BoemerangBoertjie

Begin | Askies | kopskote | Ape | Alkant | Moker | Trein | Immigrasie | Niekrieket | Kinkels | Kortbroek | Reen | Splinters | Stadsjapie | Sinneloos | Baanbokke | Ditjies | Groen | Joets | Onweerbaar | Footy | OZPOLITIEK | ANZAC | Luilekker | Tandloos

Sinneloos

Prentjies uit Australië

bbyarrarivier.jpg
Yarra rivier

As die sinne wegdoof…

 

 

Hier in Melbourne wil die winter ook maar nie besluit of hy kom of gaan nie, met die gevolg dat die mense se koppe blykbaar ook nie aldag weet wat vir wat gaan nie, lyk dit my. Ná wat na 'n almintige lang winter voel, raak die glimlagge op straat ook min, wil dit voorkom...

 

Jare gelede, nog in die dae van Natte en Sappe toe ek nog nie heeltemal so hoog soos 'n jakkalsdraad gestaan het nie, het ek eendag gestaan en luister hoe twee outoppies stry oor landspolitiek. Natuurlik was die een 'n Bloedsap en die ander 'n vurige Nasionalis. Die argument is dié kant toe en daai kant toe, maar (soos altyd die geval is) kom dit nêrens by 'n raakpunt tussen die twee nie. Oplaas laat waai die Nat toe maar met die laaste uitweg van die gefrustreerdes en vertel vir die Sap hy's net 'n simpel sout..l en daarom 'n landsverraaier. Die Sap is nie op sy bek geval nie en kap terug met "en jy's net 'n dom boer wat nes jou skape dink". Met dié tree 'n ander omie, wat die hele storie in stilte aangehoor het, tussenbeide met iets wat ek nooit sou vergeet nie: "Jene, mense," sê hy kalmweg, "waar's julle sin vir humor en perspektief?".

 

In die alteveel jare sedertdien het ek hopeloos te dikwels ervaar hoe mense se humorsin en sin vir perspektief wegdoof tot daar net kras woorde en 'n suur maag oorbly. En elke keer het ek myself gemaan om myself nooit dieselfde lot te laat ervaar nie. Daar was tye in my lewe dat dit omtrent net dié twee sinne was wat my van die donkerste poele in die ou lewensstroom teruggehou het. Dit, en geloof, natuurlik...

 

En nou kom 'n omie (of is dit 'n nefie?) hier uit my eie stad se geweste en vat my aan omdat ek die vermetelheid het om die ou lewe met 'n paar knippies humor te vat! Ag, nee, wat, ou Chris, jong, jy maak jouself verniet so suur oor ou Boertjie se gegorrel, man. Maar laat ek tog maar 'n bietjie aandag aan Chris se klagtes gee, en sommer terselfdertyd al die ander mense wat soos hy mag voel, ook aanspreek:

 

Kyk, sover ek as boerklong weet, beteken die neerhalende woord "soutp..l" dieselfde as "rooinek", m.a.w. dis 'n verkleinerende verwysing na 'n Engelssprekende. Watter ander betekenis daar aan die woord kleef, sal ek nie weet nie; dis maar hoe ek in my vyftig jaar se Afrikaans spraat in Suid-Afrika geleer het. So ek weet nie juis hoe ek en die soutdingese waarvan jy praat nou eintlik dieselfde sou wees nie.

 

Vir die res sou ek graag wou weet waarom onse beswaarde Chris hierheen gekom het. Agter werk aan? Om van die misdaad in SA weg te kom? Om van die Nasionale Party weg te kom? Omdat die Nuwe SA hom nie geval nie?  Altyd interessant om te hoor waarom mense die diaspora aanpak. Self het ek nooit juis gedink ek sou hier aanland nie, maar as 'n mens verlief raak, werk jou hart met jou kop, en nie andersom nie! En nou sit ou Boemerangboertjie hier in Osland en werk nes die Ossies wat nie op die dole is nie en betaal belasting nes die Ossies wat nie op die dole is nie en ry saam met die Ossies trein en trem (en betaal elke slag, hoor!). Met ander woorde, behalwe vir die feit dat ek nog nie burgerskap het nie (kom egter eersdaags daarvoor in aanmerking), is daar eintlik maar min verskil tussen my en my Ossie vriende. Net so lag ons saam oor die manewales van ons regering (beide staats- en federaal) en skeer ons net so lekker die gek met die dinge waarmee 'n mens die gek kan skeer. En ons het 'n humorsin ook gemeen!

 

En van die vettigheid geniet weet ek nie soseer nie; het nog nooit van Medicare gebruik gemaak nie en kry g'n niks se toelaag van die regering nie. Ja, ek voel hier net so veilig as wat ek in Stellenbosch gevoel het, en ek kan met my swaarverdiende dollars op omtrent dieselfde peil leef as wat ek in Stellenbosch kon, so die skuif was nie juis afwaarts nie (maar darem ook nie juis opwaarts nie, want luukshede is maar skraps in ons huis – nie dat ek of vroutjie daaroor ween nie!). Maar ek is gelukkig en geniet my werk en my omgewing en die mense om my – of hulle nou gebore Ossies of immigrante soos ek is. En omdat ek hier tuis voel en my kant bring, is ek geregtig daarop om te korswil of moer te trek, nes enigeen anders. As dit nou vir Chris sy lewer omkrap, dan het hy seke maar net 'n te teer lewer, of hoe?

 

En, wonder ek, hoekom vat hy nie ook sommer vir Roelfie aan nie? Want Roelfie grap nie; hy is baie ernstig, anders as die simpel ou Boemerangboertjie wat van alles 'n grap wil maak, of hoe? Is dit dalk omdat Roelfie sy eie land se moleste aanpraat? Maar ek praat mos ook maar net my eie land se moleste aan! Want, sien, ek het geen plan om terug te trek SA toe nie. Vir botter of vir wors is Boemerangboertjie eintlik maar net nog 'n Oslander. Al verskil is hy het Afrikaans by sy ma en pa geleer, nie Osengels nie. Die burgerskapstorie is maar net 'n formaliteit, jong.

 

O ja, en soos ek die ding het, verteenwoordig my siening van sake geen amptelike Onsdorp beleid nie, en gooi Hennie maar net so af en toe 'n liplekkertjie uit die jongste van my skribbelerasies in die Kammanuus in, so jy kan maar jou paar sente vir Hennie stuur en weet jy hoef nóóit 'n enkele woord van my te lees nie, Chris ou maat.

 

Sela, soos Dominees allewe gesê het.

 

Mooiloop en oppas vir die dorings

Skryf vir Boemerangboertjie

Enter content here

Enter content here

Enter content here

Teken in op Kammanuus


    3046 Lesers al reeds!
    GetResponse E-pos Bemarking

    Kliek NOU Hier!