“WEES ‘N NEHEMIA WAT DIE MURE SAL HERSTEL TER WILLE VAN
DIE EENHEID IN MY LIGGAAM …”
Luk
5:37 en 38 lui: “En niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie. As hy dit sou doen, sal die nuwe
wyn die velsakke laat oopbars. Dan is die wyn vermors en die sakke daarmee heen. Nee,
nuwe wyn moet in nuwe velsakke gegooi word.”
Die
Here het ‘n wonderlike pad met my in voltydse bediening binne Sy Liggaam gelowiges op aarde gestap. Ek
is teologies goed onderlê met sowat 10 jaar se formele teologiese studies agter die blad waarin ek ‘n BA (Admissie),
B Th en ‘n M Div-graad verwerf het. Daarna het Hy my sedert 1979 vir 25 jaar reeds voltyds as geestelike
leier, pastor en leraar gebruik: vir 14 jaar binne die Nederduitse Gereformeerde Kerk, en sedert 1993 om vernuwing te
fasiliteer veral onder Afrikaanssprekende gelowiges wat hoofsaaklik uit ‘n tipies Gereformeerde agtergrond uit kom.
Ek is nie ‘n gewone geestelike
leier wat net ‘n pastor, herder en leraar van ‘n gemeente kan wees nie. Ek het dit vir jare
gedoen en kan dit goed doen, maar ek weet ‘n nuwe seisoen lê tans vir my voor in die bediening. Die
Here gebruik my om op ‘n baie kreatiewe manier nuwe insigte in gewoon alledaagse taal te bedien aan gelowiges wat, as
hulle dit glo en aanvaar, die geneigdheid het om die status quo uit te daag.
Dit is nou maar eenmaal wat “nuwe wyn” doen. Dit pas nie meer gemaklik in “ou
wynsakke” nie. Dit daag ons uit om die Here te vertrou vir “nuwe wynsakke.”
Die verskeurdheid in die Liggaam van Jesus, soos ons elke dag daarmee
gekonfronteer word in die verskillende “kerke” en denominasies, elkeen met sy eie naam en eie leer, het meer en
meer gebots met wat ek oortuig is God se hart is. Jesus het immers self gebid daar in Joh 17:21-23: “Ek bid dat hulle almal een mag wees,
net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.
Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is:
Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle
liefhet net soos U My liefhet.”
Hierdie vers
beskryf die hart van die spesifieke bediening wat ek glo ek nou het binne die totale Liggaam van Jesus Christus, in al sy
vorme soos ons dit tans vind in al die denominasies/kerke rondom ons, asook in sy informele bestaanwyses in huisgroepe en
onafhanklike gemeentes.
Ek glo ook dat my fokus nog steeds hoofsaaklik Afrikaanssprekende mense sal wees wat kom uit die tipiese
agtergrond wat ek ook het. Ek glo God kan Sy Liggaam soveel meer effektief in mekaar se lewens en in die gemeenskap gebruik as ons net sal ontdek
dat ons almal deel is van Sy een Liggaam op aarde. Natuurlik is daar plek vir verskillende gemeentes en
verskillende bedieninge, maar ons is almal een in Christus en deel van een geloofsliggaam op aarde. Natuurlik
is daar nog steeds ruimte vir verskille selfs, want dit sal altyd daar wees as jy met mense werk. Maar
tog is ons een van hart en een van gees, en almal deel van een groot familie op aarde, as ons Christus Jesus as Verlosser
en Here bely. As verskillende gemeentes kan leer
om oor al die mensgemaakte mure heen hande te vat en in sinergie begin om die naby-gemeenskap om hulle en die wyer wêreld
te bedien met al die bronne en mense tot hulle beskikking, sal dit so ‘n getuienis teenoor die res van die gemeenskap
wees en sal ons soveel meer gedoen kry van ons roeping om dissipels te maak onder al die nasies!
Vir jare het ons in ons verskeurdheid soveel energie en geld gemors
op die duplisering van bedienings en onderlinge kompetisie. Maar ek glo dit is God se hart om dit te verander.
