Floppies, Flaters en Waagmoed

TUISBLAD
Die Onskuld van die Eerste Keer
Bike Trip na HOLLAND
ROME
SKI TRIPPIE
Die Oproep
Wonderwerk
Die Nuus
TERUG NA ONSDORP.COM

SKI IN NOORWEE

suzettenoorwee2.gif
MAAK FOTO GROTER DEUR DAAROP TE KLIK

 

ONS EERSTE SKI VAKANSIE

NOORWEE  

 

Ek is ‘n gebore Oos Kapenaar .  Op die ergste het ons kapok op Bruintjieshoogte gekry en dan was dit ‘n groot gebeurtenis.  Ons het dan as familie uitgery om te gaan kyk en in die kapok gespeel.  Intussen woon ons nou al ‘n paar jaar in London en is sneeu nou al minder van ‘n aardigheid.

 

Ek is die een wat al ons vakansie besprekings doen en as mens niks weet van ‘n land nie, dan bespreek jy maar blindelings, as dit na ‘n goeie geleentheid klink en lees eers later, want daar is mos ‘n eerste keer vir alles. So bespreek ek in Noorwee in die hartjie van die winter onwetend wat daar gebeur en hoe dit lyk in die winter.  Na ek bespreek het begin ek navorsing doen oor ons voorgenome reis. Ek vind toe uit dat dit eintlik ‘n ski oord is want sien Noorwee in sy totaliteit is eintlik ‘n ski oord in die winter. 

 

Oeps!! Omdraai kans was daar nou nie eintlik nie.    Wat weet ons van ski, Bruintjieshoogte help nou niks?  Ons nooi toe ‘n ander paartjie saam met ons uit, want sien vier gekke ouer as 50 is dalk beter as twee.  Baie opgewonde beplan ons ons vakansie.  Met die besef dat ski daar die hoofaktiwiteit  is berei ons ons so half hartig voor om net vir so ‘n dag te gaan ‘probeer'.  Kan seker nie so moeilik wees as ons na die winterspele kyk nie. Hulle glip so maklik daar van die hellings af!  Ag tog, het ons maar geweet!

 

Ons vertrek op ‘n Saterdagoggend uit ‘n baie koue London en land in Oslo in ‘n sneeustorm.  Ons het in ons lewe nog nooit soveel sneeu gesien nie.  Op die lughawe is alles toegesneeu, nie in duime nie maar in meters.  Selfs op die dakke  van die lughawe gebou en ander geboue lê die sneeu ‘n half meter en meer dik.  Ons is verstom en veral om te dink ons moet nou vier ure die berge in ry, in die sneeustorm, en dit aan die regterkant van die pad!  Dit was nogal ‘n nagmerrie rit.  Ons kon nie verstaan dat die vragmotors voor ons ry met geen ligte aan nie.  Toe ons stop sien ons dat ons motor ook toegesneeu het IN DIE RY!  Soveel so dat jy ook nie ons motor se ligte kon sien nie.  Ons kon ook nie glo dat ons dorpie vir dorpie verby ry en jy kan nie die verskil tussen winkel of huis of pad of park nie, alles is net WIT!   En die temperatuur buite is -26 grade Celsuis. Na ure se ry het ons steeds die ys aan die binnekant van die ruite afgekrap, terwyl die motor se verhitting aan is.

 

Na ongeveer 6 ure voltooi ons ons sneeustorm rit en is absoluut verheug om by ons bestemming aan te kom.  Ons parkeer area, naby die huis, is platgestoot- so dit meen eintlik die ys is gekompakteer en is so glad soos die ysblokkies wat mens uit die vrieskas uithaal, so soetjies, saggies trap is wagwoord.  Rondom die parkeerarea is die sneeu ‘n meter hoog en as jy balans verloor en dink jy gaan op die sneeubank staatmaak, kry jy ‘n groot verassing as jy ‘n meter ver val tot op die vaste grond, vreemde konsep.  Die houthuisie waarin ons gaan bly, staan soos warm oasis in die sneeu bedekte aarde.  Die huisies se dakke is ook gelaai met ‘n meter dik sneeu, en deur die blokkies vensterrame skyn die liggies warm en gesellig vanonder die lampskerms, met vure wat knetter in die leefvertrek.  Wat ‘n prentjie mooi gesig!  Ons is opgewonde en weet sommer dit gaan ‘n week van avontuur vir hierdie vier middeljariges wees.

