BoemerangBoertjie

Begin | Askies | kopskote | Ape | Alkant | Moker | Trein | Immigrasie | Niekrieket | Kinkels | Kortbroek | Reen | Splinters | Stadsjapie | Sinneloos | Baanbokke | Ditjies | Groen | Joets | Onweerbaar | Footy | OZPOLITIEK | ANZAC | Luilekker | Tandloos

MOKERASIE

Die Groot Mokerasie

 

 

Sien ek mos in die nuus dat twee Ozzie krieketondersteuners elk $20 000 (net oor die R90 000) elk aan weddenskappe gaan staan en verloor het, en dit net omdat hulle gereken het die Krieketburras kan g’n stuk onmoontlik nie verloor nadat hulle 434 lopies in 50 boulbeurte gemoker het nie. Ga! Wys jou net, die eiers kan jy nie verkoop voor jy nie die henne het nie. ‘n Derde Brucie het minder verloor; net $16 000. Nog steeds ‘n kar se prys, ou maat.

 

‘n Pêl van my in Alberton het die vet pret gemis omdat hy ophou kyk het – hy’t ook gereken daardie teiken gaan onse Blommetjies nooit as te nimmer haal nie. En dit bewys maar net dat jy nie jou hen moet nekomdraai voordat sy die windeiers gelê het nie!

 

Hier onder kon min van ons egter die mokerfees sien, want die wedstryd is net op Fox se kanale uitgesaai, en dié betaal-TV  kos maandeliks die ekwivalent van 20 brode. My dogter in Somerset-Wes SMS my glad om te vra of ek kyk, en was verbaas om te hoor ek kon nie. Maar so gaan dit nou eenmaal met die loerkassie hierso: jy sien maar net wat die gratis kanale besluit jy sal sien (dis nou so tussen die swetterjoel flou of swak advertensies deur – die ouens hier weet ook nie juis van ‘n TV advertensie maak nie, in elk geval niks wat naby SA se treffer-advertensies kom nie). Nou wag ek maar dat die VKR daardie beloofde DVD met hoogtepunte op die mark bring. Maar die lekkerkry om die Oslanders se oop bekke te sien, is prysloos! Net toe hulle reken hulle het klaar gewen en sommer nog ‘n rekord agter hul naam geskryf, toe waai die rekord én die wedstryd én die eendagreeks! ‘n Ekstra steek in die g*tkramp vir die Ozzies is natuurlik klein Lewissie se ander rekord – hy’t mos 113 lopies in 10 beurte afgestaan!

 

Maar wat my die lekkerste laat kry het, is die feit dat hierdie oorwinning so kort op Shane Warne se bitterbekkerasie gekom het. Kyk, dié pokkel met die aangeplante hare en die oorywerige SMS-vingers torring mos nou al lank waar ‘n mens nie moet torring nie. En al sy venyn, skyn dit my, spruit uit Graeme Smith se waarneming dat Shaney ‘n wilwees kaptein van die Krieketburras is. Lyk my daai stekie was hopeloos te na aan die senuwee vir Warne se gemak, want daarna het hy alteveel bek oor hoe Smith dan ‘n idioot sou wees ens. ens. ens. Maar ek skat hy weet baie goed hoe ‘n idioot lyk; sien seker elke oggend een in die spieël! Dis die einste dikbussie wat wyd en syd loop te verkondig sy vrou het hom teruggevat. Dis nou Simone, vir wie hy op elke toer verneuk het, soos hy self erken. Maar sy het daardie terugvat-storie nek omgedraai, en dit op nasionale TV hier. Kyk maar weer in die spieël, Warnie...

 

Wat in die toetsreeks gaan gebeur, sal ons maar moet sien. Ek wag nog net vir die dag dat Graeme Smith die klein grootbek vir ses agtereenvolgende sesse mo.. umm.. moker én dat ek dit op die kassie kan sien. Dan sal ek sommer lank lekker slaap!

 

 

Groetnis

 

Boemerangboertjie

Skryf vir Boemerangboertjie

Enter content here

Enter content here

Enter content here

Teken in op Kammanuus


    3046 Lesers al reeds!
    GetResponse E-pos Bemarking

    Kliek NOU Hier!