Ja, dat die Liggaam van Jesus weer opnuut moet ontdek dat alle wedergebore gelowiges in Jesus deel is van die een Liggaam
van Jesus, al behoort ons elkeen aan ‘n eie lokale geloofsfamilie of gemeente êrens.
Binne hierdie nuutgevonde eenheid gaan ons weer ontdek Mat 28:19
en 20 is werklik ons basiese opdrag as Jesus vir ons sê: “Gaan dan na al die nasies toe
en maak die mense my dissipels, doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles
te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld."
En dat Ef 4:11 tot 16 vir ons verder verduidelik hoe dit gaan gebeur
in die gemeentes as daar die volgende staan: “En dít is die "gawes" wat Hy "gegee
het": apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges
toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. So sal ons uiteindelik almal
kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk,
soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. Dan sal ons nie meer kinders
wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars
ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. Nee, ons sal in liefde by die
waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele
liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen
van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.”
Met al die moderne kommunikasiemiddele wat ons vandag tot ons beskikking het, is dit moontlik om via internet en
satelliet, televisie, radio, video, musiek, boeke, tydskrifte en koerante ‘n groter en selfs wêreldwye impak op
mense te hê. Dit is letterlik vandag moontlik om van een sentrale opleidingsentrum - sonder al die
onnodige vervoerkostes van die verlede – letterlik die evangelie aan gelowiges en ongelowiges in enige plek in die wêreld
te verkondig, dissipels en leiers toe te rus en op te lei, visie oor te dra, verandering te fasiliteer en dies meer.
Breëband-satelliet maak dit vandag moontlik om via klank, beeld en interaktiewe opleidingsmateriaal 24 uur 7 dae
‘n week opleiding in enige wêrelddeel te doen van een sentrale plek af. Dit is my hart vir hierdie nuwe seisoen in my bediening
in diens van die koms van God se koninkryk op aarde.
My spesifieke
opdrag is van tweërlei aard:
1. Die netwerk en fasilitering van meer effektiewe
eenheidsprojekte in die Liggaam van Jesus tussen die verskillende gemeentes of geloofsfamilies met die oog op die Koms van
God se koninkryk hier tussen ons. My fokus hier is veral gerig op die geestelike leierskap van die verskillende
gemeentes en spesifiek om paradigma-verandering onder hulle te fasiliteer
2. Die kreatiewe
ontwerp en verpakking van effektiewe toerustings en verkondigingsmateriaal wat elke gelowige in elke geloofsgemeenskap, waar
ook al op aarde, beter kan toerus vir hulle taak as dissipels van Jesus Christus in hulle eie omgewing en wyer, en die gebruik
van die moderne digitale hulpmiddels en massamedia daarvoor.
Soos ek gesê
het staan ek reeds sedert 1979 voltyds in Jesus se diens as deel van Sy wêreldwye toerustingspan in St Liggaam.
Ek het my universitêre opleiding aan 3 Universiteite in ons land gehad en intussen nog 2 doktorsgrade ook deur
God se genade by gekry. My praktiese bedieningservaring bestaan uit 14 jaar se bediening as predikant in
die Nederduitse Gereformeerde Kerk, en sedert 1993 in Bybelse vernuwing in die wyer liggaam van
Jesus, waartydens die Here my gebruik het om 2 nuwe gemeentes te plant wat tans nog baie effektief Afrikaanssprekende gelowiges
en hulle lokale gemeenskappe bedien. Ek het ook reeds twee boeke gepubliseer en 18 ander manuskripte voorberei wat gereed-lê vir publikasies soos
en wanneer die Here dit wil.
Van 1997 tot
2004 het die Here my vanuit Hermanus gebruik om vernuwing te bedien in verskillende geloofgemeenskappe in meer as 31 dorpe
in die Wes-, Suid- en Noord-Kaap, en kon ek in hierdie tyd vernuwing fasiliteer onder geestelike leiers van alle dele
van die Liggaam van Jesus Christus. Sedert 2001 het die Here vir my die voorreg gegee om via internet meer as 4000 gelowiges wêreldwyd op ‘n
weeklikse basis met die Woord en ander relevante geestelike toerustingsmateriaal te kon bedien.
