Lus vir ‘n bottel of twee
NUWE WYN?
Die meeste van julle weet dat die Here Christo ook as skrywer gebruik
in mense se lewens. En dan spesifiek as iemand wat vanuit ‘n tipies Gereformeerde teologiese agtergrond uit kom, wat weet hoe om die wonderlike vernuwende waarhede
wat God tans aan Sy liggaam wêreldwyd bedien kan verwoord in ‘n taal wat mense maklik kan verstaan en mee kan assosieer.
Kom loer saam met my in na watter boeke en ander manuskripte hy reeds
geskryf het.
Stel dan vir jou ‘n eie pakket na smaak en behoefte saam.
Hier is 11 van hierdie boeke en manuskripte om van te kies.
Die proses is baie eenvoudig:
- As
die boek nog beskikbaar is, bestel dit via epos, betaal die geld in ons bankrekening in, en dan stuur ek dit vir jou.
- As
die manuskrip nog nie gepubliseer is as 'n boek nie, kan ek dit vir jou of as 'n elektroniese dokument op CD vir jou stuur,
of dit vir jou fotostateer, bind en so vir jou stuur.
- Laat weet my via epos wat jou behoefte is, en dan laat ek jou weet wat die finale kostes (posgeld ingesluit) is; betaal die verskuldigde bedrag in my rekening hier onder in; en dan stuur ek dit vir
jou.
Ek weet dat die
meeste van julle - soos ek - 'n boek van die een of ander aard in jou hand verkies as om 'n lywige dokument op die rekenaar
te sit en lees. Daarom wil ek voorstel dat, eerder as wat ek vir jou die dokument
vir jou moet fotostateer en laat bind, kan jy dit natuurlik maklik sommer self daar by jou laat doen en so al die posgeld
spaar. Maar vir diegene van julle wat ver van sulke fasiliteite is, sal ek dit
graag doen en aanstuur (ek sal egter vir jou dan laat weet wat dit kos).
Vir diegene van
julle wat graag meer as een dokument op ‘n CD verkies, doen ek dit graag. Om
die prys te bepaald, kos die klompie dokumente net wat dit as elektroniese dokumente
jou sou gekos het, plus R15 ekstra vir die CD waarop dit ingebrand moet word.
Twee van die onderstaande
boeke is reeds gepubliseer en is as gedrukte boeke beskikbaar, naamlik WAARHEEN MET DIE NUWE WYN, en ‘N DUNAMIS ERVARING.
WAARHEEN MET DIE
NUWE WYN het pas in sy hersiene vorm nuut verskyn en is beskikbaar vir 'n R100.00 plus posgeld. Ek het nog enkele eksemplare van ‘N DUNAMIS ERVARING oor
en hulle is vir R30.00 plus posgeld beskikbaar.
Hier volg ‘n
kort beskrywing van wat beskikbaar is:
1. WAARHEEN MET DIE NUWE WYN
WAARHEEN
MET DIE NUWE WYN is ‘n baie relevante Afrikaanse boek oor die godsdienstige verskuiwings wat tans in duisende Afrikaanse
gelowiges se harte en lewens plaasvind.
Niemand
praat eintlik daaroor nie, want hierdie gelowiges verdwyn uit die tradisionele Afrikaanse kerke om êrens vir hulleself in
‘n meer Charismatiese of Vernuwingsgemeente ‘n plek te vind.
Maar
tye het verander en tans word die groot tradisionele Afrikaanse gemeentes uitgedaag om meer effektief hierdie groterwordende
groep gelowiges te hanteer.
Dwarsdeur
die wêreld is die Heilige Gees besig om op ‘n nuwe wyse in en rondom die Liggaam van Christus te werk. Ook hier tussen ons in Suid-Afrika beleef ons dit tans. In
die taal van Jesus: die Here is besig om deur Sy Gees “nuwe wyn”
aan mense te bedien. Hierdie “nuwe wyn” is bekende Bybelse waarhede
wat deur die jare in bepaalde teologiese tradisies verwaarloos of verdraai is.
WAARHEEN
MET DIE NUWE WYN is bedoel as ‘n liefdevolle, maar tog kritiese gesprek met die Nederduitse Gereformeerde Kerk-familie
in Suid-Afrika.
Vanuit
sy agtergrond van 14 jaar se bediening as predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk in twee gemeentes, bedien Christo
Nel profeties Skrifwaarhede wat in sy eie lewe as Gereformeerde vars ingesny het. En
daag hy weer die Gereformeerde wêreld uit om terug te reformeer na wat die Skrif werklik sê.
Die
soort vrae wat hy aan die orde stel, is die volgende:
- Wie is werklik Kerk van Jesus as die doop ook aan babas bedien word?
