Splinters
Leedvermaak gee gewoonlik so ‘n skewerige plesiertjie; daardie lekkerkry van “ek het gesê dit gaan gebeur”, maar
soms het daardie voorspelling van ‘n ramp, groot of klein, net ‘n bitter smaak. Só is dit met wat van vandeesweek
in die Burnley Tonnel gebeur het.
Dié tonnel is 3,5 km lank en loop van wes na oos onder Melbourne se Yarra rivier
en deel van die middestad. Daar is drie verkeersbane in die tonnel. Verkeer vloei normaalweg heel glad deur die tonnel met
sy 80 km/h snelheidsgrens, maar op Vrydagoggend (die 23ste Maart) het alles baie lelik skeefgeloop.
Blykbaar het ‘n vragmotor se band gebars. Die bestuurder het die voertuig
in die noodbaan aan die linkerkant van die tonnel tot stilstand gebring, maar ‘n ander vragmotor het oomblikke later
agter in hom vasgery en beide voertuie het aan die brand geslaan. Twee motors en nog ‘n vragmotor het kort daarna met
die wrakke gebots. Van die motors is so erg verbrand dat die polisie nog nie eens kon vasstel watter fabrikaat hulle is nie,
en drie mense is dood. Die tonnel was ten tye van hierdie skrywe nog steeds toe vir verkeer.
Hoewel dit nog nie seker is hoe die tragedie hom presies afgespeel het nie, kan
daar min twyfel wees dat die mense hier se rygewoontes skuld het. As almal ‘n veilige volgafstand gevolg het, binne
die snelheidgrens was en hul aandag op die pad gehad het, kon die ongeluk nie sommer plaasgevind het nie. Maar motoriste hier
dink mos elkeen die pad is net syne. Sowat van (onbewustelike?) onbeskofte padgebruik by soveel mense is om van naar te word.
Mense ry te na aan mekaar, ignoreer die snelperke, en druk sommer na wil in ander bane in. Elke nou en dan gebeur die onvermydelike
en veroorsaak sulke padboewery lelike ongelukke. Net die volgende dag moes ek in ongeloof aanskou hoe ‘n 4x4 teen ‘n
vieslike spoed oor drie bane bane van die Monash snelweg swenk, sy pad in ‘n string stadig-bewegende motors op ‘n
afrit inforseer en almal wild laat rem. En waar was die polisie? Moenie vra nie; seker knus op kantoor en wagtende dat iets
moet gebeur.
Hier is nie so iets soos verkeerspolisie nie. Wel ‘n “highway patrol”
met ‘n handjievol fensie Holden Commodores, maar ‘n mens sien hulle omtrent net een maal per jaar op die pad.
Spoed- en veiligheidskameras is gewoonlik net op plekke waar hulle ouens kan vang wat net-net oor die snelperk is, maar op
die oop snelweë? Nee, wat, vergeet daarvan!
Wat alles erger maak, is dat sulke gedrag gelate deur ander motorryers aanvaar
word. En moenie dink iemand sal dankie waai as jy hom voor jou laat inpas nie; niee, wat, dis mos sy reg!
Ossies het te vertelle dat dit die Asiate is wat sleg ry, maar die grootste
padboewe wat ek daagliks teëkom, is omtrent almal tipiese Ossies, bofbalpet en moulose frokkies en al, en die grootste sondaars
is die Commodore, joet en 4x4 brigade. Laat ‘n mens wonder oor die psige van dié nasie...