Die Here het my ook ge-netwerk met massamedia-instansies soos GodTV,
wat na meer as 88 lande wêreldwyd gratis 24 uur 7 dae ‘n week uitsaai. Maar ook ge-netwerk
met uiters begaafde kunstenaars, skrywers, video en digitale bedryfseenhede, Crown Financial Ministries, University of the
Family, die spesialis geestelike musiekskool en –groep, Joyful Noise Ministries in Stellenbosch, en vele ander individue
en bedieninge.
In 2003-2004 4 het die
Here my en my vrou, Hetta, oortuig dat Hy 'n nuwe plan het vir ons lewens vir ‘n nuwe seisoen.
Dit was vir ons baie spesiaal toe Hy in Desember 2003 Sy plan vir ons lewens deur ‘n profetiese woord kom bevestig
het. Ek gee net die hooftrekke daarvan hier weer:
‘N PROFETIESE
WOORD TER BEVESTIGING
“Christo, jy beweeg in die Liggaam in 'n onsekere posisie,
‘n posisie sonder vaste fondamente; on-geankerd en met baie beweging. Soms het jy die begeerte dat
jy tog net geanker kan raak en nie meer in die onsekerheid hoef te beweeg nie. Maar dit was juis die leerskool
wat jy moes deurgaan om te sien en te verstaan wat die groot "prent" is.
Daar kom nou 'n tweede fase waar dit wat Ek jou geleer en gewys het, prakties toegepas
gaan word. Ek gaan nou deure oopmaak waar jy gedink het dat dit onmoontlik was om in te gaan sodat My Woord
daar lewe kan bring. Jy sal by 'n punt kom waar jy soveel lyne na gemeentes toe het wat jy aanmekaar moet
knoop ...
Die Here wys my die beeld van 'n man wat 'n klomp toue uit verskillende rigtings na mekaar toe trek en dan knoop.
Die Here gebruik die woord "netwerk” om dit te beskryf wat jy nou moet doen.
Ek het jou geroep om die muur te herbou binne die Liggaam van Christus,
om die Eenheid te herstel tussen die verskillende denominasies (sien Nehemia I tot 3). Jou primêre
taak is nie om die tempel te herbou nie (= dit is om die intimiteit te herstel tussen God en Sy mense). Dit
is die werk van ander lede in die vyfvoudige bediening in die verskillende dele (in die denominasies). Jou
taak is om die gapings in die Liggaam te herstel. Die muur lê aan flarde en die vyand beweeg loshande
daardeur soos hy wil. Jou fokus is die eenheid in die Liggaam wat soos ‘n sterk muur om 'n stad is.
Voor die muur herbou kan
word, moes jy eers die inspeksie gedoen het om te sien waar die muur stukkend is en moes jy die oorsaak van die vervalling
vasgestel het.
Die herbou-fase gaan nou
begin. Jou
verantwoordelikheid is om in absolute heiligheid voor My te leef. Jy moet jou tempel rein en heilig hou
sodat satan nie 'n vashou-kans kan kry of jou kan aankla voor My nie.”
Ander
dinge wat die Here verder beklemtoon het, was:
Grondgebied van satan is ter sprake by die verval van die eenheid binne die liggaam
Geestelike oorlogvoering gaan deel wees van die strategie. Bv. identifiseer eers die grondgebied;
maak die sterk man se hande vas en neem dit terug van hom. "Ek gaan jou wysheid en insig gee om die
grondgebied terug te neem," sê die Here.
Die eenheid binne
elke gemeente sal die maatstaf wees van hoe hulle as deel van die muur lyk - herstel eers die eenheid binne, voor hulle deel
kan vorm van die groot muur
Teksgedeeltes wat die Here uitgelig het
was:
- Neh.
1:3 – “The walls of Jerusalem has been torn down and the gates have been burned”
- Neh. 1:4 – “I sat down and wept” – “So het jy met groot hartseer en empatie kennis
geneem van dit wat jy oral in Wes-, Suid en Noord-Kaap beleef het in die Liggaam”.