- Het ons nie die Heilige Gees van Sy eer beroof en bedroef deur ons liturgie
en bedieningsmetodes in die Gereformeerde wêreld nie?
- Is die salwing of doping met die Gees ‘n Bybelse waarheid?
- Is daar werklik ruimte vir die volle spektrum gawes van die Heilige Gees
in die erediens en res van die bediening van die gemeente?
- Hoe lei ‘n mens gelowiges om werklik mekaar met vrymoedigheid te
bedien met die volle spektrum Geestesgawes?
- Is die sel-gemeentestruktuur nie ‘n meer effektiewe struktuur vir
die bediening van gelowiges en die gemeenskap nie?
- Hoe hoor ek die stem van die Here in my lewe?
Die boek van 288
bladsye is deur die skrywer self uitgegee en is gedruk deur HANDISA MEDIA in Bloemfontein.
2. ‘N DUNAMIS-ERVARING
In
hierdie boek vind jy ‘n hulpmiddel om ‘n tradisionele gemeente in te lei in ‘n meer vernuwende denke oor
die Heilige Gees en Sy gawes. In hierdie boekie van 67 bladsye sal jy materiaal
vind wat werklik in geen ander boek oor die Heilige Gees wat tans beskikbaar is, gevind kan word nie. En dan boonop in ‘n taal wat vir die meeste tradisionele gelowiges vanuit veral die Gereformeerde
en Protestantse wêreld, toeganklik en verstaanbaar is.
3. HEILIGE GEES, OPENBAAR USELF AAN ONS!
As ek terugkyk
oor die pad van vernuwing wat die Here met my geloop het sedert 1992, was die gebeure wat my lewe die mees ingrypende geraak
het, 'n herontdekking van wat die Skrif oor die Heilige Gees en Sy gawe-bediening sê.
Ek kan dit nog
so goed onthou hoe ek beleef het dat die Here wil hê dat ek 'n studie moet maak oor elke teksgedeelte in die Ou en Nuwe Testament
wat direk of indirek verwys na die Heilige Gees en Sy werk. En dit wat nou hier voor jou lê, is die vrug daarvan.
In hierdie boekie
van 69 bladsye hanteer Christo elke vers in die Bybel, in die Ou en Nuwe Testament, waarin daar direk na die Heilige Gees
verwys word. En hy skryf ‘n kort hoofstuk oor wat die Bybel leer oor hoe
‘n mens die salwing van die Heilige Gees ontvang.
4. NUWE WYNSAKKE
Kyk
en luister ‘n mens tans na wat die Here dwarsoor die wêreld aan die doen is binne Sy liggaam, is dit duidelik dat Hy
besig is om ons totale prentjie van die Liggaam en gemeente-wees te verander. In
so ‘n mate dat dit radikaal verskil van die huidige prentjie van “verskillende kerke of denominasies” rondom
ons. Christo skryf soos volg hieroor in sy inleiding: “God is besig
om gelowiges wêreldwyd te konfronteer met ‘n nuwe wyse van Christen-wees, ‘n nuwe wyse van geloofsgemeenskap en
Liggaam-van-Jesus-in-die-wêreld-wees, sodat die wêreld kan weet God lewe.
Dit is in wese
‘n wêreldwye paradigma-verskuiwing, en diepgaande reformasie, wat hier rondom ons plaasvind. Oral hoor jy Christene teenoor mekaar bely: Die manier hoe
ons “kerk” is, is tans 'n struikelblok in God se besig-wees met mense.
As ek terugdink
oor die pad wat die Here met my hierin geloop het sedert die aanvang van my teologiese studies in 1975, in my bediening as
predikant in die Nederduits Gereformeerde Kerk tot in 1993, maar veral gedurende my bediening in die Vernuwing tot en met
nou, weet ek: God het 'n reuse verandering in my eie nadenke hieroor bewerk. Ek besef maar te goed dat my "sekerhede" nou hieroor ook maar net voorlopig is. God is nog steeds besig om nuwe wyn-waarhede oor Sy Liggaam, en die werking daarvan,
aan Sy kinders wêreldwyd te openbaar.
Tog besef ek dat
dit so lewensnoodsaaklik is dat 'n gesprek hieroor aan die gang moet kom in die Afrikaanse gemeenskap, dat ek maar waag om
my voorlopige nadenke solank op die tafel te sit om jou te stimuleer tot verdere nadenke en gebed hieroor.”
NUWE WYNSAKKE is ‘n boekie van 58 bladsye wat vir die Christenleier ‘n absolute noodsaaklikheid
is om te lees. Veral as jy reeds Wolfgang Simson se boek HOUSES CAN CHANGE THE
WORLD gelees het.
