BoemerangBoertjie

Begin | Askies | kopskote | Ape | Alkant | Moker | Trein | Immigrasie | Niekrieket | Kinkels | Kortbroek | Reen | Splinters | Stadsjapie | Sinneloos | Baanbokke | Ditjies | Groen | Joets | Onweerbaar | Footy | OZPOLITIEK | ANZAC | Luilekker | Tandloos

Joets en Frokkies

Prentjies uit Australië

raywesvictoria_platteland.jpg
Wes Victoria platteland

Van joets en frokkies 
 

Ja, en daar val die sokkerossies toe uit die Wêreldbeker bus uit te midde van 'n geskellery op die skeidsregter en soveel "asse' dis asof die hele land se bloekoms almal uitgebrand het. As die skeidsregter nie skeel was nie; as die bal net elke slag in die net geland het, ens. tot brakenstoe. Ag, nou ja, 'n mens moet onthou daar is ouens wat nie net slegte wenners nie, maar ook slegte verloorders is. Kyk maar hoe dreig die Bleeksieleties om die Algarve te boikot omdat Portugal die vermetelheid gehad het om hul sokkerspannetjie te klop! Nie dat die Portugese juis omgee nie; hulle is hoeka lankal sat vir die klomp vis-en-tjipsvreters wat hul strande kom toelê met hul bleek lywe sodat dit lyk asof dit gesneeu het! 

Maar dis 'n bysakie. Wil eintlik eerder gesels oor die sogenaamde "tipiese" Ossie. Kyk, dis maar eintlik 'n rare skepsel, daai. Nes daar nie juis iets soos 'n tipiese Saffie is nie, is dit maar moeilik om 'n prentjie te skets van wat nou 'n tipiese Ossie sou wees. Ter wille van die grap, egter, kan ek darem probeer om een van die stereotipes hierso te beskryf... 

Daar's 'n hengse groot gedeelte van die manlike varasie van die spesie homo australensis wat min of meer dieselfde eienskappe vertoon, en dis van hulle wat ek praat. 

Vat 'n kêrel van gemiddelde lengte, nou nie so na aan die aarde soos 'n Japanees nie, en ook nie so na aan die wolke soos 'n boerklong nie. Skeer omtrent al sy hare af soos hulle so graag met die skape maak, en moet hom nie toelaat om sy bakkies met 'n skeermes te skeer nie, maar gee hom eerder 'n haarsnymasjientjie met 'n nommer 2 kammetjie vir sy wangwolle. Die nommer 1 kammetjie is vir sy kop, sien. Dalk sal hy sy snor wil laat groei sodat dit lyk asof hy 'n gerf koringstrooi onder elke neusgat het. Dis in die haak so. 

Nou moet jy hom toelaat om by Dimos die Griek of Chen die Chinees of iemand dergeliks 'n stel tatoeërmerke te kry. Maak net seker hy kies nie 'n kunstige velskilder nie, want dan bederf dit die hele prentjie. Hy sal nie te veel wil hê nie, want dan begin hy dalk meer soos 'n hamburgerkouende Harleyryer lyk, en dit wil ons ook nie hê nie (alhoewel ons tipiese Ossie baie Amerikaanse gewoontes gaan optel, maar dit later). 

Klere. Koop vir hom t-hempies, maar moenie onsteld raak as hy die moue sommer so met die hand afskeur nie, want hierso glo die blouks mos moue is vir meisie-agtige mans. Hy sal dalk sy kortbroek kleiner verkies as wat 'n mens mag verwag, maar kan dalk ook net na die ander kant toe verras en verkies om, soos die Amerkaanse ghetto-stoepsitters, 'n broek te dra wat so om sy kuite flap en wat groot genoeg vir hom en 'n ses-pak maters lyk te wees. Dis goed so. Verder móét hy 'n bofbal keps hê, anders is hy identiteitsloos. Verkieslik een wat Holden of Ford of John Deere of een of ander obskure dinges adverteer. Vir skoene soek hy niks beters as daai stewels met die staalkappie om die tone te beskerm nie (net ingeval hy sy 30-pak bier laat val) en wat sulke rekkers langs die kante het sodat die man darem nou nie te veel druk op sy bierboep moet uitoefen as hy veters moet vasmaak nie. 

Nou vir die belangrikste van alles. Sien, die mannetjie wat ons nou het, het nog nie sy siel nie. Dít moet ons nou vir hom aanskaf by die naaste Holden of Ford handelaar. En dit moet verkieslik 'n joet wees; een met sulke blink rims en aanplaksels wat die wa laer en vinniger sal laat lyk. Verder moet dit om den dode net eenvoudig klink soos al die trompette van die apokalips wat tergelykertyd geblaas word as hy die sleutel draai. Sy manlikheid sal vir ewig in gebreke bly as die karding nie oorverdowend brom nie. Verstaan nou mooi, 'n joet is nie 'n bakkie nie. Dis 'n Holden Commodore of 'n Ford Falcon met 'n laaibak en 'n veerstelsel wat nooit as te nimmer naby 'n grondpad mag kom nie. Dis 'n stadsbakkie, met ander woorde. En die ding moet òf 'n akroniem soos VZS òf 'n blouknaam soos Storm of Tornado of Typhoon hê. Niks minder sal deug nie. 

Nou het ons amper ons stereotipe Ossie klaar. Voer hom Vegemite, die voos witbrood wat hulle hier maak, baie vis en tjips en vleispasteie, tenke vol bier (nou nie die klas soort wat in Tasmanië gebrou word nie, maar Victoria Bitter, wat soos Lion oftewel gegiste kangaroepiepie smaak), of daardie aaklige mengsels in blikkies – whisky en cola, bourbon en tamatiesous of vodka en pepsi, daai tiep van verkragting van alkohol, bedoel ek. Hy sal ook gedy op die wors wat hier gemaak word, wat so iewers tussen regte wors en weense worsies lyk en smaak, en natuurlik skaap of bees en baie hoendervleis. Moenie van die hamburgers vergeet nie; hierso is MacDonalds amper groter as in die Land van die Groot Hamburgergaswolk. KFC en Hungry Jacks en kie. is natuurlik ook ons blouk se gunsteling-plekke. 

Speel vir hom Country musiek, veral as hy in Nieu-Suid Wallis of Queensland gaan woon, waar jy sy keps met 'n Stetson sal moet vervang en jy sal moet sorg dat hy soos 'n wafferse jênk elke maand sy rodeo moet kan bywoon. 

Voorts moet jy sorg dat hy sommer dadelik histeries fanaties raak oor een van die foetie-klubs, dat hy darem die verskil tussen 'n krieketkolf en 'n knuppel kan sien, maar moet hom asseblief nie te veel verwar met ander sportsoorte soos hokkie of rolbal nie. Hou dinge eenvoudig, seblief! 

En, om ons stereotipe Ossie af te rond, maak seker dat hy nooit 'n atlas in die hande kry nie; al wat hy nodig het is 'n plaaslike padkaart, want die res van die wêreld bestaan net op die televisie of in Hollywood se verbeelding, sien? 

Gaaf, nou is ons mannetjie klaar en kan ons hom maar loslaat sodat hy in sy joet kan spring en die pad af kan donder (soos in donderweer, natuurlik!) om 'n sjeila te gaan soek wat van 'n lawaaierige kortalie met blink, dik wiele hou. 

Groetnis! 

Skryf vir Boemerangboertjie

Kliek NOU Hier!