|
STADSJAPIE
Prentjies uit Australië

|
| Grampians Waterval |
Stadsjapie
Die Karoo se oneindigheid, die
Kaap se grou berge, wit strande, mere, die see in al sy stemmings, ek is versot op hulle almal, en in elkeen van dié plekke
het ek al ‘n diepe verwondering in hul skoonheid ervaar. Maar ek moet erken dat ek net so versot is op sommige stede.
Sit mos nou die oggend onder die afdak van ‘n koffiewinkeltjie in die
hart van Melbourne. Dis koud en ‘n skraal motreëntjie stuif neer, maar dis knus onder die afdak waar die gasverwarmers
brand en die koffie is lekker sterk en swart. En net daar ervaar ek weer een van daardie oomblikke wat ek vir die eerste keer
in Kaapstad ervaar het; ‘n oomblik van louter harmonie, ‘n oomblik waarin ek voel asof die hele skepping meteens
presies inmekaar pas. ‘n Soort epifanie. En ek dink onwillekeurig terug na die eerste keer dat ek so gevoel het. ‘n
Kristalskerp winteroggend. Ek sit in Marks se koffiewinkeltjie met ‘n Gauloise in die hand, sterk swart filterkoffie
wat Mavis vir my gebring het voor my. En daar ervaar ek toe daardie gevoel van verlustiging in die stad, in die duisende mense
wat om my beweeg, elk met sy of haar eie lewe wat saam die stad se lewe vorm. Dis bitter moeilik om die oomblik te beskrywe,
maar ek skat die grootste enkele aspek van hierdie gevoel is die sin van harmonie, so asof alles meteens net perfek is, asof
ek intens en meelewend déél is van wat om my is, asof al die stede waarvan ek oor die jare gelees het, stede soos Parys en
Londen en Praag, met al die romantiek aan hulle verbonde, ineengevleg is in die stad wat ek op die oomblik belewe.
Ander stede waar ek dieselfde ervaar het, is Lissabon, met sy ou geboue, sy
stegies en die polsslag van eeue se kuns en lééf, waar die wroegskone klanke van fado snags deur die Alfama buurt klink; Ponta
Delgada in die Asore, waar die nou keisteenstraatjies bitter min verander het in meer as vyfhonderd jaar, waar ‘n mens
aan mure kan raak wat gebou is lank voor Jan van Riebeeck onder ou Tafelberg geland het. Hierdie is stede wat ‘n misterie,
‘n romantiek het wat hulle van plekke soos Johannesburg onderskei. Kaapstad en Melbourne het dieselfde aura; in Melbourne,
wat soveel jonger is, moet ‘n mens net baie meer ontvanklik wees daarvoor. En dit, skat ek, is die groot geheim: ‘n
stad (nes enige ander plek) spreek net met jou as jy luister. In die stede wat my lieflingsplekke is, is dit net vir my soveel
makliker om te luister, om ingestel te wees op die gees van die stad. Bloemfontein, Brussels, Johannesburg – in hulle
kan ek nie hoor en voel wat en in Kaapstad of Lissabon kan voel nie. Shizuoka in Japan is heeltemal anders, want soos die
meeste Japanese stede is die plek ‘n rare mengsel van die banale lelikheid van die meeste geboue en die mistieke eenvoud
en skoonheid van die tradisionele ou huisies, alles onder ‘n allerverskriklikste lelike web van kragkabels. Maar daar
is hoekies van Japanese stede wat my ook aanspreek.
Ja-nee, ek is versot op stede met
siel!
Skryf vir Boemerangboertjie
|