 

Dag Een.  Verstom oor hoe koud dit kan wees bekyk ons dan die wêreld, na ‘n snoesige nag in ons houthuisie.  Ons verken ons omgewing en besluit op ‘n helling wat nie so wild lyk nie en bespreek dan ook ‘n ski-les vir die volgende dag.  Die res van die dag soek ons kosvoorrade, wat ook ‘n missie was, want die winkels en huise is soos vinkel en koljander, spierwit.  Ons was verstom oor hoe duur als was, byvoorbeeld ‘n pakkie soppoeier was R30.00.  Vleis onbetaalbaar en amper onverkrygbaar, maar geproseseerde vleis meer volop.  Uiteet so R700 per kop vir een maaltyd!

 

Dag Twee:   Ons is so geestelike voorbereid vir hierdie nuwe avontuur dat ons met ‘n huppel in ons stap die nuwe dag begroet.  Het ons maar geweet wat lê voor.  Met groot bravade stap ons in die verhuringswinkel in en kry al ons ski benodigdhede.  Stokke, ski's en groot swaar ski boots wat ons bietjie onkant vang, maar ons hou ons ‘poise' asof ons ou hande in hierdie ski besigheid is.  Buite die winkel kan ons nie help om te giggel nie, want die ski skoene wat kliphard en swaar is kan nie buig nie - en jy loop op  ‘saamgeperste ysblokke'- so dit was ‘n gesig om die vier van ons te sien heupswaai, amper soos ‘n toneel uit ‘The Good, the Bad and the Ugly'.

 

Ons ry na ons parkeerarea en voel ons wil tog net hierdie uitrusting volledig aanpas om die gevoel te kry voor ons nou vir ons klas gaan.  Anstig pluk ons al die stokke, ski's en skoene uit die kattebak.  Ons vriend het eerste sy stewels en ski's aan en toe hy omdraai skiet die ski's soos ‘n hardloper uit sy blokke, want sien die parkeerarea is eintlik afdraende.  Hy dink toe: ‘Ski-ers lig die stokke onder hul kieliebakke op, soos ‘n hoender wat wil vlieg,' so hy sal dit ook maar in die geval doen en daar gaat hy, sonder enige idée hoe hy gaan stop!  Nodeloos om te se toe hy sloeg neer, en daar lê meneer.  Ek hoor die gedoente en draai om maar op daai oomblik druk ek ook my tweede stewel vas in die ski's en toe ek omdraai volg ek dieselfde roete as ons vriend.  Ek het net geweet hier kom moeilikheid want soos al wat ek sien is hoe kom sy bleskoppie al nader en nader en ek weet ek gaan daai bles kloof!   Ek maak ‘n blitsige besluit, ‘n berekende val is al uitweg en ek skuif so netjies langs hom in dat dit lyk of ons lepel lê.  Ek hoor net hoe sy vrou en Jan lag, en ons lag, soveel so dat hul sukkel om ons weer op ons voete te kry en ons is ook nie van veel hulp nie want snaaks bly snaaks.  

