Tandloos, maar brêkgat
Op skool was
daar 'n lat in my klas wat maar bra ongewild was; raar, eintlik, want hy was 'n goeie rugbyspeler en sy pa was dokter én burgemeester.
Sy groot swakheid was dat hy verskriklik windalie was en nooit sy bek kon hou oor hoe alles wat syne is altyd beter was nie.
Vra hy mos toe eendag een van my maats hoekom niemand van hom hou nie, en maat se antwoord was bondig, "Niemand hou van 'n
brêkgat nie".
Met die Statebondspele
nou onlangs hier, is ek konstant aan dié perdjie herinner. Kyk, ek het voor die tyd al vir Vroutjie knorrig gehad deur te
sê dat ek nie weet wat die ander spanne hier kom maak nie; kom seker net kyk wie tweedebeste is. Want ons het mos almal vooraf
geweet die Ossies gaan met omtrent al die goud wegpronk. Kan ook nie anders nie, skat ek, want vir die ouens hier is verloor
nie 'n opsie nie, en wen is 'n móét, aangesien die land se nasionale geestesgesondheid op
die spel is elke keer wat Ossies deelneem – meer nog as in ander lande, want Ostraliërs het 'n obsessie met wys dat
hulle die beste in alles is.
Goed en wel,
maar die orgasmiese geborsslanery en trompetgeskal met elke medalje het my later van die TV af weggedryf, en dis net die kommentators!
Wie hou dan nou van 'n brêkgat?
Maar so tussen
al die goud en silwer deur (brons tel nie hier nie) glip iets anders in die nuus in, en dit is dat daar mense is wat nou al
DERTIEN JAAR lank wag op tandheelkundige dienste. Sien, hier is almal geregtig op staatsondersteunde mediese dienste, wat
beteken jy betaal niks of bitter min, mits jy na 'n dokter, kliniek of hospitaal toe gaan wat Medicare pasiënte bedien. So
nie moet jy maar na privaat dokters of hospitale toe. Dieselfde geld natuurlik vir tandheelkundige dienste. Nou hoekom die
verstommende lang waglys? Want daar is, oor hierdie helse groot land met sy amper twintig miljoen siele, net SES staat tandheelkundige
fasiliteite, en dié sit met 'n kramp van 'n tekort aan tandartse. Sodra jong tandartse kwalifiseer, is hulle dadelik in privaatpraktyke
in, want dis waar die geld is. En so sit daar nou duisende Ossies met hul bekke vol (vrot en stukkende) tande, want niemand
kan hulle help nie, en hulle kan nie die ontsettende duur privaatwerk bekostig nie.
Intussen kry
die Australiese Sportraad, wat verantwoordelik is vir die befondsing van al die sportontwikkelingsinstansies soos die Australiese
Sportinstituut, darem in die huidige boekjaar A$207 miljoen van die Federale regering. As jy nou in ag neem dat die ABC, die
amptelike uitsaaier wat twee televisiekanale en sowat sestig radiostasies sonder advertensie- inkomste moet bedryf, in dieselfde
boekjaar A$264 miljoen gekry het, kan jy sien hoe belangrik sport regtig is. Voeg nou by daardie $207 miljoen etlike miljoene
in die vorm van borgskappe en skenkings van die privaatsektor, en jy het omtrent die jaarlikse BNP van heelwat van die kleiner
landjies wat hier kom verloor – ek bedoel speel – het. Na die pas
afgelope Winter Olimpiade, waar die Ossies net twee goues kon wen – een deur 'n Kanadese burger – het die manne
dadelik besluit om $45 miljoen te bestee om 'n wintersportsentrum hier in Victoria te bou sodat hulle nie weer so sleg gaan
lyk by die Winterspele nie. Maar geld is daar nie vir die tandloses en die vrotbekke nie, arme bloedjies...
As jy wil brêkgat
wees, moet jy seker maak daar's nie gate in jou jou tande nie...
Groetnis
Boemerangboertjie