. Turkye bly 'n bondgenoot van die Duitsers en Bulgarye klim aan Duitse kant die oorlog in.

Die Dardenelle Veldtog was dus, militêr en strategies gesproke, 'n totale katastrofe. Die grootste wenner in die hele tragiese flaterspul was die Turke, en veral die bevelvoerder van die verdedigende mag, ene Mustapha Kemal, wat later bekend sou staan as Kemal Attaturk, die vader van moderne Turkye.

Nogtans maak die Aussies op dié hele misoes aanspraak as die bron van hul nasiewording en sê hulle dis waar hulle die eerste keer as 'n nasie geveg het. Hoe kry 'n mens dié kloutjie by die oor? Hulle het onder Britse bevel gestaan, was deel van 'n Britse bevelstruktuur en 'n groot gedeelte van die Anzac-mag was Nieu-Seelanders. Hulle kon nie hond haar-af maak teen die Turke nie en moes druipstert en bloedneus en ongedane sake die aftog afblaas! Dit terwyl daar op die Wesfront Australiese magte was wat onder hul eie bevelvoerders sukses behaal het! Maar die Wesfront word doodgeswyg in die hele gehoeradery en geskal en geborsslanery oor "Gallipoli" (die naam kom meer van die rolprent af as uit die geskiedenis van die veldtog uit).

Die man wat feitlik eiehandig verantwoordelik is vir die Anzac Nasieskap Mite, is 'n kêrel by name Charles Edwin Woodrow Bean, 'n oorlogkorrespondent vir die Sydney Morning Herald wat later sy eie geskiedenis van die Australiese betrokkenheid in die Eerste Wêreldoorlog geskryf het. As verslaggewer was hy glo nie waffers nie, maar sy ywer en patriotisme was grensloos, en hy is eintlik die skepper van die hele mite.

Nee kyk, 'n mens moet seker maar hoed afhaal vir iemand wat van 'n misrabele mislukking 'n heldhaftige suksesverhaal kan weef! Maar die koue feite vertel tog 'n ander storie – moet dit net nie vir 'n Ossie probeer vetel nie, want hy of sy sal jou as 'n "mongrel" uitkryt (dis die sterktse skelwoord wat Ossies gebruik vir iemand wat hulle aanvat).

Soos Ripley sê, raar maar waar!

Groetnis.

Boemerangboertjie

Skryf vir Boemerangboertjie

Kliek NOU Hier!