BoemerangBoertjie

Begin | Askies | kopskote | Ape | Alkant | Moker | Trein | Immigrasie | Niekrieket | Kinkels | Kortbroek | Reen | Splinters | Stadsjapie | Sinneloos | Baanbokke | Ditjies | Groen | Joets | Onweerbaar | Footy | OZPOLITIEK | ANZAC | Luilekker | Tandloos

REENDAE

Prentjies uit Australië

bbmelbourneenrivier.jpg
Melbourne

REЁNDAE

 

 

 

Sit mos nou die dag in die gallery waar ek werk en kyk na die reën wat buite neersif, die elmbome se herfsblare op die sypaadjie se natswart teer laat glim en skielik doem ‘n hele leeftyd se reëndae by my op -- reëndae op vier vastelande.

 

Miskien is dit deels as gevolg van my kinderjare in die dorre binneland van Suid-Afrika – die Karoo, Namakwaland, die Middellande, veral – dat ek so in vervoering raak oor die reën. Ek verknog myself in die atmosfeer so eie aan ‘n reënerige dag. Daar’s ‘n bekoring in die blinknat wêreld, die geluid van die druppels op die dak of teen vensterruite en die reuk van nat aarde en blare wat moeilik is om in woorde om te sit.

 

Kleindag in die Karoo was die reën ‘n wilde dier wat met ‘n geruis en gesis oor die wye vlaktes gegier het, wat leë rivierlope in ‘n oogwenk onder bruisende bruin stormwater bedek het. ‘n Anderste soort reën wat die wêreld ‘n waterdans laat doen en wat geen ontsag vir mens of dier het nie. In die Kaap was dit heel anders; lang, neweldae wat stadstrate in geheimsinnige valleie omskep. Koffie in die knus warmte van Mark se Koffiewinkeltjie waar die ruite toegewasem het en die hele vetrek na koffie, croissants en sop laat ruik het.

 

Stellenbosch in die reën is ‘n magiese plek. Die eike en platane staan glimnat en peinsend langs die strate of langs die Eersterivier. Ek ‘n ‘n vriendinnetjie het lang wandelinge in die reën geneem, al langs die Laan op of in Dorpstraat af terwyl die druppels in haar hare glinster en my baard drupnat raak. Snags het ek in my kamer gelê en Tassenberg drink en lees terwyl die reën sagweg op die dak fluister en die geel lamplig die hele vertrek koesterwarm maak.

 

In die Asore reën dit meestal snags, met die gevolg dat ek soggens in ons kothuisie langs die see wakker geword het om ‘n nat nuwe dag te begroet. Die eiland in die winter is sag en nog groener, met misnewels wat laag oor die vulkaniese pieke hang. Ponta Delgada se keisteen straatjies blink in die nat lig, en die see is peinsend stil onder die gloeiende grys wolklaag. Maar nooit is dit triestig nie.

 

In Japan bars die tifone soos kamikaze stryders oor die landskap. Die reën stort hard en ongenadiglik neer sodat die bamboesbosse hyg en kopknik onder die aanslag. Riviere word woedende, ontembare drake wat brul en sis en brûe laat sidder en oorkant die straat van ons woonstel af verdwyn die rysplante onder die watergordyn. 

 

Nee, kyk, ek geniet reëndae. Hulle verkwik my hele wese, en die woordlose heimwee wat hulle bring is ‘n kontrapunt in my andersins gelukkige lewe. Op reëndae voel ek intens deel van die aarde, bruis inspirasie deur my are en is die wêreld ‘n nog meer wonderlike plek. Reëndae laat my deur en deur mens voel.

 

Kom, reën, kom fluister teen my kamervenster en ritsel jou roksoom oor my huis se dak; hier is jy altyd welkom...

Skryf vir Boemerangboertjie

Kliek NOU Hier!