Kinkels en Draaie
Eienaardig hoe ‘n mens se lewenspaadjie loop, is dit nie? Ons dink ons
weet waarheen ons op pad is, maar dan doem daar skielik ‘n kinkel in die pad op, of ons draai met die beste voornemens
af in ‘n ander paadjie, en meteens loop alles heel anders vorentoe.
Ek stap nou die dag na my motor in die plaaslike stasie se parkeerterrein, en
moes onder ‘n bloekom se hangtakke koes toe ek meteens een van daardie oomblikke beleef waarin ‘n mens plotseling
tot die besef kom dat jy al ‘n lang paadjie geloop het, en dat die paadjie eienaardige draaie gemaak het om jou te bring
waar jy is.
Een van die dae gaan ek my burgerskap-seremonie hê. Dan word ek ‘n “dinky-die”
Ossie -- amptelik. En die onder die bloekom deurkoes het my laat terugdink aan
‘n smeulende somersdag in Alicedale 44 jaar gelede. As iemand daardie dag vir die twaaljarige knapie met die knopkniëe
en bakore sou gesê het dat hy eendag in Australië sou nesskrop, sou hy oopbek vasgesteek het en net sy kop in verwondering
geskud het. Maar dit is presies wat met my gebeur het. En ek kan nie anders as om verstom te staan by die terugdink aan hoe
ek hier beland het nie.
Sien, ‘n skrale agt jaar gelede was ek so op spoor dat jy met my kon toor.
Elke dag die pad ingeslaan Stellenbosch toe van Somerset-Wes af, skoolgehou, sport afgerig, vrotsige opstelle deurgeworstel,
eksamnevraestelle opgestel en gemerk en eindelose vergaderings deurgesit. Ja, ek het vasgevang gevoel, maar kon nie sien dat
enigiets sou verander nie. Toe val my huwelik uitmekaar, verkas ek na die Asore om aan ‘n boek te werk wat op die ou
einde doodgebore is (nie my skuld nie, nie dié keer nie!). Na die wroeging en seer van die egskeiding was die eiland ‘n
sielelafenis. Die plek sal altyd my gees se tuiste bly. Maar weer het my paadjie ‘n skielike wending geneem wat my terug
in Suid-Afrika laat beland het; platsak en met min lig voor die die wapad...
Toe doem Japan op. Met die terugkyk besef ek dat die eintlik ‘n gejaag
na die wind was, maar ek sukkel maar om aan my hart voor te skryf! ‘n Klompie maande later sit ek weer in Suid-Afrika,
en op die randjie van haweloosheid. As die nie vir goeie vriende was nie, het ek dalk daar tot op die bodem van die put gesak.
Maar dit was, Goddank, nie beskore nie. ‘n Vriendin wat ek in ‘n internet groep gemaak het, het mettertyd meer
as ‘n vriendin geword, en die uiteinde van die storie was dat ek hier aangeland het.
Nou, amper vyf jaar later, het ek hier ingeburger geraak en voel dit asof dit
van die begin af my bestemming moes gewees het. Dalk was dit. Wie weet watter invloed die kleinste besluit, die geringste
stap of die woorde wat ‘n mens sê of nie sê nie voor in die pad sal hê?
Wat ek wel geleer het, is dat ‘n mens elke dag ten volle moet lééf, en
dat ons maar net altyd ons bes kan doen, want ons weet nie wat voor in die wapad wag nie...
Groetnis