Ditjies en datjies en wie-weet-watjies
Ja, dit was ‘n lang stilte, weet ek! Maar Boertjie se baas is in Suid-Afrika
om voorraad vir die gallery aan te koop, met die gevolg dat hy die fort met mening moet hou. En dis verstommend hoe vinnig
‘n dag sy alie sien as ‘n mens besig is!
Dié keer se skribbelrasie gaan, soos die opskrif sê, oor ‘n bietjie van dit
en ‘n bietjie van dat, want dinge in Osland is die afgelope tyd so normaal dat daar nie veel is om mee te korswel nie.
Wel, nie veel groot goed nie...
Petrol en piesangs
Kyk, hier by ons is die rentekoerse mos so ‘n maand of wat gelede met ‘n
snippertjie opgestoot. Dit op sigself is nie juis nuus nie, maar wat my eers verstom en toe aan’t lag gehad het, was
toe John Howard ewe ernstig daarop wys dat die rede vir die rentekoersverhoging te doene het met die styging in die prys van
ru-olie (en dus die petrolprys) én die prys van piesangs! Wat ‘n Ossie maat van my laat wonder het of ons nou in ‘n
piesangrepubliek bly – tot ek hom daaraan herinner het dat Osland nie eens ‘n republiek is nie... Sien, daar was
‘n paar maande gelede ‘n hengse storm in Queensland en dele van Nieu-Suid Wallis, met die gevolg dat die piesangoes
in sy maai gewaai is. Selfs nou nog kos piesangs oor die $12 per kg! En ‘n jaar gelede kon jy piesangs vir minder as
$2 per kg koop! (Maar piesangs mag ons nie invoer nie, want dit gaan die piesangboere benadeel, en wie weet watse nare goggas
daar nie dalk saam met die piesangs die land kan inkom nie.) So daar is waarheid agter die skynbaar waansinnige uitlating
van die heer Howard, skat ek.
Irwin en Brock
Dié maand het die skielike afsterwe van twee Ossie ikone gesien. Almal weet van Steve
Irwin, maar min mense buite Osland sal al van Peter Brock gehoor het. Hy was ‘n renjaer van formaat hierso en seker
dié grootste naam in die V8 Supercars-reeks. Dit is jammer dat die twee nie meer met ons is nie, en iemand wat nie heeltemal
so verdiep in die hele mitos van Ossie ikone is nie, sal seker nie mooi verstaan hoekom daar so ‘n geweldige ophef oor
hul afsterwe gemaak word nie. Glo my maar, hulle verteenwoordig die toppunt van Ossie-wees vir die gemiddelde Oslander. Ek
moet bieg dat die heer Irwin my totaal koud gelaat het; ek kon die man se oordrewenheid en luidhuid nie juis verdra nie, maar
voel darem nog steeds vir sy gesin en familie. Brockie was baie meer beskeie; ‘n man wat sy ding baie goed, maar stilweg
gedoen het.
‘n Toets vir immigrante
En daar kom dit toe, die eerste sarsie in die oorlog teen volksvreemdes. Die Liberale
Party voel dat dit tyd is dat alle voornemende nuwe Oslandburgers ‘n toets moet aflê om te bewys dat hulle Engels magtig
is en dat hulle “Australian values” onderskryf. Met die eerste kan ek nie stry nie, dit maak tog net sin.
Maar as dit by die Ossie-waardesisteem kom, begin my ou dwarskop mos wonder... Sien, dit gaan oor wat eintlik in enige ordentlike
(veral Westerse) land geld. Dinge soos respek vir jou medemens, dat elke mens geregtig is op gelyke geleenthede, ens. ens.
Weer eens kan ek nie stry nie; dit is tog immers waardes wat eintlik vanselfsprekend is.
Die tydsberekening, egter, het menige mens deesdae aan die wonder of die hele toetsstorie
nie eintlik net ‘n manier is om immigrante vanuit Islamietiese lande aan ‘n kort riem te hou nie. Duidelik is
dit die reaksie van baie Moslems in die land, of hulle nou reg is of nie.
Maar wat my eintlik so half grimmig laat lag, is die feit dat van die grootste sondebokke
as dit by die miskenning van Ossie-waardes kom, juis Ossies is wat hier gebore is. Ek meen, enige moordenaar, bedriëer, inbreker
of dronkryer maak hom mos skuldig aan dit wat die regering wil verhoed. Maar jy kan mos nie ‘n burger wie se grootouers
al Ossies was sy burgerskap ontneem nie, of hoe? Boonop sê die nuwe voorstelle dat selfs mense wat al twintig of dertig jaar
in die land is, maar nie gebore Oslandburgers is nie, die toets dalk sal moet aflê (dis nou as hulle tussen 18 en 60 jaar
oud is). En wat as hulle dop? Nee, sê die ouens, dit sal nie ‘n verskil aan hul visumstatus maak nie. Nou waarom dan
die toets? Julle kan maar self daai kloutjie by die oor probeer bring. En ek skat enige Al-Queda terroris wat sy sout werd
is, sal die toets slaag en onderneem om Ossie-waardes te onderskryf... wat die bek sê en wat die hand doen, hoef nie noodwendig
dieselfde te wees nie.
Oorgewig kinders
Iets wat my sommer met die intrapslag hier opgeval het, is hoeveel jong mense hier
hopeloos oorgewig is. Stap ek in die stad rond, verlang my ou oë sommer vir ‘n vale na die Kaap se mooi meisies! (Ja,
ek weet Durban se doedies is ook mooi, maar ek kom van die Kaap, en nie van Durban af nie, sien.) En nou is dit amptelik:
Osland het die hoogste voorkoms van obesiteit onder kinders; het nou selfs die VSA en Brittanje verbygesteek. Daar word geraam
dat een uit elke vier jong mense hier oorgewig of selfs obees is. En die huidige geslag kinders, reken die navorsers, is die
eerste in Osland se geskiedenis wat heel moontlik voor hul ouers gaan sterf as gevolg van die skadelike gevolge van oorgewig
wees. Maar Krispy Kreme se eerste winkel wat hier oopgemaak het, is totaal oorstroom en die ouers koop nog steeds X-bokse
en Playstations dat die kasregisters hyg! Red nou ‘n nasie..!
Groetnis!