Die raarste onder rares
Die sokker wêreldbeker het nou die hele Osland in rep en roer. Reken hulle gaan sommer die ou koppietjie
wen, sien, want hulle is mos aljimmers die beste in alles. Dat Japan nie 'n spannetjie sonder vernuf is nie, dat Brasilië
'n reus in die sokkerwêreld is en dat Kroasië al menige beroemde sokkerland op sy peetjie gegee het, maak nie juis verskil
nie – en dis net die spanne in hul poel... Ag, die dagdrome van 'n jingo, darem!
Maar waaroor ek dit eintlik dié keer het, is die Groot Australiese Sport, die Nasionale Afgod, die Groot
Gespreksonderwerp (naas utes en V8's en bier en sheilas en hoeveel t-hempies met afgeskeurde moue jy besit): Australiese Reëls
Voetbal, oftewel AFL oftewel "Footy".
Mens, jy moet verstaan dis die raarste onder rare sportsoorte, dié. Verbeel jou jy het 16 spelers, 'n
skeidsregter (wat 'n goeie asem moet hê, want hy moet sy fluitjie omtrent elke twee sekondes blaas), twee outjies wat op die
veld hardloop om instruksies van die breier aan die spelers oor te dra (sommer so in die speel), 'n bonsai-rugbyballetjie,
'n moerse klomp aggressie en reëls wat Einstein se relatiwiteitsteorie na Sus en Daan se eerste boekie vir die spesiale klas
laat lyk. Voeg daarby die spelery self: jy kan die balletjie in enige rigting aangee of skop of met die vuis in die rigting
van jou spanmaat (of waar jy hoop hy is) slaan. Jy kan aanslaan en op die gras rondkruip om die bal te probeer bemeester,
nes sub.A'tjies wat vir die eerste keer met rugby te doene kry, en – les bes – jy kan omtrent enigiets aan jou
opponent doen om òf die bal van hom af te vat òf om te verhoed dat hy die bal vang. Ja, slaan jy nou die bees se strot toe
met jou elmboog, of skop jy sy brekfis volgende week in, gaan jy na die wedstryd voor 'n "tribunaal" moet verskyn waar jy
dalk vir 'n wedstryd of wat geskors gaan word, of waar die ouens na 'n paar uur se video-terugspeel kyk besluit jy het nie
aspris bedoel om sy rugstring by sy naeltjie uit te trek nie, en hulle laat jou toe om volgende week 'n ander ou te oorreed
om heel per abuis in jou gebalde vuis vas te hardloop, en dan is dit weer tribunaal ens. ens. ens.
Dan is daar die doelpale. Twee langes en twee kortes weerskante van die langes. Skop of slaan of gooi
jy die balletjie tussen die twee langes deur, kry jou span ses punte. Mis jy dié teiken, maar slaag jy daarin om die balletjie
tussen 'n lang en 'n kort paal deur te kry, verdien jy 'n misrabele enkel punt vir jou span. En daar by die pale staan 'n
lat in 'n wit oorjas, kompleet soos jou Wetenskap onnie s'n, met so 'n verspotte wit breërandhoed op, en hy beduie nou vir
almal presies wat gebeur het. Behaal jy 'n doel, dan wys hy vir jou hoe groot die vis was wat hy laasweek uit sy buurman se
visdam gesteel het, so met sy twee wysvingers en sy elmboë gebuig, asof hy wil water aanwys. Behaal jy net 'n enkele punt,
dan ruk hy 'n vlaggie uit 'n spesiale houertjie aan een van die pale uit en waai dié vir jou om te beduie jy's 'n dofkop wat
nie jou eie garagedeur kan raakskop nie.
Op die veld self stoei en skop en dinges die latte voort. Vang jy die bal uit die lug uit (soos 'n skoonvang
of mak in rugby, dan blaas die skeidsregter bedinges fluitjie om vir die ander te laat verstaan hulle mag jou nou nie meer
skop of slaan of aan die gorrel rondruk nie en jy kan dan maar die ou balletjie veld-af skop in die hoop dat 'n spanmaat dit
regkry om die bal te vang voordat 'n teenstander hom in die lug duik dat sy tande op gister se vlakte val, of probeer om sy
kop van agter af in sy hoesenaam in te druk sodat hy kan sien wat hy gister by die baarbie (oftewel Ossie braai) geëet en
gedrink het.
Om te verhoed dat die manne mekaar se arms breek deur aan hul moue te pluk, speel die latte met frokkies
aan en sulke eina-kortbroekies, kompleet soos Sannie in die Sewentigs se hotpants. En hulle plak hul spiere aanmekaar met
masking tape of daai taai bruin plakpapier wat die mense gebruik om dose mee toe te plak, alles sodat hulle nie seerkry nie,
sien. Maar dis puur verniet, want ná elke wedstryd trek die krukkelys om die blok soos die manne kniëe geknak het, koppe gestamp
het, enkels verstuit het, ander man se tande in die kopvel opgedoen het of enige van 'n menigte ander krankemente opgedoen
wat herinner aan ou Vuil Gert se paartie nadat die Hell's Angels hom vir Sarie Bakbeen aangesien het.
En die skare gaan bedinges. Hulle jil en gil en groet mekaar soos die Israeliete en die Filistyne en
waai hul serpe en die vrou aan die bra of die kind aan 'n been (solank vroulief of kindgoed die regte klere en kleure aanhet)
en drink bier en maak bojaanboude vir die kameras of die ander span se ondersteuners... mens, dis 'n fees soos laas toe Dikjan
Jooste se vetste, ek bedoel oudste, dogter na so tweehonderd vryers een lank genoeg kon ondersit om 'n troubelofte uit hom
te mergel en Dikjan die hele distrik bruiloffees toe genooi het.
En dan gaan hulle huis toe en kyk alles weer op die video om te sien wat op die veld gebeur het en watter
span met die meeste punte én oorlewende spelers van die veld af gestrompel het...
Hei, dis lekker in Osland!
Groetnis tot volgende keer.
Boemerangboertjie