BoemerangBoertjie

Begin | Askies | kopskote | Ape | Alkant | Moker | Trein | Immigrasie | Niekrieket | Kinkels | Kortbroek | Reen | Splinters | Stadsjapie | Sinneloos | Baanbokke | Ditjies | Groen | Joets | Onweerbaar | Footy | OZPOLITIEK | ANZAC | Luilekker | Tandloos

Luilekkerland

Prentjies uit Australië

melbourne001.jpg
MELBOURNE

 

Kyk, ek is nie volslae gekant teen 'n welsynstaat nie, want die armes en gestremdes verdien beskerming, en 'n mens behoort darem iets van jou jare se belasting terug te kry. Die groot probleem is egter dat die stelsel altyd misbruik sal word. En, glo my vry, hier in Osland is daar genoeg slimkoppe wat weet hoe om die belastingbetaler se sak te skud.

 

Lees juis net dié week in 'n koerant hier dat daar op die oomblik nagenoeg 'n kwartmiljoen Ossie mans tussen die ouderdomme van 25 en 44 is wat glad nie eens meer werk soek nie. In dieselfde ouderdomsgroep was daar in 1978 slegs 4% mans wat nie 'n vinger verroer het om werk te kry nie; op die oomblik is dit 9%. Omtrent die helfde van die ouens leef glo op ongeskiktheidspensioene (wat meer betaal as die gewone werkloosheidstoelaag, wat beteken jy hoef nie werk te soek nie en dis baie moeiliker om van dié rol geskrap te word). Goed, daar is 'n horde gestremdes in Australië (698 000 mans en vrouens in 2004), maar as 'n mens sien dat 'n beduidende aantal van die mans wat nou gestremdheidspensioene ontvang aan geestessiektes ly wat verhoed dat hulle kan werk, begin 'n mens wonder. Ek ken self 'n kêrel wat nie 'n uur se werk in die laaste 15 jaar gedoen het nie, en hy spog daarmee! Sien, hy word glo aggressief as hy tussen te veel mense land... en hy kry boonop nog 'n toelaag vir 'n skryfkursus, wat gewoonlik in 'n jaar voltooi word, maar waaraan hy  nou al SES jaar lank studeer!

 

Die aktualiteitsprogram Today Tonight snuffel gereeld sulke ouens uit. Soos die lat wat die afgelope tien jaar nog nooit 'n joppie kon losslaan nie, maar spekvet en gesond is en wat sy dae voor die kassie deurbring; hy huur glo tot ses DVDs per dag en eet omtrent net McDonalds se morskos. Dan was daar die vroumens wat glo nie kan loop nie. Sy was kwansuis in 'n ongeluk by die werk betrokke en het derduisende in vergoeding van haar werkgewer ontvang, kry al die voordele waarop getsremdes geregtig is, ens., want sy is "in 'n rolstoel gekluister", maar sy's ongelukkig deur die televisiespan betrap waar sy van die voordeur na haar motor toe hardloop!

 

Die Federale regering probeer nou die skuiwergat 'n bietjie kleiner te maak deur daarop aan te dring dat dié wat kan, ten minste 'n deeltydse werk moet kry voordat hulle hul toelaes kan ontvang. Maar die luigatte wat slim is, sal nog steeds deur die skuiwergat kom, kan julle maar glo!

 

Een van die grootste leemtes in die hele werkloosheidstoelae (dole) stelsel is dat Centrelink (die federale departement belas met pensioene, toelaes ens.) nie almal gereeld kan inspekteer nie. Van ontvangers van die dole word verwag dat hulle gereeld moet bewys lewer van aansoeke vir werk en dat hulle vir onderhoude gegaan het. 'n Perdjie in NSW het op TV vertel hoe hy elke veertien dae een van drie fakse stuur, m.a.w. Centrelink kry elke ses weke dieselfde faks met dieselfde besonderhede, en tog het hulle nie snuf in die neus gekry nie!

 

'n Mens kan heel gemaklik van die dole leef, en 'n ongeskiktheidstoelaag bring ook ander voordele soos afslag op openbare vervoer, op toegangskaartjies na omtrent alles en ook op sekere medisyne. En solank die stelsel dit moontlik maak vir mense om jaar na jaar sonder werk te sit, gaan dit uitgebuit word. Die mense wat regtig hierdie toelaes verdien, is die verloorders, want die welsynkoek moet nou onder soveel meer verdeel word.

 

Interessant genoeg het die persentasie mans in hul laat vyftigs tot middel sestigs wat nog steeds werk die hoogste vlak in 'n geslag bereik, en vroue werk deesdae tot diep in hul sestigs... dalk om die leeglêers te subsidiëer?

 

Groetnis.

Boemerangboertjie

Skryf vir Boemerangboertjie

Enter content here

Enter content here

Enter content here

Teken in op Kammanuus


    3046 Lesers al reeds!
    GetResponse E-pos Bemarking

    Kliek NOU Hier!