BoemerangBoertjie

Begin | Askies | kopskote | Ape | Alkant | Moker | Trein | Immigrasie | Niekrieket | Kinkels | Kortbroek | Reen | Splinters | Stadsjapie | Sinneloos | Baanbokke | Ditjies | Groen | Joets | Onweerbaar | Footy | OZPOLITIEK | ANZAC | Luilekker | Tandloos

ONWEERBAAR

Prentjies uit Australië

rayeurekatoring.jpg
EUREKA TORING - Hoogste in S Halfrond

Onweerbare Mag

 

 

 

Groot bohaai (soos altyd in dié kop-toe nasie) nou al sedert die 21ste April toe die eerste en tot dusver enigste Ossie soldaat in Irak gesterf het.

 

Skutter Jake Kovco is dood aan 'n skoot in die kop terwyl hy en twee makkers ná diens in hul kamer ontspan het. Selfmoord? Ongeluk? Sy gesin het histeries geraak by die blote aanhoor van die woord selfmoord, en die histerie het in histeriese woede omgesit toe sy lyk op pad Australië toe per abuis met dié van 'n ander man omgeruil geraak het. Die Minister van Verdediging en John Howard self moes bontstaan om te paai. Verstaanbaar dat die mense hewig ontsteld raak, maar die wil en wakker geswaai van spreekwoordelike vuiste en vuil taal was net so ontstellend.

 

Ewenwel, die geregtelike ondersoek is op die oomblik in swang en die getuienis raak al hoe vreemder. Eers is gesê hy het homself per ongeluk in die regterslaap geskiet. Daarna is gereken nee, daar is geen kruitmerke op sy vel nie, dus kon hy homself nie geskiet het nie. Daarna spring die Minister van Verdediging in en sê iets in die lyn van "hy's dood aan 'n skoot in die kop vanuit sy 9 mm Browning pistool wat in sy nabye omgewing was" (wat de joos dit ook al mag beteken). Nou sê die twee ander soldate wat in die vertrek was dat hulle na 'n liedjie op 'n iPod geluister het en dat iemand gesê het "dis so gay, dis om van te sterf" en dat Kovco vermoedelik spelenderwys sy pistool afgevuur het. Getuienis dui nou daarop dat hy die pistool onder sy ken moes gedruk het, want die koeël het 'n gat in die plafon gelaat. G'n wonder daar was geen kruit teen sy slaap nie.

 

Die vraag, egter, is nou: waarom het Kovco, teen alle staande orders in, 'n gelaaide wapen in sy kamer gehad? Die Australiese troepe in Irak is onder streng bevel om alle wapens te ontlaai en veilig te maak sodra hulle van diens af kom. 'n Makker is veronderstel om toe te sien dat dit gedoen word. Kovco het duidelik hierdie bevel verontagsaam, met tragiese gevolge...

 

Voor en na die begrafnis (met volle miltêre eerbewys) is herhaaldelik beklemtoon dat Kovco 'n goed-opgeleide en uiters knap skut en soldaat was. Hy het in die 3de Battaljon van die Royal Australian Regiment, 'n valskermeenheid, gedien en was glo 'n skerpskutter. En tog skiet hy homself op so 'n simpel wyse?

 

Kyk, een ding wat ek baie gou hier agtergekom het, is dat die Australiese Weermag nie te waffers is nie. Deels omdat daar soveel politieke druk op hulle is om niemand gedurende opleiding te na te kom of te beseer nie, en deels omdat hulle onder die tipiese Ossie grootheidswaan leef en nie kan glo dat hulle en hul metodes nie die beste ter wêreld is nie. Vegeet maar van die feit dat hulle uniforms dra wat omtrent niks verander het sedert die dae toe hulle Lord Kitchener gaan help het om die Boerrepublieke hul vryheid te ontneem nie. Vergeet maar van die polities-korrekte opleidingsmetodes. Daar is duidelik nie genoeg dissipline en toesig nie, want anders so Kovco nie 'n gelaaide pistool in sy kamer gehad het nie en sou hy vandag nog gelewe het.

 

'n Weermag is nie daar om mooi te lyk of die vyand ferm aan te spreek nie. 'n Weermag moet uit goed-opgeleide, gedissiplineerde soldate bestaan wat daadwerklik en met durf optree. Die betrokkenheid van Ossie troepe op die oomblik in Oos-Timor spreek boekdele: hulle staan rond en kyk hoe die plunderaars geboue aan die brand steek en winkels plunder. Nie eens 'n waarskuwingsskoot nie! Maar toe Portugal se GNR (die para-militêre Nasionale Republikeinse Wag) opdaag, staak die moleste omtrent onmiddelik, en dit met net 120 GNR-troepe, vergeleke met meer as 'n duisend Ossie troepe!

 

As ek in my dae in die Infanterie betrap is dat ek skerppunt ammunisie in my kamer gehad het, het iemand dadelik my tande losgeklap en het ek vir weke lank ekstra wagdiens moes doen. Maar die Ossie troepe in Irak, luidens die ander soldate, rig gereeld hul wapens op mekaar en trek spelenderwys die snellers. Nee, magtag, dít doen géén soldaat nie!

 

En, histeries trots soos die Ossies op hul militêre geskiedenis is, is die kil feit van die saak dat hulle lelik les opgesê het gedurende die Boere-oorlog (meer ongevalle as in die Viëtnam-oorlog), dat hulle gedurende die twee wêreldoorloë maar netsoveel kanonvoer was as enige ander land se troepe, dat hulle in Viëtnam aan die verloorkant was, en dat hulle in Irak bloot Japanese ingenieurs oppas en nie op die voorpunt van operasies is nie.

 

Maar dis nou maar een maal die geval met kop-toe mense; hulle oordryf alles en móét altyd vir almal vertel hulle is die beste, die grootste, die sterkste ensovoorts in alles, ongeag wat die werklikheid is. En die tragedie is dat jong seuns soos Jake Kovco die prys daarvoor moet betaal. As die mense net 'n bietjie meer beskeidenheid aan die dag wou lê, sou almal beter daaraan toe wees en sou die krake nie met dik, hoogdrawende woorde toegesmeer word nie...

 

Groetnis!

BBoertjie

Skryf vir Boemerangboertjie

Kliek NOU Hier!