5. JESUS, MEER AS NET NOG 'N MENS
Die figuur en
verhale rondom Jesus is weer in die spervuur. Die van julle wat die koerante
die afgelope tyd hier in die SA gevolg het, weet onder andere van hoe sekere teoloë gaan sit het om te bepaal watter verhale
rondom die persoon en lewe van Jesus ‘n rasionale mens met “gemak kan aanvaar” en watter nie. En die “geleerdes” het toe uiteindelik besluit dat net sowat 20% die “toets” slaag! Asof die waarheid van die Skrifverhale nou betroubaar getoets kan word deur wat ‘n
gewone mens met sy plat koppie kan aanvaar en verstaan!
Vir die meeste
gelowiges is hierdie soort gesprekke redelik ontstellend omdat die fondasie van wat hulle glo as Christen, en waarop hulle
hulle lewens bou, hier op die spel is. Daarom is dit belangrik om mekaar toe
te rus om hierdie soort gesprekke te kan evalueer en midde dit alles ‘n gebalanseerde getuienis te kan lewer oor wat
jy oor Jesus glo. Paulus sê immers daar in Kol 4:5,6:
Tree
met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid. Wat julle sê,
moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.
In
hierdie boekie van 8 hoofstukke en 31 bladsye bely Christo aan die hand van die Skrif oor wat hy oor Jesus as volkome mens,
maar ook volkome God, bely en glo.
6. MEER AS NET NOG 'N GODSDIENS
Christenwees is
meer as bloot om net godsdienstig te wees.
In hierdie boek
van 32 bladsye gesels Christo met jou oor jou erfenis as verbondsmens in terme van die nuwe testament of nuwe verbond wat
ons s’n is in Christus Jesus. Maar dan nie met die gewone Bybelse terme
wat soms gebruik word nie, maar werklik as iemand wat uitgedaag voel om te probeer om dinge nuut oor te sê in ‘n taal
wat die meeste van ons elke dag gebruik.
‘n Ander
rede waarom hy “nuut” probeer praat, is sodat jy dit wat hy sê, makliker vir iemand daar by die werk kan oorvertel
sonder dat hy dalk dink jy kom van Mars af.
Die titels van die
hoofstukke is soos volg:
Hoofstuk 1 - In die
Prokureur se kantoor
Hoofstuk 2 - Die hart
van die nuwe verbond
Hoofstuk 3 - Die kruis
van Jesus het die verskil gemaak.
Hoofstuk 4 - Vat 'n
slukkie nuwe wyn
Hoofstuk 5 - God het
self in ons kom woon.
Hoofstuk 6 - Ek erf
'n volkome verlossing
Hoofstuk 7 - Verlos
van my verlede
Hoofstuk 8 - Velossing
is die werk van Gos alleen
Hoofstuk 9 - 'n Heilige
vrees
Hoofstuk 10 - Laat
die gees van God julle lei
Hoofstuk 11 - Jy erf
om ander te dien
Hierdie boek is
ook in Engels beskikbaar.
7. DIE VERBOND
VAN GOD
In
hierdie boek van 41 bladsye vind jy ‘n kritiese gesprek oor wat die Skrif oor die verhouding van die verbond en die
doop te sê het. Baie keer word Christene wat oortuig is van die doop van gelowiges
aangekla vanuit Gereformeerde kringe in die besonder dat hulle nie genoeg erns met die verbond van God maak nie. Christo bied in hierdie boek genoeg om die ernstige soeker na wat die Bybel werklik oor die doop te sê
het, met iets anders as die normale te bedien.
8. 'N NUWE GESLAG BEDIENAARS
Dwarsoor die wêreld
is die Here op ten minste twee maniere besig met mense.
·
Die eerste druppels van die “laat reëns” is besig om te val. In
lande soos Kommunistiese China, Suid Amerika en Noord-Afrika is daar werklik herlewing in die volle sin van die woord aan
die gang vir bykans drie jaar reeds.
·
Maar dan is die Here ook op ‘n baie besondere wyse met Sy Kerk wêreldwyd besig.
Dit is asof die Here werklik besig is om Sy bruid te heilig en gereed te maak vir die oestyd wat voor die deur lê. Immers, as hierdie herlewing werklik vir die eerste keer in die geskiedenis ‘n
volskaalse wêreldwye herlewing word, moet die Kerk gereed wees om die Goeie Nuus van die Evangelie met woord en lewe uit te
dra, maar ook gereed wees om pasgebore babas in die geloof te ontvang en te begelei in hulle verdere groei.
Dit maak die tyd
wat ons tans beleef ‘n tyd van voorbereiding vir die Kerk van Jesus. En
dus ook ‘n tyd van selfondersoek. Daarom is dit so noodsaaklik dat Christene
werklik in die lig van God se Woord geleentheid gebied word om hulle eie harte, motiewe en lewenswaardes te ondersoek.
