Floppies, Flaters en Waagmoed

TUISBLAD
Die Onskuld van die Eerste Keer
Bike Trip na HOLLAND
ROME
SKI TRIPPIE
Die Oproep
Wonderwerk
Die Nuus
TERUG NA ONSDORP.COM

Die Onskuld van die Eerste Keer

 

Daar is so baie eerste kere in ons lewe.  Sommige  eerste kere onthou ons nie eers  nie, soos die eerste glimlag, eerste tand, eerste tree en eerste keer wat ons ‘mamma' of ‘pappa' sê.  So onskuldig en eenvoudig, en tog bring dit vir ons ouers groot vreugde en daarmee saam die gevoel van genotdoening.

Dan word ons ouer en dan kan ons al onthou van sekere eerste kere, soos ons eerste skooldag.  Die eerste keer wat ons nie so slim gevoel het nie.  Die eerste keer wat jy ‘n briefie van ‘n belangstellende skoolseun kry.  Al hierdie eerste kere laat die gevoelens in jou lewendig word.  Soms goed en soms nie so goed nie.

Toe ons diep in die veertig jaar oud besluit het om weens ekonomiese redes na London te kom het ons nie geweet of ons gaan emigreer, en of is dit tydelik nie. Dan om die huis te sluit en met jou gesin, elk met net twee tasse, op die vliegtuig te klim was ook ‘n eerste keer wat met baie emosies gepaard gegaan het.  Ons het op die lughawe met oorgawe geween asof ons nooit weer ons familie gaan sien nie - die onbekende in.  As ons nie met onskuld en naiwiteit hierdie stap geneem het nie sou ons nooit nie, want wat vir ons voorgele het was NET soveel eerste kere.  Soveel so dat jy wou skree - ‘los my uit!  Ek wil geen leerkurwe meer belewe nie!'  Ek wou soms net opkrul en doodstil in my kamer le  met net my goedjies en dit wat vir my bekend was om my.

Op Oliver Tambo lughawe moes ons die boek van ons lewe los met alles wat ons weet en geleer het, die afgelope jare.  Ons moes Heathrow lughawe binnekom met ‘n splinternuwe boek van ons lewe - leeg, en ‘n niemand!!   

Dan begin jy jou lee boek vul met ander eerste kere.  Die eerste treinrit van die lughawe na die nuwe ‘huis'. Die huis wat jy nie eers weet hoe dit lyk nie.  Dan klim jy af en ry vir die eerste keer ‘n rooi bus in die land wat jou huis word.  Daarna kom jy by die huis en dis klein kamertjies met baie trappe met die bure wat so naby is dat jy voel sardiens in ‘n blik is ‘n bevoorregte spesie. Dit eindig ook nie daar as jy tot die besef kom dat jy geen idée het waar is Noord, Oos, Suid of Wes nie en jy voel of jy 1 jaar oud is. Hierdie keer egter is  daar niemand wat jou hand vashou en jou stap vir stap leer hoe om die lewe te hanteer.  Niemand wat se wat jy moet en mag doen wanneer en waar nie. Dis nou trial and error en jy is op jou eie.

Die volgende dag moet jy voorrade vir die huis gaan koop.  Jy het nie ‘n idée wat die naam ASDA of Boots vir jou beteken nie.   So het ons vir die eerste keer die hoofstraat ingevaar om elke winkel eerstehands te gaan verken. Ons loop verby die Kerk wat in die hoofstraat is en by die kerksaal staan mense wat ons afkeer en innooi na die kerksaal.  Ons vermoed toe dat daar ‘n soort van ‘n verkoping moet plaasvind en besluit aangesien ons dan nou op verkenning is kan ons nou maar net sowel ons dit laat welgeval om soos ‘n skaap die kraal ingejaag te word.  By die deur sit ‘n man en hy wil nog vir ons iets vra en ons is sommer reg

met ‘no thank you'.  Die man het toe maar sy woorde in die helfte ingesluk en ons laat begaan.  Ons is binne en na ons gesien het dat dit ou ooms en tannies

is wat tee drink en ou boeke en jam verkoop maak ons ons vinnig uit die voete verby omie wat nou stom is.  Toe kliek ek met ‘n skok.  Omie moes ons toegangsgeld gevra het van 20p maar ons was het so ‘n vasberade ‘no thank you' gehad dat hy nie kans gese het om weer te probeer nie.  Toe ek dit vir Jan se is ons al giggelende na die volgende winkel.  Dit was ‘n ‘error'!!  Inskrywing in boekie. 

