|
POLITIEKERASIE
Prentjies uit Australië

|
| Mackenzie Valle |
Politiek jou hier, politiek jou daar…
Julle wat so lekker daar in Suid-Afrika sit en moerpluk of julle verkneukel in die Ou Land se politieke
manewales en die politici se sirkusvertonings moenie nou kom staan en dink julle het kopiéreg op dié soort narrery nie; hier
in Osland gaan dit net so lekker!
Sien, ons twee groot partye (dis nou groot in getalle) is die regerende Liberale Party en die amptelike
opposisie Arbeidersparty. Ja, daar's kleiner partye, hoofsaaklik die regering se koalisievennoot, die Nasionale Party, en
dan die lotjie Groenes en 'n Demokratiese Party wat so 'n tikkie meer komies is as hul Amerikaanse naamgenoot. Nog 'n paar
nog kleiner partytjies, maar hulle tel nou nie juis nie. In Canberra is die Liberale/Nasionale koalisie baas, beide in die
parlement en die senaat. Die deelstate, egter, het feitlik deur die bank Arbeidersregerings, wat al klaar 'n lekker resep
vir moleste is...!
John Howard, die land se eerste minister, is 'n knoetsige kêreltjie wat, soos menige kort mannetjies,
hom nie laat rondstoot nie en baie goed sy man staan. Hy sê sy sê en staan daarby, en daarvoor moet 'n mens hom respekteer.
As daar wel iemand agter die gordyn staan en in sy oor fluister, is dit dalk net die sakewêreld, maar 'n mens kom dit nie
sommer agter nie. Kim Beazley, die leier van die Arbeiders, darenteen, staan – soos alle Arbeiderleiers – stoer
vir die vakbonde en die werkersklas (al kom baie van die party se steun van welgestelde, maar effens meer linkse middelklas
mense). As die AWU (Australiese Werkersunie) hik, hop Beazley. Nie dat hy soos 'n werker lyk nie, hoor; die man leef baie
goed, so op sy gesonde voorkoms af. (Ek het, anders as Shakespeare se Julius
Caesar, my bedenkinge oor oorgewig politici; weet nie aldag of ek 'n politikus met meer as een ken en 'n beursie so dik soos
sy nek kan vertrou om my maergat en plat beursie te verteenwoordig nie!)
Die verskille trek verder: die Arbeiders se groot bondgenote is natuurlik hul sielevoorvader, die Britse
Arbeidersparty, en die Amerikaanse Demokrate, terwyl Howard en die Amerikaanse Republikeine in dieselfde span toutrek. Die
ooreenkoms met die Britse Konserwatiese Party is nie ooglopend nie. Waar die Arbeiders, egter, groot hoera's saam met die
Demokrate in Coke-land (neem dit op soos jy wil) skree, en heeltemal teen Australiese deelname in Irak gekant is, is die Liberale
op die oog af meer pragmaties. Hulle steun Amerika, ja, maar 'n mens kry die indruk dat dit op eie terme is. Dit maak die
groot Arbeider aanklag teen Howard se regering dat hulle té diep kop in een mus met Amerika is natuurlik snaaks-ironies, want
die Arbeiders tree baie meer soos klein Amerikaners op en val dinges-oor-kop in die Demokrate-tou in. (Oor die hele kwessie
van Australië as die 51ste staat van die VSA sal ek later gorrel.)
Hier in Victoria hou ons later vanjaar verkiesing. Dis nou vir die Staatsparlement, nie federaal nie.
Die plaaslike premier, die Arbeiders se Steve Bracks, is berug vir sy groot stofwals oor 'n pad. Planne vir 'n snelweg wat
die suid-oostelike groeipunt met die metropool moet verbind, is al lankal gemaak en aanvaar, en voor die vorige verkiesing
het die heer Bracks (wat terloops soos Tom Hanks vermom as 'n gebruikte-tjor verkoopsman lyk) het hand, mond, hart en tand
belowe dat die nuwe pad 'n snelweg ("freeway") sal wees. Die Federale regering het in die omgewing van A$500 miljoen vir die
projek belowe en opsy gesit. Maar, die laaste stembrief was skaars getel, of Mister Bracks laat weet dat dit in der waarheid
'n tolpad gaan wees. Almal hoog de dinges die harnas in. Almal skryf briewe aan die pers en plak bufferplakkers vir die vale,
maar mister Bracks weier soos die spreekwoordelike esel om kop te gee. Die Federale regering sê toe, baie stadig en duidelik,
dat die geld wat opsygesit is, slegs uit Canberra se beursie gaan kom as die pad nie 'n tolpad is nie. Bracks blaas en sis,
maar albei se voete is ferm op moeder aarde geplant, weerskante van 'n amperse Maginot-lyn. Met die jongste begroting uit
Canberra kom die bevestiging toe ook: daai 500 miljoen gaan na ander deelstate vir hul paaie. Jammer, Bracksie, maar jy't
vir die kiesers 'n rat voor die oë gedraai, so jy sal maar self moet sien kom klaar. Julle moes Bracks se gehoes en geproes
en gebrom en gekottiljons hoor en sien om dit te kan glo, kompleet asof hy nie geweet het dit gaan gebeur nie!
Almal bespiegel oor wanneer Howard gaan aftree, maar hy hou sy kaarte in sy sak. Beazley het die rampspoedige
Mark Latham so 'n kort rukkie gelede vervang, en daar is al klaar weer 'n geprewel en gemoer-moer in Arbeidersgeledere dat
iemand anders dalk dié donkiekar se leisels behoort te vat (klink dit dalk soos die Groot Trek se dwarstrekkery?). Maar omie
Kim reken hy gaan met die volgende verkiesing steeds die baas Arbeider wees, en hy reken sommer ook hy gaan wen. Mmm ek verbeel
my amper ek het nou die dag nog dieselfde grootpratery van Latham gehoor, en waar's hy nou? In die wildernis, vrinne, annerkant
die outback...
Sal julle op 'n ander geleentheid bietjie vermaak met die plaaslike politiekery hier in my stadsraad.
Dis nou 'n ander storie, daa!
Groetnis
Boemerangboertjie
Skryf vir Boemerangboertjie
|