- Neh. 2:12 – “I had not told anyone about the plans God had put in my heart for Jerusalem”. –
“Jy was deel van God se beplanning, al het jy nie alles verstaan nie. Maar nou het God Sy plan aan
jou geopenbaar”.
- Neh. 2:13 –
“1 went out to inspect the broken walls and burned gates” – “Vir 'n tydperk moes jy in die Liggaam
beweeg sodat die Here jou kon wys wat binne Sy Liggaam aan die gang is en waar die verval is”.
- Neh. 2:17 – “Let us rebuild the wall of Jerusalem” – “Jy het die opdrag om die mense
“te rally” om eenheid (die muur) te herstel”.
- Neh. 2:20 – “The God of heaven will help us succeed” – “Dit is ook God se belofte aan
jou! Hy het lankal besluit wat Hy gaan doen en het so met die tyd alles gereed gemaak: deur omstandighede
en mense in plek te sit; sodat Sy wil tot uitvoer kan kom”.
- Neh. 3 – “Dit is 'n beskrywing van die diversiteit van die mense (verskillende gemeentes/ geloofsfamilies)
wat gehelp het om die eenheid (die muur) te herstel. Voor God kan aangaan met Sy groter plan binne die
Liggaam (herlewing), moes die muur (die eenheid) herstel word. Die herstel van die eenheid in die Liggaam
is dus ‘n fase in ‘n baie groter proses waarmee God besig is. Hy sal die ander fases aankondig
soos die tyd ryp is. Christo, soos met Nehemia, is jou opdrag die herbou van die muur en nie net 'n deel
daarvan nie. Dit was vir Nehemia nodig om te kon in-zoom op dele van die herboude muur, maar dan moes hy
weer terugstaan en hou by die groot opdrag. Hy het self nie die verantwoordelikheid gekry vir 'n sekere
deel van die muur nie, want dit sou sy fokus wegneem van die geheelprentjie”.
- Neh. 4 – “Teenstand kan verwag word, maar God sal die strategie gee om daardeur te gaan en oorwinning
te behaal. Bly net in Sy teenwoordigheid”.
Die
profetiese woord gaan voort:
“Ek beleef ook dat die Here besig is om nog ander
manne en vroue op te rig met dieselfde opdrag”. Daar is tans ‘n groot behoefte aan ‘n opleidingsbediening
wat mense kan toerus met die oog op “die volle oorvloed” waarvoor Jesus Christus gekom het (Joh 10:10b).
Maar dan ook hulle uitdaag om hulle paradigmas te verander; waar “nuwe wyn-waarhede” aan mense bedien kan
word wat hulle letterlik leer nuut-dink in alle areas van hulle lewens soos die God van die Bybel ons uitdaag om te doen. Die naam, EKKLESIA-BEDIENINGSNETWERK
het in my hart opgekom. Ek is oortuig dat die Here tans spanne leiers saamvoeg uit alle dele van Sy Liggaam, om so 'n hegter netwerk te skep
wat mekaar se bediening moet aanvul om te verhoed dat "visse" wegkom.
In
die proses gaan mense blootgestel word aan die heerlikheid en die krag van die lewende God wat ons dien en hulle sal moet
bely: God is werklik hier tussen julle!"
Tot sover die profetiese woord.
Ek is oortuig
dat waar Christene Jesus Christus as lewende Verlosser en Here ontdek in die lig van die Woord, maar ook as Hoof van Sy Liggaam
en as Salwer met die Heilige Gees, verander hulle lewens. Daar leer hulle om God in waarheid en die Gees
te aanbid, en ontdek hulle dat Hy elkeen van ons wil toerus met die salwing van die Heilige Gees en wil deel maak van ‘n
nuwe geslag bedienaars wat Hy wil gebruik om ‘n verskil in hulle onderskeie gemeenskappe te maak.
