Issie Krieketie
Kyk, as daar een ding is waarvoor ek g’n stuk se ooghare het nie, is
dit huigelary. Maar deesdae kan ek dié mislike toestand van sake blykbaar net nie ontsnap nie...
Sien, die Blommetjies kom toe mos hier in Osland krieket speel; wel, dit
was die idee, nie dat daar veel van die krieket gekom het nie, maar dis nou ‘n ander treurmare, daai! Maar toe gebeur
daar mos toe iets wat, as dit nie so walglik was nie, nogal skreeusnaaks – op ‘n bitter ironiese manier –
kon gewees het. Ek praat nou van die hele rassisme storie.
Een ding moet julle egter eers verstaan, en dit is dat Aussies net mooi niks
van verloor hou nie. Heel menslik, ja, en veral as ‘n mens so gewend geraak het aan wen soos die Krieketburras, maar
hierso maak die ouens mos sommer vóór die verloor al verskonings, of dit nou op die uiteinde nodig was of nie. Dus was al
die gebrom en gekerm vanuit die Aussie krieketkamp vooraf niks nuuts nie. Wat wel nuut was, was die gedrag van die skares
hier, en dit was siek nuuts.
Na wat ek kon naslaan, het dit nog nooit en nêrens vantevore gebeur dat die
Blommetjies aan die ontvangkant van rassistiese opmerkings en beledigings was nie. Hier kom hoor hulle toe van die plaaslike
skares dat dié wat nou nie heeltemal leliewit is nie, “ka**ers” is, en dat hul spanmaats van die bleker variasie
“ka**erboeties” is. Nou, dis nie twee woorde wat gewoonlik in die alledaagse Aussie se krom Engelse woordeskat
voorkom nie, wat ‘n mens laat wonder waar presies hulle die twee skelwoorde geleer het. Of die skuldiges oud-Saffies
en getroue volgelinge van Oom Eugene Val-van-die-Perd af is, weet ek nie. Maar feit bly, daai twee seermaakwoorde is nie Ozzie
nie.
Nou ja, waar die beledigings ook al vandaan gekom het, het hulle my nie juis
verbaas nie. Mislik laat voel, ja, maar nie verbaas nie, want hier in Australië steek ‘n lelike ding al ‘n hele
ruk lank kop uit. Dit het seker in die dae van die kettingslepers al begin, dié onverdraagsaamheid jeens die donkerderes.
Ook nie juis verbasend nie, want die kettinslepers was nie juis uit die adel nie, en ons weet almal die ouens aan die verkeerde
kant van die spoor is die eerstes wat, by wyse van spreke, klip gooi. As ‘n mens dan nou meer onlangs kyk, val die gemors
in Cronulla op. Dis nou waar ‘n helse rasserumoer uitgebreek het omdat die Anglo-Kelte keelvol geraak het oor die mense
van Midde-Oosterse herkoms wat “hulle” strand dan kwansuis “oorgeneem” het. En vóór Cronulla was daar
die rasse-botsings in Redfern, ook in Sydney.
Stap hier in die matige, verdraagsame Victoria rond, en jy hoor ook uitdrukkings
soos “spot the Aussie” – dis nou as jy om jou rondkyk en net Asiate sien. Die mense probeer dit afmaak as
‘n grappery, maar daar sit ‘n donker ding onder dié grappery. Soos die plaaslike SBS televisiekanaal, wat alle
kultuurgroepe bedien en die enigste kanaal is wat Europese en Asiatiese films wys, wat kastig grappenderwys “The Wog Channel” genoem word. Toe ek die ouens daarop wys dat die woord “Wog”
uiters neerhalend en selfs haatspraak is, krabbel hulle terug en het te vertelle dis maar net ‘n grappie. My voet!
‘n Vriendin in Perth het al ‘n paar keer bleek om die kieuwe
by die huis gekom nadat sy moes aanskou hoe òf neo-Nazis òf aggressiewe Aborigene op die trein tekere gegaan het. En hier
in Melbourne het ek al self gesien hoe moerig verbygangers saans by die sopkombuise raak oor die nie-so-wittes-nie in die
tou die sypaadjie te vol staan.
Nie alle Aussies is rassiste nie, natuurlik nie, maar daar loop ‘n
dik streep rassisme deur hierdie samelewing. En dit bring my by die huigelary, want dis dieselfde mense wat so groot keel
opgesit het oor hoe wreed en rassisties wit Suid-Afrikaners dan sou wees. Met die groot pierewaaier Hawke wat voorgeskree
het, het hulle uit volle bors sanksies en boikotte verkondig. En dit met hul eie houding teenoor almal wat nie Anglo-Kelties
is nie?! Nee, sies, man!
Maar wat kan jy dan nou verwag van ‘n volkie wat nie eens ‘n
leer kan klim nie? Meer volgende keer oor dié storie!
Groetnis
Boemerangboertjie
NS Sommer ‘n lekker vet dankie aan almal wat op my ou skrywetjies reageer
het, beide die pryssangers as die “ek vat nou my bal en loop” ouens!