BoemerangBoertjie

Begin | Askies | kopskote | Ape | Alkant | Moker | Trein | Immigrasie | Niekrieket | Kinkels | Kortbroek | Reen | Splinters | Stadsjapie | Sinneloos | Baanbokke | Ditjies | Groen | Joets | Onweerbaar | Footy | OZPOLITIEK | ANZAC | Luilekker | Tandloos

Hoe Ry Die TREIN

Hoe ry die trein...

 

 

Sedert ek laas oor my daaglikse wel en wee op die pendelfront geskryf het, het dinge taamlik drasties verander. Deesdae sukkel ek nie meer op die Monash Slakweg aan nie, maar ontspan lekker op die trein met ‘n boek of ‘n koerant om die tyd te verwyl.

 

Sien, die Pakenham lyn het deesdae meer treine op die skedule, wat beteken dat ek elke oggend seker kan wees dat ek betyds in die stad sal kom, al kanselleer Connex (die treinmaatskappy) ook ‘n trein of twee. Maar alles is darem nie pap en wors nie, want daar is te min parkeerplekke by my stasie, met die gevolg dat ek vóór sewe in die oggend daar moet wees, al sluit ek eers die gallery waar ek werk om tien-uur oop. Ag, nou ja, dis darem beter as om elke oggend moer te strip, my gal te kastei en hartkloppings op te doen in die gekruie op die pad. En deesdae loop ek minder gevaar om deur ‘n cowboy truckie met ‘n tien-ton gedrog van die pad afgevee te word, of dat een van die ontelbare jong willewragtags in sy donderende Commodore my van die pad af sal druk om tussen my en die ou op my voorste buffer in te druk... SALIG!

 

As ‘n mens nou in gedagte hou dat daar elke dag meer as 1800 voorstedelike treine in Groter Melbourne loop en dat daar jaarliks ongeveer 162 miljoen mense van die voorstedelike treindiens gebruik maak, is dit eintlik verbasend hoe goed dinge in die algemeen is. Ja, in Junie is 300 treine gekanselleer, en het 5000 meer as vyf minute laat geloop. Drie mense is deur treine doodgery, en elke insident het beteken dat treine vir die volgende 3½ uur nie kon loop nie en deur busse vervang moes word. Maar nogtans werk die diens goed en kom ek gewoonlik sonder insident anderkant. Terloops, die rit van Narre Warren in die suidooste to by Southern Cross in die stad duur gewoonlik ‘n uur.

 

Hoe vol is die trein gewoonlik? Jong, as ek opklim is daar nog plek vir ‘n olifant of drie, al is die lywige Ossies skynbaar elke dag meer én lywiger, maar so vier stasies later moet die ouens maar verlief neem met staan, en halfpad stad toe voel ‘n mens soos ‘n sardiens in ‘n oorvol blikkie en staan die mense mekaar se liddorings nag. En moenie praat van al die geure en kleure nie! Soggens is nie te sleg nie, want dan het die meerderheid darem gestort of gewas, maar saans...! Dan walm die feromene deur die waens, en is die vet anties se reukwater net ‘n vervloë herinnering. En snaaks hoe sommige mense se stapelkos ‘n blywende klankie laat...

 

Dit vat gewoonlik so twintig keer se raakloop van dieselfde mens voordat jy ‘n glimlag kry, en mense praat maar bitter selde met vreemdelinge op die trein. Dalk omdat almal na hul MP3 spelers luister en doof is vir die res van die wêreld. Maar gelukkig is daar maar min buffels of renosters met ‘n kopseer op die treine en niemand vlieg iemand anders in die hare nie. En dit baie veilig om enige tyd van die dag of nag trein te ry, al dink nie alle Ossies aldag so nie.

 

Mooiloop

Skryf vir Boemerangboertjie

Kliek NOU Hier!