Van die opleidingsmateriaal wat behandel moet word, is die basiese
“nuwe wyn-Bybelse waarhede”, toerusting in normale dissipelskap, selgroepbediening en –leierskap, asook
ander kursusse van onder andere die Veritas Kollege (die basiese oriëntasie in Ou en Nuwe Testament); University
of the Family se rykdom opleidingsmateriaal rondom huwelike en ‘n gesonde gesinslewe, asook Crown Financial Ministries
se materiaal rondom Bybelse rentmeesterskap; Cell Church International; Child Evangelism Fellowship; en Christian Life Training.
Hierdie opleiding sal plaasvind via seminare, kursusse, naweekkampe
en ander opleidingsgeleenthede plaaslik in geloofsgemeenskappe self, asook via internet- en satellietbediening.
Ek het reeds in Oktober 2003 met die spesifieke nuwe bediening begin
wat die Here vir my gegee het. Verskeie dorpe is reeds besoek en verskeie opleidingsgeleenthede is reeds
benut. Ek het ook reeds begin netwerk met
verskillende sleutelfigure in die massamedia met die oog op wat nou voorlê.
Die volgende fases wat nou voorlê is die volgende:
Fase 1 – Ons moes in Mei 2004 verskuif na die
nuwe vaste adres van ons bediening hier in Somerset-Wes.
Fase 2 –
Die aankoop van die nodige digitale harde- en sagteware; en die aankoop van ‘n nuwe voertuig met die oog op die besoek
van geloofsgemeenskappe in die verskillende dorpe en stede
Ons vertrou die Here ook in die
fase tussen fase 1 en 2 dat Hy self ‘n finansiële ondersteuningspan rondom ons sal skep wat dit vir ons moontlik
sal maak om sonder bekommernisse Sy werk in hierdie nuwe seisoen te doen. Die Here is die Opdraggewer en finale Bron in hierdie bediening.
Daarom vertrou ons Hom deurgaans vir alles wat ons nodig het. Ons is egter baie bewus dat Hy mense gebruik om ons – wat hulle
geestelik bedien - finansieel te bedien met wat die Here hulle gee. Ons besef ook dat die Here die boeke
wat ek skryf en ander projekte kan gebruik om kontantvloei te genereer.
Fase 3 – ‘n Permanente opleidingsentrum
Ek is oortuig dat soos verskillende
dele van die Liggaam van Jesus begin saamwerk en 'n hegter netwerk vorm, 'n deel van bestaande fasiliteite deel van die netwerk
gaan wees. In die proses glo ek sal daar bestaande
fasiliteite meer effektief benut kan word en sal daar ook meer permanente opleidingsfasiliteite beskikbaar gestel word wat
in samewerking met ander geloofsfamilies en bedieninge effektief benut kan word.
Ek is realisties genoeg om te weet harde werk en groot uitdagings lê vir ons voor. Ons leef
in ‘n stukkende wêreld vol stukkende mense waar die onsigbare vyand ook aan die werk is. Maar
een ding weet ons verseker: Hiervoor het God ons geroep. Dit is Sy visie vir ons.
En dit sal ons dra deur daardie moeilike tye waar ons moet vasbyt en moet aanhou in geloof sonder dat ons altyd met
ons gewone oë die gewenste resultate kan sien.
Daarom moet
ons doen wat ons moet doen met doelgerigtheid en blydskap tot verheerliking van Sy Naam!
Mag God in hierdie proses iets van Sy heerlikheid as lewende God en iets van Sy gesig aan ons en aan ‘n geestelik
honger wêreld wys! Omdat ek oor die jare bewus geword het dat die Here God verskillende Christengelowiges wil gebruik as medewerkers
in waarmee Hy besig is, en dat Hy ons elkeen beklee het met groot verantwoordelikhede en bronne tot jou beskikking, wil ek
jou uitnooi om saam met my oor hierdie roeping van my te bid en by die Here te hoor of jy nie ook een van Sy medewerker en
my finansiële vennote en aandeelhouers in hierdie aksie moet word nie. Indien wel, kontak my asb persoonlik.
My persoonlike besonderhede is soos volg:
Posadres:
Posbus 3114, Somerset-Wes, 7129
Woonadres: Willowstr 8, Westridge, Somerset-Wes
Tel:
012- 8510003
Sel: 0827702397