Floppies, Flaters en Waagmoed

TUISBLAD
Die Onskuld van die Eerste Keer
Bike Trip na HOLLAND
ROME
SKI TRIPPIE
Die Oproep
Wonderwerk
Die Nuus
TERUG NA ONSDORP.COM

Die Wonderwerk Vriendskap

suzettedatemavriendskap.jpg
Klik en vergroot

Ons kry daagliks waarskuwings oor hoe om die internet te gebruik en ons preek vir ons kinders wat hul mag en nie mag doen nie, maar dan kom ʼn dag wat mens nie ‘practice what you preach' nie en die gevolge dra.

Dit was die aand 29 Desember 2004.  Die Noordelike halfrond het winter wat beteken hier waar ons nou huis noem is dit gedurende Desember koud, nat en donker. Alhoewel die Kersliggies oorweldigend baie is en alles probeer opvrolik is nat, koud en donker in Desember vir ʼn Afrika kind erg, want dit was die tyd wat ons tot laat op die strande geloop het en die hitte van die son ingedrink het.

Ek was moeg van die lang donker aand en sommer net verveeld en besluit om kontakte te soek op Skype. Ek sê toe vir my anderhelfte ek gaan iemand soek van ongeveer ons ouderdom wat buite SA woon en vra hoekom bly hul daar.  Naïef ne?  Vir een of ander  rede besluit ek om onder NEL te soek.  En siedaar Nelle in Israel en hulle is ongeveer ons ouderdom, lyk dit toe op die oog af.  Ek bel ....  Die diep manstem aan die anderkant sê : ‘Goeienaand'  Ek val toe sommer met die deur in die huis:  ‘Ek is Suzette Datema en bly in Engeland, waarom bly jy in Israel ?' ‘Ek hoor die man sluk en haal diep asem ... en toe ʼn antwoord. ‘Oeps' dink ek, ek is nie goed met hierdie soort van ding nie dis ʼn vlatertjie!  Later sou ek hoor hoe ʼn uiters sensitiewe vraag was dit.  Die gesprek het vlot verloop en na ʼn uur het Jan die gesprek voortgesit.  Twee uur later is ons van Skype af en dit was ʼn heerlike kuier aand met vreemdelinge!!  So het ons mekaar elke dag begin Skype en nie lank nie of hulle kondig aan hul kom kuier in Engeland by ons.

Baie benoud, want ja Skype kuier en rêrig kuier is seker twee dinge.  So breek die dag aan dat die Nelle kom kuier.  Ek het skoolgehou en toe ek die aand van die skool afkom en die voordeur oopmaak groet ʼn prentjie my in die voorportaal wat my altyd sal bybly.  Vyf pare skoene wat wissel van ʼn nommer 8 tot ʼn nommer 15.  Vir my nommer vier en half voetjie en net oor die vyf voet lank is dit ʼn skok, want wat gaan ek binne die huisie aantref?  Het die reuse vir ons kom kuier?  Toe die ontmoeting, hulle is almal tussen ses voet en ses voet vier duim - ‘ek is ʼn dwergie ‘ is al wat deur my brein gaan.

Kennismaking uit die weg en toe begin ons kuier.  Ons kliek soos ʼn ‘house on fire' en dis elke oomblik ʼn plesier.  Ons geniet mekaar vreeslik en die kinders kuier net so lekker saam.  Ons klim op busse en eksploreer Londen met kameras wat heeltyd kliek.  Herinneringe word vasgelê en dit word ʼn onvergeetlike tien dae met vreemdelinge wat nou ons vriende is.

Heeltemal te gou was die kuier verby en met ʼn belofte dat ons hulle sal besoek  in Israel, wat ons ook gedoen het, maar dis ʼn ander storie,  is ons uitmekaar.

Die Skype oproep ʼn belegging in ʼn wonderwerk vriendskap.  Dis nou al 6 jaar later en ons het nog weekliks kontak en verwag weer ʼn besoek van die Nelle binnekort.



GEBORG DEUR ONSDORP.COM

suzettepaintings1.jpg

SUZETTE SKILDER OOK. BESOEK GERUS HAAR WEBWERF 
KLIEK NET OP DIE PRENTJIES HIER BO