Floppies, Flaters en Waagmoed

TUISBLAD
Die Onskuld van die Eerste Keer
Bike Trip na HOLLAND
ROME
SKI TRIPPIE
Die Oproep
Wonderwerk
Die Nuus
TERUG NA ONSDORP.COM

Op motorfiets deur Holland

25 April 2010 MOTORFIETS TOERTJIE 2010 NOORDWIJK, KEUKENHOF, HARDENBERG, EMLICHEIM, TILBURG NA LONDON  Graag wil ek julle sommer vertel van ons laaste vakansietjie wat ons so tussenin die werk gesteel het. Jan het altyd gese hy wil nog gaan reis met die motorfiets.  Ek het altyd gese dit sal ‘nice’ wees, maar na ‘n paar ritte het ek gewonder of dit regtig ‘nice’ sal wees en die eendag reis het ‘eendag’ gebly.  Toe ek wil gaan blomme kyk in Keukenhof, Nederland, het Jan vasberade aangekondig dat dit per motorfiets gaan wees.  Ek het nie die ferry bespreek nie, want miskien verander hy van gedagte, het ek gehoop maar nie gese nie. 
Nou ja so breek die tyd aan dat ons moet bespreek en terwyl die vuurspuwende berg ferry plekke bedreig bespreek ons inderhaas na 10 nm die aand ‘n ferry MET DIE MOTORFIETS!!.  Nou het ek geweet daar was geen omdraai kans meer nie met die ysterperd gaan dit wees en ek sal vinnig myself moet geestelik voorberei.    So gebeur dit dan ook dat ek myself op 53 jaar moet ‘dare!’.  Bevele word gegee dat daar slegs plek is vir panties en ‘n paar T-shirts en alle fieterjasies word beperk tot die minimum, want plek is min. Nou ja so is ons dan op ‘n koue Dinsdagoggend in die pad.  Gou moet ek leer om  my nek styf te hou of ek tel my kop aan die anderkant van die hoofweg op en ek oefen soos ‘n meester Apollo om my kop soos ‘n aardbol te balanseer. Dit help. Die uitsig agter op die motorfiets is dieselfde as Mamma Afrika se snotkoppie wat sy pebba, agter op haar rug het.  Hoop net salig dat ek nie visueel gestremd sal wees as ek in London terug is nie. Die wind vind die kleintste gaatjie wat ek per ongeluk nie toegemaak het nie – en dis vriesend koud! Die helmet en handskoene maak dit onmoontlik om my neus af te vee veroorsaak deur die koue luggies wat oral infiltreer, so ek lek so elke nou en dan die druppende watertjies op – so kan nie kla dat ek dors word nie! My bene is in wydsbeenposisie en so word my binneboude ook dan in die wydsbeen posisie gevries. Net so voor hul dan ‘frostbite’ het, stop ons.  Ek probeer om baie grasieus af te klouter;  met binneboude in kettie posisie ….. Grasieus is maar moeilik.  Dan is ek af en kyk ek vinnig rond om te sien wie kan nie sy lag bedwing nadat hul die petalje van die kruipende vrou aanskou het nie. 
Na vele stoppe is ons in Noordwijk en by die Hollandse dame se B&B waar ons vooruit bespreek het.  Als lyk heel goed; tot ons sien watter trappe ons na bowe moet neem om by ons kamer uit te kom. Die trappe is soos driehoeke van 15 grade punt by 25 grade, opmekaar gestapel.  Health and Safety se droom vir kritiek. So gevaarlik dat beide Jan en ek voel om eers ons polisse na te gaan voor ons dit aandurf.  Ons maak dit toe tog wel tot bo en terwyl ons in ons kamer is kom die Hollandse dame se koddige man tuis.  Hy ry ook motorfiets, en wat doen hy?  Hy hardloop met bike boots die trappe op soos ‘n koggelmander in benoudheid.
 Die mens is darem so aanpasbaar! Ons gaan stap toe langs die see maar die ongelooflike koue noorpoolwinde het seker gemaak dit ons geen genot daaruit put nie.   
Die volgende dag is ons na Keukenhof om die pragtigste tuin met bome en blomme en water te beleef.  Dit was ‘n lushof vir die oog. Elke kleur tulp waaraan jy aan kan dink, enkeles, dubbeles, kleintjies, groottes, langes en kortes te veel om in te neem. Orgidiee in alle kleure en groottes asook affodille wat koppies hoog op in die lug staan, het vir ‘n skouspel gesorg wat jou hart goed doen.  
Die aand eet ons weer in ‘n restaurant in die koue straat van Noordwijk langs die see.  Binne brand ‘n vuurtjie gesellig en jy wil sommer net daar bly, alhoewel die son sy warm strale deur die groot vensters gooi tot na 9 uur die aand, is die skraal windjie daar buite ‘n groot realiteit.  Die kelner vergeet van ons bestelling en ons kuier toe maar net met mekaar met ‘n heerlike rooi wyntjie op die huis van meneer die kelner en die warm vuurtjie langs ons tafel.  Die kos was heerlik so hy was vergewe. 
Die volgende dag is ons na Haarlem - meer noord van Noordwijk op pad na Amsterdam.  Sien die vliegtuie opstyg en land by Schiphol en dis eintlik ‘n aardigheid na die dae van geen vlugte as gevolg van die assies uit Ysland.  Haarlem is ‘n ou stad met baie ou geboue en kerke, strate wat skeef en krom is.  Loop rond en vind pintsak friete met mayo.  Eet ons magies knuppeldik.  Sal volgende keer maar ‘n puntsak moet deel. Besoek die Corrie ten Boom huis ook in Haarlem en dis so goed om dit wat ons gelees het in The Hiding Place, te beleef. 