Ek onthou my eerste keer wat ek na ‘n skool gestuur word om die dag waar te neem.  Die epiese tog van beplanning hoe om daar te kom, met die bus en gewapen met my A-Z van London (se strate).  Die benoudheid, spanning en vreugde van jou eerste geld verdien dwarrel deur jou kop en lyf.  Dan kom jy by skool en hul gee jou ‘n klas en ‘n paar notas en loop weg.  Die registers word na die klas gebring en ek het nie ‘n idée hoekom is daar twee registers nie.  Ek vra toe die 5 jariges wat maar te gretig is om die dom juffrou te leer.  Met verligting is die dag klaar en le die volgende epiese tog voor om ‘n skool te vind want al die voorstede is inmekaar gestrengel en skole is meeste van die kere in pypsteelerwe en obskure plekke en jy moet hul vind.  Tom Tom's en GPS's was net te duur dus moes dit met die London A-Z gesoek word. 

Soos die een skool wat ek moes vind in Orpington 15 min van ons huis.  Ek verdwaal vir amper 2 ure, soveel so dat ek amper in Dover land, was die see nie tussenin nie was ek seker in Frankryk.  Gelukkig kom ek na honderde oproepe  by die skool uit.  Ek was papnat gesweet en omdat ek die dag met Jan se motor gery het weet ek toe nie hoe om my selfoon uit die hand vrye toestel uit te kry nie, ek pluk,  maar dit sit!  Met nog een ruk ruk ek die hele ou kontrapsie in sy kanon in en selfoon sit nog steeds!  Besluit, wel dan is dit nou maar so, en storm die skool in sonder my foon.  Met die instrapslag moet ek toe ook sommer dadelik die klassie oorneem. So kom die dag tot ‘n einde maar toe begin my nuwe dilemma.  Ek stap uit die skool en die deur sluit agter my.  Dis koud buite en na die oggend se stres is my gemoed maar laag.  Ek kom by die motor.  Selfoonhouer in sy kanon, maar dis bysaak, hoe gaan ek by die huis kom, want ek kan nie dieselfde verdwaalpad terugry nie?  Ek bel Jan.  Hy is baie simpatiek en vra: ‘Waar is jy, dan kom haal ek jou?'  Ag dit was sommer die laaste strooi. Hoe moet ek nou weet waar is ek, nou huil ek sommer oor alles wat ek moes deurmaak : ‘ ek weet nie waar ek is nie!'  Ek besluit ek sal maar in die pad afry en dan vir hom bel en se waar is ek.  Ek draai die sleutel van die motor, en julle sal nie glo nie.  So dood soos ‘n mossie want in my haas het ek die oggend nie die hoofligte afgeskakel nie.  Toe huil ek eers, want ek is alleen in die parkeerarea en die deur van die skool is gesluit.  Ek klim toe maar uit en dink ek sal die motor maar stoot want daar is so klein afdraende net agter my.  Net toe kom een van die ouers daar aan. Ek vra die dame  baie mooi om my te help en gelukkig is dit net ‘n hupstootjie en daar gaan ek.  Ek ry toe maar straat af, en nie te lank nie of ek kry ‘n bekende bordjie en hou toe maar net aan en binne 15 minute stop ek voor ons huis.  Nog ‘n inskrywing vir die boekie van die nuwe lewe.

....



GEBORG DEUR ONSDORP.COM

suzettepaintings1.jpg

SUZETTE SKILDER OOK. BESOEK GERUS HAAR WEBWERF 
KLIEK NET OP DIE PRENTJIES HIER BO