Die inhoud van
hierdie boek met sy 80 bladsye bied jou en andere die geleentheid daartoe. Wat
die boek verder so bruikbaar maak is dat daar ook ‘n bylaag by gegee word
wat gebruik kan word vir ‘n selgroep-bespreking en vir persoonlike stil-word-tye met God om elkeen van die hoofstukke
se belangrikste lering vas te maak in gelowiges se lewens.
Van die temas wat aangeraak
word is:
9 AAN SY LIEFDE IS DAAR GEEN EINDE NIE
Ek het met 'n
skok ontdek dat ek worstel om God te vertrou omdat ek worstel om te glo dat Hy my onvoorwaardelik en aanmekaar kan liefhê
terwyl ek is wat ek is en doen wat ek doen.
Ek weet dit is
deels omdat ek uit 'n tipiese Nederduitse Gereformeerde kerklike agtergrond kom. Ons
het daar as't ware saam met moedersmelk ingekry dat ons sondaars is en so sal ons bly!
En dan het ons nog boonop aanmekaar die wet vir mekaar bly lees om dit net nog meer in ons in te hamer.
Maar wat ons nie
besef het nie, is hoe ons met ons tipiese wettisisme met sy baie reëls vir 'n normale Christelike lewe, en klem op God se
oordeel, 'n prentjie van God gefikseer het in mense se lewens. En die prentjie
wat ons so fikseer in mense se lewens is die van ‘n kwaai, altyd-straffende God wat daarop uit is om ons êrens goed
te looi oor ons gedurige rebellie en ongehoorsaamheid.
Dit was eers toe
God self deur Sy Gees vir my die ware intensies van Sy hart begin wys het, wat iets van die alles-oordekkende aard en omvang
van Sy liefde vir my, hier iets in my binneste laat gebeur het.
As jy my toelaat,
sal ek graag met jou so 'n entjie op hierdie pad, wat die Here met my geloop het, wil saam stap.
‘n Opsomming
van die titels van 11 hoofstukke van hierdie boek met sy 36 bladsye sal jou ‘n goeie idee gee oor wat Christo alles
hier hanteer:
Hoofstuk 1 –
Die merkwaardige genade van God
Hoofstuk 2 –
Die krag van God se liefde en empatie
Hoofstuk 3 –
Die goedheid van God
Hoofstuk 4 – Die roeping van die ekklesia
Hoofstuk 5 –
Die krag van aanvaarding
Hoofstuk 6 – Liefde is die sleutel wat alles verander
Hoofstuk 7 –
Die regverdige God is eintlik onregverdig teenoor Homself
Hoofstuk 8 –
Neem julle posisies in as heersers
Hoofstuk 9 –
God oordeel my nie meer nie
Hoofstuk 10 –
Marineer ons in U liefde, Here!
Hoofstuk 11 –
Jesus, Vriend van sondaars
10. GEBED IS SOVEEL MEER
Hierdie boekie
van 31 bladsye is een van die vele reekse boodskappe wat Christo in Hermanus, maar ook via internet aan duisende gelowiges
wêreldwyd bedien het.
Die titels van
die hoofstukke in hierdie boek is soos volg:
Deel 1 –
Gebed is vra, soek en klop
Deel 2 – Om in die Naam van Jesus op te tree
Deel 3 –
Dra mekaar se laste en beskerm mekaar
Deel 4 –
Die Heilige Gees bid saam met ons
Deel 5 –
Wanneer ons bid, word dinge gebore
Deel 6 –
Gebed is soms ‘n gestoei
Deel 7 – Gebed trek die sluise oop in mense se lewens
Deel 8 –
Niks keer God se lig nie
Deel 9 –
Aksies en woorde in Jesus se Naam laat dinge gebeur
Deel 10 –
Ons verander as ons bid
Deel 11 –
Ons word gesoute gelowiges in die vuur
Deel 12 –
Al ooit gevoel asof God jou in die grot vergeet het!
Deel 13 –
Deur die donker tot in die lig
Deel 14 –
Alles ter voorbereiding vir God se seisoen
Hierdie boek is
ook in Engels beskikbaar.
11. FINANSIËLE VRYHEID IN CHRISTUS
In hierdie boek
van 44 bladsye probeer Christo om rekenskap te gee oor wat die Bybel rondom geld en die hantering van geld vir ‘n Christen
te sê het. Daarom hanteer hy vrae soos:
- Wie
is Mammon?
- Die
agt simptome as mammon ‘n houvas in jou lewe het
- Wat
is die Bybelse definisie vir voorspoed?
- Wat
bedoel die Bybel met “skatte in die hemel”?
- Die
gee van tiendes
- Saai
en oes
- Brood
om elke dag te eet