BoemerangBoertjie

Begin | Askies | kopskote | Ape | Alkant | Moker | Trein | Immigrasie | Niekrieket | Kinkels | Kortbroek | Reen | Splinters | Stadsjapie | Sinneloos | Baanbokke | Ditjies | Groen | Joets | Onweerbaar | Footy | OZPOLITIEK | ANZAC | Luilekker | Tandloos

KORTBROEK KLONG

Prentjies uit Australië

bbflindersstraatstasie.jpg
Flinderstraat Stasie

Kortbroekklong

 

 

 

Staan en wag mos vanoggend vir die trein. Die son is nog nie mooi op nie en 'n briesie so skerp soos 'n skeermeslemmetjie laat my bibber. Meteens is ek ver weg en lank gelede: Alicedale op 'n wintersoggend in 1963.

 

Ek is twaalf jaar oud en op pad skool toe. Die oggend is wit van die ryp en waar ek oor die ses treinspore moet stap, hang die steenkoolreuk van die lokomotief in die stasie, net so 'n honderd treë van my af, swaar in die lug. Die swart Garrard steun en stoom, sis elke nou en dan in afwagting op die lang trek binneland toe. Die dorpie is nog stil, net die veraf gekletter van 'n melkkan, die klokklank van die wielklopper se hamer teen die treinwiele en 'n hond wat êrens tussen die sink spoorweghuisies kef, breek die grou oggendstilte.

 

Anderkant die spore wag Salome vir my. Mooiste meisiekind met die swartbruin hare wat in die mistige lug glim. My hart bokspring soos 'n spelerige springboklam terwyl ek haar tas vat en ons saam verder stap, swygsaam, want woorde is nie nodig nie. My kaal knieë voel stram van die koue en my sitvlak is teer van gistermiddag se botterboom ry op die klipplaat langs die rivier. Ek skat die kneusplekke van die onvermeidelike afvallery elke nou en dan gaan gou lekker pers en siekgeel word. Sal moet mooitrap dat mnr. Brand, ons klasonderwyser en skoolhoof, nie die lat op my hoef te gebruik nie. Sy humeur is bitter kort en my agterent hopeloos te gekneus...

 

Voor die rooibaksteen skoolgebou kry ek 'n vinnige soentjie van Salome voordat sy na die meisies se kant van die speelterrein toe stap. Ek gaan wag onder die groot ou peperboom vir Thysie en en Gert Voete, my beste maats. Vandag gaan my nuwe staal ghoen hulle wys hoe 'n mens albaster speel! Maar Thysie het eers my hulp nodig met sy Engelse huiswerk, dus sal die albasters maar vir pouse moet wag...

 

My trein daag op en ek is meteens weer terug in Australië en die hede. Maar heelpad stad toe verwonder ek my oor hoe 'n mens se paadjie tog kan kronkel. Daardie tyd in Alicedale was hierdie land net 'n bladsy in my skoolatlas en sou ek nooit op dees aarde kon droom ek sou eendag hier beland nie, nog minder sou ek destyds kon raai watter draaie en haltes, hoeveel lag en seer, glimdae en grou angsdae alles nog op my gewag het nie. Maar al die eina en die bitter dae, al die eng donga's en glooiheuwels, dubbeltjies en sandkolle op my paadjie was ewe noodsaaklik en verrykend; het my die mens gemaak wat ek vandag is.

 

Daardie kortbroekklong van vier-en-veertig jaar gelede bibber nog steeds saam met my in Melbourne se snerpkoue winteroggend... Goddank.

Skryf vir Boemerangboertjie

Kliek NOU Hier!