Floppies, Flaters en Waagmoed

TUISBLAD
Die Onskuld van die Eerste Keer
Bike Trip na HOLLAND
ROME
SKI TRIPPIE
Die Oproep
Wonderwerk
Die Nuus
TERUG NA ONSDORP.COM

DIE NUUS

witlelie.jpg

 

Die oproep wat jy wens jy hoef nooit te hoor nie.  Jy sit die telefoon neer en dit wat jy gehoor het is nie ʼn werklikheid nie. Jy reageer nie emosioneel nie.  Dan neem logiese denke oor.  Jy gryp die rekenaar, Google moet die antwoord hê.  Jy lees en lees en lees, maar nie een van die antwoorde pas jou nie.  Dan die werklikheid.  Die feite is in swart en wit.  Daarna die dae se wag van dokters ondersoeke en biopsies en dan weer die feite wat jy nie wil hoor nie.  Jy wil nie die groot K woord hoor nie, maar dis wat jy hoor.

Dis my ma, hoe kan sy nie meer daar wees nie as sy al in die vyftig jaar daar was.  Hoe lank nog gaan ek haar hê?  Jou gedagtes maak jou mal, want jy hoor, maar jou brein prosesseer nie.  Daarna die familie se oproepe wat weer en weer bevestig en jy is in ʼn verre land.  Dit begin insink en dan die trane.  Dit kom net en hou nie op nie.  Tussendeur moet jy reëlings maak om daar te kom.  Jy weet nie wat moet jy eerste doen nie.  Die metodiese brein skop in.  Jy raak rustig en skryf die take in jou kop neer en soos jy dit afhandel tik jy dit af.  Soveel om aan te dink. outo mode.  Dan is dit nag, slaappille help.

Oproepe van Kanada, Duitsland, Nederland, Israel, New Zeeland stroom in, en skielik besef jy net, maar jy is nie alleen nie.  Daar is mense al daardeur en mens kom anderkant uit.  Siekte, dood, hartseer is deel van ons lewe, maar aan die anderkant van dié ou wêreld, is dit alles weg. 

Dan vertel my vriendin van Kanada vir my die mooiste gebeurtenis, en dit is vir my so ʼn troos.  Sy vertel haar pa het ʼn hartaanval gehad toe sy ʼn klein dogtertjie was. Sy sê toe vir hom wat gaan van haar word as hy doodgaan?  Hy het haar op sy skoot getel en vir haar gesê hoe weet hulle wie van hulle twee sal eerste gaan.  Maar die een wat eerste gaan moet vir die ander een ʼn wit blom stuur as dit goed is aan die anderkant.  Haar pa het jare nog geleef maar is toe  in ʼn motorongeluk oorlede toe sy al onderwys gegee het.  Kort na sy dood is sy toe op speelgrond diens en sy staan die dag op ʼn baie groot veld waar sy toesig hou.  Sy sien ʼn klein dogtertjie van ongeveer 6 jaar oor die veld aangehardloop kom.  Toe sy by haar kom druk sy ʼn wit lelie in haar hand en sê : "This is for you Miss!" Sy draai om en hardloop terug.

Sy staan verstom want sy ken die kleintjie glad nie en toe onthou sy haar pa se woorde dat die een wat eerste daar is en dit is goed, sal ʼn wit blom stuur vir die ander een.  Vrede. ʼn Hemelse vrede.

Ook se my vriendin vir my.  Sal jy asseblief vir jou ma vra om vir my ma, Chrissie groete te stuur as sy Hemel toe gaan.  Ek se dat ek sal, maar worstel, want hoe sal my ma weet wie is Chrissie, sy ken nie eers my vriendin nie. 

Voor ek my kom kry is dit tyd om in die vliegtuig te klim, na Afrika.  Dit voel alles onwerklik.  Hoe kan dit nou anders wees as ander kere en tog is dit als so anders. Wat lê voor? - ek weet nie, maar wat ek weet daar is ʼn Vader in die hemel en Hy het ʼn plan al het ek nie een nie. 

Soos die keer wat ek my ma moes oppas na haar hart operasie.  Na die maand se sorg en reëlings, land ek weer eens op die lughawe in Johannesburg.  Ek voel skielik asof tien treine oor my geloop het en prewel net so in my kop:  Vader sal U nie vandag vir my bederf nie, en my opgradeer na eerste klas nie. Ek vergeet van my versugting. Toe ek my instapkaart oorhandig, skoon vergeet van die skietgebedjie,  sê die dametjie, "Mrs Datema we upgraded you to first class."  Ek het haar aangekyk asof sy sê ons gaan maan toe vlieg, en toe gegiggel soos ʼn verliefde bakvissie en al wat ek kon uitkry was: "Really?" en "Thank you so much", oë na die hemel.

Op die vliegtuig worstel ek nog steeds oor die ‘Chrissie' probleem. En skielik in die oggendure val dit net in my kop en dis of ʼn lig opgaan en ek   weet  net hoe dit  kan werk.  Ek onthou die storie van Gerhard Dirks.  Gerhard Dirks was ʼn totale ongelowige en kon nie verstaan hoe daar ʼn  God kan wees wat  alles van alles en almal weet nie. 

Hy het ʼn fotografiese brein gehad. Toe hy gedurende die oorlog van Oos Europa na Wes Europa wou vlug het hy het al die kaarte van die ooste van Europa na die weste Europa bestudeer en weggegooi, en gedurende die oorlogstyd het hy na Wes Europa sonder kaarte gestap. Hy het die soldate geflous omdat hy elke dorp so goed ‘geken' het.  Gerhard Dirks het gedurende daardie oorlogjare ʼn deurbraak vir sy probleem gekry.  Hy het besef hoe die Vader moet werk, dat Hy die mens soos ʼn lêer kan oproep en stoor.  Hy het toe nie ʼn papier om hierdie konsep neer te skryf nie, en het dit toe op die strand gaan uitteken.  Toe hy ʼn stuk papier kry het hy dit in vier verdeel en bewaar, en na die oorlog was dit basis waarop die eerste  IBM rekenaar ontwikkel is.  Gerhard Dirks het op grond van hierdie konsep ʼn gelowige geword.

Nou dis hoe die lig vir my opgegaan het;  ek dink dit gaan werk soos Google in die Hemel  (net beter).  In plaas van iemand se naam te tik gaan ons dink aan iemand en dan gaan die persoon (soos ʼn lêer op Google) opkom en siedaar en dit gaan die presiese lêer wees!!  Ek is opgewonde baie opgewonde want ek gaan dit vir my ma vertel!



GEBORG DEUR ONSDORP.COM

suzettepaintings1.jpg

SUZETTE SKILDER OOK. BESOEK GERUS HAAR WEBWERF 
KLIEK NET OP DIE PRENTJIES HIER BO