DIE STORM
DIE SKILDERDOEK:
Grys tinte
in die boonste hoek.
Dan skeur
die doek;
in skril
en skewe kontras
word ‘n
wit lyn ingekerf
en die son
word toegeverf.
DIE NATUUR:
Wolke bondel
saam en skyn laag
in sagter
lig. Die reën maak alles vaag.
Takke swaai
en swenk.
Die geur
van vars rooi grond
draai oral
rond.
DIE PARTITUUR:
Pianissimo
– piano.
Fortissimo
- Forte!
Harder,
en harder dawer keteltromme
om met simbaalbomme
en ander
instumentkartetse te ontplof.
LEGATO –
Mineurvioolklank
vir die wind.
Vaal-groen
vingers bid.
Strome murmel
in die geute en
op die dak,
‘n ritmiese getrom
wat loop
tot in die reënwaterdrom.
MODERATO-
In G majeur
– ‘n solo
eers ‘n
enkele piccolo,
dan kom
ander blasers by.
Helder klanke
word in blou aangebring.
Koperblasers
blits ‘n sonstraalstring.
HY VERF:
Wit wasem-hitte
teen die ruite.
Grys word
groen en ander kleure buite.
Sy reenboogkleur
in toonleergeur,
Dit drup
diamante. ‘n Harp neem oor.
Dan stippel
hy in, die voëltjiekoor.
SLOT
Die simfonie
groei,
dit jubel
en streel
met kinders
en honde wat speel
Tot dit
eindelik, saggies in fluit
met ‘n
voëlgebed sluit.
NASPEL:
Warm en
soet is die geur van die grond…
‘n
Laaste druppel rol tot dit stort
oor die
kant van ‘n kappertjieblaar.
Vir ‘n
oomblik laat God dit blink
voor Hy
die spieëlstukkies skink.
BRIEF AAN
DIE KERKRAAD:
Geagte meneer
die voorsitter,
oor een
saak voel ek bitter,
daarom stel
ek nou aan u voor,
met dìe
foto: Ons wonderlike koor!
Heel voor,
( opgestop en opgekrop),Sally Heysteck,
barstens
van trots op haar stem en haar plek.
Heel agter
rank ons belangrike menere;
die tênners
en ons basgewere.
Ons leier,
met haar ysere blik, reg senter,
is mevrou
dominees Venter,
met lippies
dun getrek, nekkie lank gestrek,
hou elkeen
met haar oë op hul plek.
Meneer,
ons edele doel is om saam mooi te sing.
(Behalwe
Steve, hy doen maar sy eie ding,
Carl en
Bertie is gedurig oor iets beswaard,
en Johan
dokter almal met potjies boereraat.
Maar Voorsitter,
die tênners ten spyt,
‘n
sopraan was ons amper kwyt.
Ons koster
is die probleem,
sy een waterglasie
die aanstootsteen.
Nou eendag
het een sopraan
amper dramaties
heengegaan;
vir ‘n
hoge noot het sy gemik,
en toe,
meneer, verstik!
Die glasie
was lankal leeg,
o liewe
aardse deug!
Sy gee een
laaste sug,
toe klap
Miems haar op die rug,
en soos
‘n voël in vlug,
trek sy
sierlik deur die lug.
Gelukkig
kon ons haar stop
voor sy
op die preekstoel drop.
Maar meestal,
Voorsitter-meneer,
kan
‘n mens die groep waardeer.
Dis net,
die sopraan se kys laat mens dink,
“Danger
Pay” behoort diè saak te beklink.
Laat kom
die tjek maar gou,
want ons
senuwees is regtig rou.
En dalkies
as ons hard probeer
sing ons
Sondag in die kerk, ‘n keer.
ALTA SKINNER
DIE SEKRETARESSE
HANTIE
DREYER