BoemerangBoertjie

Begin | Askies | kopskote | Ape | Alkant | Moker | Trein | Immigrasie | Niekrieket | Kinkels | Kortbroek | Reen | Splinters | Stadsjapie | Sinneloos | Baanbokke | Ditjies | Groen | Joets | Onweerbaar | Footy | OZPOLITIEK | ANZAC | Luilekker | Tandloos

Baanbokke en Flikkerligvarke

Prentjies uit Australië

winner161.jpg
Victoria

Van baanbokke en flikkerligvarke 
 
 

Ja, ek wéét dit was ‘n helse lang stilte! Maar ou Boertjie werk op sy oudag lang dae, met die gevolg dat daar maar min rekenaaruurtjies in die dag oorbly. Askies in elk geval vir dié wat my gekrabbel gemis het. 

Kyk, ek spandeer mos deesdae meer as twee uur per dag op die pad; dis nou elke oggend en aand se ryery tussen die huis en die stasie waar ek die trein haal om die die stad te kom om die trem na my werkplek te haal. Die stuk pad wat ek elke dag ry, is meestal snelweg, te wete ‘n stuk op die South Gipsland, en dan nog ‘n ent op die Monash snelweë. Die stuk of dertig kilometer draf ‘n mens normaalweg in so twinting minute kaf ... maar nie in spitstyd nie! Ek is gelukkig as ek minder as ‘n uur lank ry aan die ou stukkie pad. 

‘n Pasbekeerde Ossie wat Boermeisie was het mos eendag te vertelle hoe wetsgehoorsaam die Ossies is, en hoe mooi hulle ry... Ek wonder nog steeds waar de joos sy gery het, want wat ek elke dag belewe, is genoeg om ‘n die dalai Lama tot padwoede te dryf. Ja, daar is baie wat mooi bestuur, wat bedagsaam is en wat bewus is daarvan dat ander mense ook hul bestemming heelhuids en sonder ‘n beroerte wil bereik, maar dan is daar die res... 

Sien, te veel van die boggers reken hulle gaan vinniger anderkant aankom as hulle deur die stringe kruiende kare vleg. Dis nou die baanbokke, die jafels wat wild en moedswillig van een baan na die ander spring in ‘n verbete poging om tog net ‘n sekonde of twee op te maak. As almal nou teen 15 km/h en net-net ‘n karlengte van mekaar af aankreun, beteken dit die baanbokbliksem dwing allewig ander om remme aan te slaan, en ons weet almal wat gebeur as die voorste ou in ‘n lang wors van motors moet rem – die arme mens so dertig karre verder terug kom tot stilstand, en so word die hele gemors net ‘n erger wrewelspul! 

Baanbokke is ook een van die twee spesies flikkerligvarke: hulle reken mos dat, as jy jou flikkerligte aanskakel, beteken dit outomaties dat daar ‘n gaping ewe wonderbaarlik in die baan langsaan sal oopgaan waarin jy jou tjor kan indruk. Nee, armsalige alie, dit werk nie so nie! Die minder verfoeilikes gee ander motorryers darem so ‘n breekdeel van ‘n sekonde waarskuwing, maar die res doen alles sommer in een beweging: flikkerlig aan, forseer jouself in ‘n gat in wat nie daar was nie en rem vir die vale sodat jy nie in die kar voor jou se kattebak beland nie. Die ander flikkerligvarke is dié wat nie weet dat hulle flikkerligte het nie, of te donners lui is om die goed te gebruik. ‘n mens tjommel nog ewe rustig, al is dit dan dalk swetsend, aan, en dan skielik skuif die jafel net oor en moet jy briekaanslaan dat die rook staan om te verhoed dat jy kar en al langs hom in sy kar sit! 

Van die ergste sondebokke is sommige lorriedrywers. Hulle gebruik hul enorme voertuie as wapens. Soos die een wat een oggend al sy moere op een slag gestrip het omdat die motor langs hom nie wou rem om plek te maak vir sy tienmeter-lange voertuig nie! Hy kon net ‘n minuut of wat gewag het om die groot gaping tussen dié motor en die een agter dit te vat, maar Meneer Baksteenbrein kon dit nie insien nie. Wat was my leedvermaak groot toe die string voertuie wat hy verlaat het, skielik vinniger beweeg en hom myle ver agterlaat! 

Van bufferbobbejane, of kattebakkruipers, wil ek nie eens praat nie. G’n wonder dat, as daar ‘n ongeluk op die snelweg gebeur, dit gewoonlik is omdat twee voertuie fisies eenvoudig net nie dieselfde ruimte kan vul nie. Die ander dag het drie motors mekaar so gegroet. Gelukkig kan niemand vinnig genoeg ry om seer te kry nie, maar die skade is nog steeds erg, en die ongerief groot. 

Elke nou en dan moet ek ewe benoude boude agter ‘n sekere dametjie (of “dommetjie”, soos die Valies – met reg -- sou sê) ry. Sy het klaarblyklik nie ‘n spiëel in die huis nie, want sit elke oggend haar gesig in die kar aan, van poeier tot lipstiffie en maskara, alles so in die ry! 

Kyk, julle moet my mooi verstaan: Ossie paaie is wonderlik vergeleke met die meeste Suid-Afrikaanse paaie, en ‘n groot persentasie Ossies weet om hul maniere saam te vat in die kar, maar daar is hopeloos te veel wat net eenvoudig arrogante varke is wat nooit ‘n rybewys moes gekry het nie. Hulle kan net hul sterre dank dat daar nie minibus taxis hier is nie, want anders sou die koeëls elke dag vlieg. En gelukkig is die oorgrote meerderheid Ossies (wel, hier in Victoria, in elke geval) nie geneig om rollies or hokkiestokke of bakstene te gebruik om hul misnoë met ander se padvarkerigheid uit te druk nie. Maar ek bewe vir die dag dat van hierdie padboelies só in Las Vegas bestuur! 
 

Koershou! 


 

Skryf vir Boemerangboertjie

Kliek NOU Hier!