 

Die middag het ons toe ‘n les gehad in die basiese beginsels van hoe om te stop en beheer te hê van watter kant toe jy wil gaan.  Ag ek is seker dis die meeste wat ek so ernstig gebid het in my hele lewe.   Ek het angsaanvalle gehad wanneer my ski's net spoed optel en soos stokkies flapper hier voor my.  Ek kan net se op 50 het jy meer as een les nodig om beheer te hê.  Hier was dit beslis ‘n geval van ski's wat my beheer het en nie ek vir hulle nie. Dan moet jy nie eers praat van die verontwaardige ervare ski-ers toe ek so teen die helling afkom en hulle onder staan waar ek moet stop, maar weet; ek gaan nie stop nie!  Soos ek aankom skree ek net -oe!, -oe!, 0eee! met eskalerende desibels, en sloeg toe ek tussen hulle in.  Nie beindruk met my nie het hul my baie beskuldigend aangekyk en omgedraai.  Gelukkig kon ek nie Noorweegs verstaan nie!

 

Die vier van ons kom toe bymekaar en vergelyk notas.  Elkeen vertel toe met soveel gegiggel van hul ervarings, dat as ons gesigte nie soveel plooie gehad het nie sou jy sweer ons was ‘n groepie tieners.  Jan se hy het ook ‘n probleem gehad met die stoppery en het gereken hy gaan oor die pad tot in die kafee in ski en die gevolge daarvan sou nie mooi gewees het nie.  Ons vriend se hy het die heining des dinges geski en ‘n ou oom wat soos Heidi se Oupa gelyk het het dit kom regmaak.  Die Noorweers het geweet die Suid Afrikaners is op hul turf!

 

Dag drie en vier oefen ons met baie valle en laggery, maar geniet dit vreeslik.  Ek gaan lê ‘n paar keer diep in die sneeu, een dag half gevou om ‘n boom, begrawe in die sneeu met ski's wat regop uitsteek soos bakens. Toe ‘n jongman hulp aanbied sê ek maar half skaam : ‘Thank you but  ‘ I wait for my friend!'  Hy antwoord  toe, tong in die kies, dat hy dink nie dis ‘n goeie idée dat ek daar ‘n slapie vang nie.

 

Dag Vyf breek aan en die manne kondig aan dat hul nou so goed is dat hul nou nie meer op die ‘baby slopes' gaan ski nie, maar hulle gaan nou ‘n groen ‘slope' aandurf.  Hulle vertel dat hul toe na die ski karretjies toe loop, maar het nie eers ‘n idée hoe klim mens in of uit nie, maar konsentreer toe nou maar net op die inklim vir eers.  Hulle sit toe heel knus in die karretjie en kyk hoe hul al hoër en hoër bokant die boomtoppe styg.  Op ‘n punt sien Jan uit die hoek van sy oog  hoe die man by die toring vir hom wys hul moet die handvatsel van die karretjie oplig.  Jan, totaal onbewus van wat met hulle gaan gebeur as hy die handvatsel oplig, lig - en daar spoeg die sitplekke hulle uit soos twee klein voeltjies uit ‘n nes, teen ‘n helling wat jou asem wil wegslaan.  Hulle val soos vrot velle in die sneeu. Daar lê hul lam van die lag en ongeloof oor wat nou met hul gebeur het.  Die volgende oomblik hoor hul net plof plof soos ander ski-ers langs hul land en en teen die helling afswiep asof dit niks is nie. So sukkel hul op begin toe ski, maar dis toe teen so ‘n geweldige spoed dat die twee besluit as hul wil lewe moet hul liefs ‘n berekende val maak en die helling afloop of afkruip. 

 

Ons is vier gelukkige avonturiers wat huis toe gery het, dankbaar dat ons nie met gebreekte bene of arms huis toe hoef te gaan nie. Intussen he tons alweer nog ‘n ski vakansie saam agter die rug en beplan beslis ‘n volgende een in die wintermaande wat voorlê.

suzettenoorwee.gif
KLIK EN VERGROOT


GEBORG DEUR ONSDORP.COM

suzettepaintings1.jpg

SUZETTE SKILDER OOK. BESOEK GERUS HAAR WEBWERF 
KLIEK NET OP DIE PRENTJIES HIER BO