BoemerangBoertjie

Begin | Askies | kopskote | Ape | Alkant | Moker | Trein | Immigrasie | Niekrieket | Kinkels | Kortbroek | Reen | Splinters | Stadsjapie | Sinneloos | Baanbokke | Ditjies | Groen | Joets | Onweerbaar | Footy | OZPOLITIEK | ANZAC | Luilekker | Tandloos

KOPSKOTE

Boertjie antwoord n paar vrae vanaf immigrante

Holden.jpg
Holden Commodore

Kopstuk Vrae

 

 

 

Sien, ek kry toe mos nou die dag ‘n e-pos, so uit die bloute uit, van iemand in Suid-Afrika wat, soos vele ander, aan die oorskuif hiernatoe is, maar wat nog baie vrae het. Cindy, hier is my antwoorde op julle vrae. Ek is skaam dat ek hulle nie direk beantwoord het nie, maar die oukêrel se lewe is maar dêm dol deesdae, veral met miesies baas wat in SA is om aankope vir die gallery te doen.

 

Wat is die gemiddelde salaris? Lees net die afgelope week dat die deursnee loon deesdae op net oor die $55 000 per jaar te staan gekom het. Dit is nou die sg. gemiddelde loon/salaris. Onnies verdien min of meer soveel. Handlangers in die boubedryf ook, min of meer (dit gaan jul eerste skok wees: arbeiders hier is almal wit en BAIE van hulle sal nooit weer dertig kersies op ‘n koek sien nie). Ek weet nie so mooi hoeveel ‘n gesin van vier nodig gaan kry nie, maar ek skat dit gaan meer as $50 000 per jaar verg. Natuurlik verdien rekenmeesters en direkteure groot geld, soos maar oral die geval is. ‘n Taamlik konserwatiewe skat sou wees dat julle so om en by $70 000 gesamentlik sal moet verdien, maar ‘n mens KAN op minder leef.

 

Mense hier koop hul kruideniersware weekliks. Ek en vroutjie spandeer so om en by $250 per week aan kruideniersware vir ons twee, en dan is daar nie biefstukke in die trollie nie (terloops, die winkeltrollies hier gaan julle mal maak; die goed se agterwiele stuur ook, met die gevolg dat dit makliker is om ‘n dronk olifant te beheer as ‘n vol trollie – wees gewaarsku!). Brood kos enigiets tussen $2 en $5 elk, en melk is om en by $2 per liter. Vleis is enigiets van $9 tot $25 per kilogram, afhangende van wat jou mond laat water. En die wors is aaklig; die goed het die tekstuur van weense worsies en smaak soos saagsels, maar gelukkig is boerewors of Engelse bees- en varkworsies vrylik bekombaar. Reken op so $400 per week vir ‘n gesin van vier, sou ek skat.

 

Huis- en karpryse: huise in die gemiddelde buurte is in die omgewing van $300 000 vir  drie slaapkamers. Daar is goedkoper, maar dan loop jy die gevaar dat jy tussen die ouens in die staatshuise land, en hulle is nie te huistrots nie... meer gaan ek nie sê nie. In die gegoede buurte begin pryse by $500 000 en gaan wel oor die miljoen kerf. En wees gewaarsku – ‘n 1 000 m² erf hier is ongehoord; ons huis staan op 650 m² en die agent was verstom oor die groot erf! Huise sit ook opmekaar soos bosluise op ‘n veldbees.

 

Wat julle vir ‘n motor gaan betaal? Daar is baie nuwe motors onder $20 000 (dis nou sonder al die fooie wat bygelas word), maar dan is hulle klein motors soos die Honda Jazz. ‘n Groter motor met vier silinders sal meer as  $20 000 kos, en as julle dan nou opsluit ‘n KSK (Kommon Soos K*k) wil aanskaf, gaan Holden jul sakke vir meer as $30 000 skud vir die twyfelagtige voorreg om ‘n Commodore te besit. Tweedehandse motors is goed en goedkoop. Petrol kos op die oomblik so om en by $1.40 per liter, maar die pryse wissel daagliks en ook van een vulstasie na die ander.

 

Suid-Afrikaners is in die algemeen baie welkom hier; meer as baie ander nasies, soms! Baie Aussies vind ons aksent aantreklik, ander kan omtrent nie verstaan wat ons sê nie...

 

Wat moet julle saambring? Goed wat hier nie te krye is nie, soos potjies. Stowe en yskaste is nie te duur hier nie, maar ordentlike, stewige meubels is, dink dus mooi voor julle inpak. Die kragproppe hier is heel anders, maar ‘n mens kan kragproppe hier vervang. En daardie erfstukke... bring hulle, want hulle is onvervangbaar. Betaal liewers nou meer as wat julle later dinges en trane huil oor iets wat vir altyd verlore is.

 

En, nee, hier is NIE bediendes nie... MOERSE skok vir baie Suid-Afrikaners!

 

Hoop dit help so ‘n bietjie!

Kliek NOU Hier!