Van Ape en ander nare goeters
Dis darem nog nie ou nuus nie, want
die Indiërs is nog hier en die vierde kriekettoets is nog aan die gang... ek praat natuurlik van die onaangename tornado in
‘n teekoppie rondom Harbhajan Singh en Andrew Symonds.
Ek wil nog steeds weet hoe ‘n
mens dié kloutjie by die oor bring: hoe op dees aarde is dit rassisties om iemand ‘n aap te noem? Dis ‘n belediging,
ja, maar rassisties? Kyk, as die een bruinerige kêrel die ander bruinerige kêrel ‘n swart aap genoem het, was dit ‘n
heel ander saak. Maar ‘n aap behoort nie tot dieslfde spesies as ons mense nie (ja... ek weet dis nie altyd so maklik
die verskil te sien nie!). En die woord “rassisme” dui tog duidelik op die diskrimasie teen of beledinging van
‘n ander op grond van sy/haar velkleur of etnisiteit. Of het ek êrens iets gemis en behoort ape nou ook tot die spesie
Homo Sapiens? Amptelik, bedoel ek nou.
Eintlik het die hele petalje my glad
nie verbaas nie. Ons ken mos al teen dié tyd die heer Ponting se benadering tot krieket – jy wen, en ten alle koste.
Dis nie net hy wat so dink nie, dis ‘n karaktereienskap wat ‘n groot persentasie Ossies toon. Sien, as jy nie
altyd wen nie, is jy noodgedwonge ‘n minderwaardige skepsel, is die gedagte blykbaar. Dit spruit uit daardie nasionale
minderwaardigheidskompleks wat selfs Ossies ruiterlik erken – behalwe dié
wat weens hul gevoel van minderwaardig wees dit NOOIT sal erken nie.
Teen dié agtergrond is dit natuurlik
ook nie vreemd dat dit juis Ossie krieketspelers is wat die hele “sledging” ding begin het nie. Die oogmerk is
immers om die kolwer van stryk af te bring in die hoop dat hy sy paaltjie goedkoop sal weggee – net om seker te maak
ons wen, natuurlik! En die narighede wat Pontinkie en sy maters en dié se voorgangers
darem al so kwytgeraak het! Gewoonlik is die onderwerp die kolwer se ma, sy vrou, sy nooi, sy suster of sy dogter, en die
aanmerkings is nooit vleiend nie! Vergeleke daarmee is dit amper pateties kinderlik om iemand ‘n aap te noem.
Maar, die ander ding wat ons ook nou
al almal van Ossies weet, is dat hulle kermkouse is wat ‘n pak kan uitdeel, maar nie kan vat nie. Daarom die hoogheilige
verontwaardigeid dat iemand een van hul eie ‘n aap durf noem. (Ek wonder nou juis, waarom het die Indiërs – toeskouers
en spelers – ‘n aap gekies? Die diere is immers heilig in Indië. Het iemand dalk ‘n ooreenkoms in bv. gesigstruktuur
tussen die dier en die krieketspeler gesien of raakgesien? Wonder maar net...)
Wat ook nie juis sin maak nie, is
die feit dat geen een van die mikrofone op die veld die gewraakte belediging (askies, rassistiese aanmerking!) opgetel het
nie. Op die ou einde is dit Ponting en Symonds se woord teen dié van Singh, en ons weet mos almal die twee here is ware gentlemen
wat in die gees van die spel nooit sal jok of verneuk nie ... hulle is, soos Brutus, eerbare manne...
Na die fiasko van die tweede toets
wat Mr Bugnor eintlik vir die Ossies op ‘n skinkbord aangedra het, en die hele gekerm oor die aap noemery, is een ding
duidelik: Ossie krieketspelers gaan GUL verwelkom word as hulle weer in Indië gaan toer!
Groetnis!