Altyd gewonder hoe die wegsteekplek in die regte lewe gelyk het en nooit gedink ek sou daar in die kamer staan om te sien hoe dit gelyk het nie. Die vals muur in haar kamer was van steen en die toegang na die wegsteekplek was onder in die kas se onderste rak.  ‘n Alarm van die voordeur het hul gewaarsku dat die Nazis by die voordeur is en die Jode het geoefen om 6 mense met messe vurke en wat ook al hul mee besig was binne 60 sekondes agter die muur te he en skoene terug gepak in die onderste rak.  Die Nazis het geweet hul steek Jode weg en het teen al die mure geklop maar kon nooit uitwerk hoe die mense verdwyn nie.   
Terug na Noordwijk.  Nou is die fietsry al normaal en die sonskyn ‘n plesier.  Dit was ‘n heerlike dag en geen koue luggies wat jou pret wil bederf nie. Die volgende dag val ons weer in die pad na Hardenberg meer noord in Holland.  Kuier lekker by Nederlandse familie.  Moes hoor van die brawe muis wat ‘n nie so brawe tante byna ‘n oorval gegee het. Die muis het 4 verdiepings hoog na hul woonstel se balkon geklim om kos te kom eet. Wat daar gebere word tot dit vir hersirkulering deur munisipaliteit verwyder word.  Voor ons weg is het slim muis se baas hom gevang in ‘n valletjie en was hy nou ook nie meer. 
Saterdag is ons na Emlicheim, Laar in Duitsland na Jan se Duitse Tante en neef en het ons haar geneem vir ete in Coevorden op die grens van Duitsland en Nederland. Te gou was die kuiertjie ook verby en val ons weer in die pad na Tilburg, suide van Holland.  By die B&B ontmoet ons die baas van die huis.  O wee, hy lyk soos ‘n polis smous en praat heeltemal te veel.  Die tipe wat jou maak wens jy het nooit daar bespreek nie.  Hy wys ons die huis, en wil ook sommer dadelik weet wat dink ons nou van sy B&B. Ek kon nie vir hom so blatant se nie, maar wou se: ‘Weet jy my man piepie baie in die nag en met jou trappe mag ons dalk in die Noodafdeling van die Hospitaal beland, vannag.’  Maar toe is ek weer ordentlik en se maar net date k dink dit sou beter sou gewees het as die toilet en badkamer langs die kamer was en nie trappe af en deur die kombuis nie.    Verder het hul seker op ‘n ‘bootsale’ ‘n boks vol vierkantige spieels gekry wat oral langs die mure geplak is.  Die kamers is op die eerste vloer en die enigste toilet en badkamer is trappe af, gang af deur die kombuis , spieels langs. Die toilet is so klein dat om jou gedagtes daar te verander sal te veel spasie neem.  Moet dit maar liefs buite die toilet doen.  Arme Jan, sal nie weet hoe het hy daar reggekom nie, maar dis te veel inligting vir hierdie brief.    So gou as moontlik het ek van die man van die huis ontslae geraak en na die kamer gevlug deur aan te kondig dat ek gaan stort.  Man van die huis het toe sowaar die nerf om vir my te se: ‘Ja natuurlik mag jy gaan stort’, asof ek toestemming gevra het.  In die badkamer het ek toe inderdaad ‘n logistieke probleem.  Die badmuurtjie is breed en hoog en die gaatjie tussen die muur en die glasskerm van die stort klein en my beentjies kort, baieeee kort.  Ek kruip/klim oor die bad se rand en neem ‘n heerlike warm stort.  En toe ek die kraan toedraai besef ek eers my dilemma.  Die bad se rand is breed soos ek reeds gese het, so as ek nou my voet oorsit is die pad na die vloer toe baie ver, wat meen my ander been skiet onder my uit op die gladde bad. Die gat tussen  die muur en glas te klein om my hele lyf en bene gelyk deur te kry en ek kan nie vir Jan roep nie want die deur is gesluit. Nou gly ek so vorentoe en agtertoe totdat ek myself oor die bad se rand kry . Maar toe stoom ek nie meer van die stort nie, maar van die verdommende B&B.  Ek storm daaruit en konfronteer meneer Pierewaaier B&B whatever. Hy antwoord : O, ja daar is ‘n trappie’.  Ag ek verloor dit toe amper. Ja, so vat dit al die soorte om die wereld te maak. Sondagoggend kry ons ‘n ontbyt uit die boeke, gemaak deur meneer Pierewaaier se Roemeense wyfie wat ‘n chef is, dit maak toe op vir al die ontberinge van die vorige aand in sy geselskap. 
Ons ry vroeg weg en geniet die heerlike sonskyn oor die plat Nederlandse hoofwee, deur Belgie na Frankryk.  Op die boot skep ons asem en voel ek danig soos ‘n ou biker, baie gelukkig in my velletjie.  Dan by Dover af ons dogter in Faversham waar ons koffie drink en bederf word met heerlik Rhubab Crumble met room en Kaaskoek, wat die engelsman, haar man,  gemaak het. Gou weer in die pad tot by die huis.  Home sweet home!  Koffie saam met ons seun en sy vrou.  Als weer terug na normaal! Hoop jul het lekker gereis saam met ons. Groete uit London


KLIEK OP FOTO's OM TE VERGROOT

keukenhofwater.jpg
keukenhofwater.jpg
keukenhofwater.jpg
keukenhofwater.jpg

suzettepaintings1.jpg

SUZETTE SKILDER OOK. BESOEK GERUS HAAR WEBWERF 
KLIEK NET OP DIE PRENTJIES HIER BO