Te Groen vir woorde?
Daar's
hopeloos te veel dinge op hierdie ou ondermaanse wat my tieties lam maak, moet ek sommer dadelik erken. Seker maar omdat ek
nou daardie ouderdom bereik het waar ek as 'n knorrige oukêrel kwalifiseer! Maar bo-aan die lys van dinge wat aan my moer
pluk, is die klomp Groenes.
Kyk,
matigheid is nou nie 'n vloekwoord nie, is dit? Ek meen, dis mos hoe 'n mens uit die lewe se aakligste gemorse bly, of hoe?
Maar vir sommige mense is die hele konsep van matigheid iets wat hulle so saam met hul gesonde verstand verloor het die dag
toe hulle Groen geword het.
Hier
in ons Ossie deelstaat Victoria kap die Groenes en hul meelopers se koppe net so lekker aan as elders. Laa'k verduidelik aan
die hand van 'n paar voorbeelde:
Almal
weet dat, naas die VSA, Australië een van die groot sondaars is as dit kom by die oormatige produksie van sogenaamde kweekhuis
gasse. Deels omdat die ouens nog steeds aan hul gulsige V6 en V8 tjorre vasklou soos 'n baba aan sy fopspeen, deels omdat
elektrisiteit hier nog op te 'n groot skaal van olie en steenkool opgewek word. Een van die oplossings vir die gesonder opwek
van elektrisiteit is om soveel moontlik van onder andere windturbines gebruik te maak; julle weet mos, daai helse groot waaiers
wat dag en nag draai. Daar is groot dele van die suidelike deel van die staat, naby die kus, waar die wind amper altyd waai.
Ideaal vir die sg. windplase. Maar nee, sê die Groenes en Kie., die goed is lelik en 'n gevaar vir die voëls. Ek het egter
self eendag, toe die westewind lekker sterk gestoot het, gestaan en kyk hoe 'n handjievol seemeeue ongedeerd deur so 'n windplaas
vlieg. Die skroeflemme draai eintlik baie stadig. Nie dat die werklikheid die Groenes enigsins steur nie! En, vra ek julle,
wat kan dan nou 'n groener kragbron wees?
John
Howard maak toe nou die Groen baba's histeries skrik toe hy voorstel dat die land weer ernstig na die opsie van kernkragsentrales
kyk. Mens, julle moes net die gebulk en geblêr en gekerm en getjank hoor! Dis dan só gevaarlik en só ongesond, basuin die
Groenes. Feit, egter, is dat daar in die hlele geskiedenis van kernkrag nog net twee groot skrikke was, waarvan net een (Chernobyl
– en ons weet hoe deeglik die Russe nié is nie!) werklik 'n ramp veroorsaak het. Die dosyne ander kernkragsentrales
wêreldwyd loop rustig en veilig, maar dít sal die ou klomp Groenes mos nooit erken nie! Nee, ons moet maar aanhou om uitputbare
en "vuil" bronne te gebruik, meen hulle. Logika? Nee, maat, daar's nie so-iets in hul woordeskat nie.
'n
Jaar of wat gelede besef die Staatsregering dat Port Phillip Baai besig is om te vlak te raak vir groot skepe. Die keuses
is eenvoudig: òf die baai word net so gelos en Melbourne se hawe kwyn mettertyd tot niks, òf die skeepskanaal moet dieper
gebagger word. Wat sê die Groenes toe? Nooit! Dink aan al die skade aan die seebodem, en die visse en krappe en wat nog meer!
Vergeet maar gerieflikerwyse van die duisende mense wie se lewens direk of indirek aan die hawe en sy aktiwiteite gekoppel
is. Vergeet gerus van die feit dat dit die grootste hawe in Victoria en eintlik die hele suidkus van die land is. Vergeet
van die feit dat die skeepskanaal nie veel meer as omtrent drie persent van die hele baai beslaan nie.
Hoe
werk die mense se koppe, vra jy? Nee, vriend, ek skat hulle werk glad nie!
Die
hele water storie is net so vreemd. Melbourne, net soos Kaapstad, is 'n winterreënval gebied. Melbourne se bevolking is tans
ongeveer 3,6 miljoen, en die metropool se opgaardamme het 'n kapasiteit van 1 773 000 Ml. Op die oomblik staan die damme se
gemiddelde vlak op 47,4%. Dit nou ten spyte van streng permanente waterbeperkings. Feit is dat daar net eenvoudig nie genoeg
opgaardamme is nie. Maar, onse premier Bracks en sy sakvol Arbeiders reken mos daar sal definitief geen meer damme gebou word
nie – dis nou om die omgewing te spaar, sien? Hierdie maatreël is so saam met die afskaf van plastiese inkopiesakke
afgekondig. Die Groenes jil krultoon van die plesier, maar ek vra jou, waar gaan die water uiteindelik vandaan kom? En die
Groter Melbourne gebied is een van die vinnig-groeiendstes in die land! Kaapstad, met sy 3,4 miljoen inwoners, sit met 63,3%
van sy 768 300 Ml opgaarkapasiteit. Maar die Kaapse Metropool het redelik onlangs nog die opvangstelsel vergroot met die hele
Rockview skema in die Palmietrivier. Mense het water nodig, en die water moet mos uit damme uit kom, nie waar nie? Wat wil
die Groenes hier hê, dat elke huisgesin eendag op 'n liter water per dag moet leef? En moenie eers daaraan dink om van waterherwinning
dmv rioolsuiwering te praat nie, want die Groenes sal 'n apopleksie kry! Laat die mense eerder van die dors vergaan as om
hulle aan hersuiwerde water bloot te stel!
Nee,
kyk, ek is lief vir die natuur en alles wat natuurlik is. Maar ons kan nie soos die Strandlopers lewe nie; daarvoor is dit
te laat. Lyk my egter die Groenes sal ons eerder weer in grotte wil sien as om hul gesonde verstand te gebruik.
En
dan praat ek nie eens van die hele kermerasie wat hier in Osland opklink sodra die woord "identiteitsdokument" genoem word
nie! Maar dis an ander storie, daai...
En
tog ry die ou spul Groenes almal met petrolslurpende Commodores en Falcons en vierbaais. Red nou 'n nasie!
Groetnis!